Knuppelontbyt by ‘n padstal PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 25 August 2015 06:42
Untitled Document

Vroeg uit die vere is ek dié Vrydag, en redelik vroeg is die nodige draaie gedoen. In Kaalfontein se kontrei betrek ‘n hongerigheid my. Dis knap na nege en my binnewerke stuur ‘n boodskap na my brein dat die bietjie brandstof van voordag se koffie-en-beskuit, nou gevaarlik laag loop.

Ek dwing die Moembaai Taxi se neus by Ouwerf Padstal se afdraai in. Op die padskouer het ‘n swartbord gesê hier kan ek ontbyt kry. Dit het ook melding gemaak van allerlei ander lekkernye, maar vir nou sal ontbyt voldoende wees, dankie.


‘n Selfgeboude knuppelontbyt by Ouwerf

Die ruim padstalgebou is binne volgepak met tuisgedoende produkte. Oral kan jy tuisgebak, tuisgebottel, en tuisgehang (biltong en droëwors) sien. ‘n Paar netjiese tafels vir aansit-eet is in die middel staangemaak. Dis ‘n vriendelike plekkie.

Dis net ek en die vriendelike werfhond in die plek. Dan gaan die kombuisdeur oop en die plek se sjef kom gevoorskoot binne. Ek vra en hy antwoord; Ja, natuurlik kan ek ontbyt bestel, maar wil ek nie dalk koffie hê nie? Ek wil.

Sjef gee ‘n spyskaart aan en stel voor ek bestel die ‘vinnige’ ontbyt van roereiers en roosterbrode en dan voeg ek na wense daarby uit die keuses wat die Ouwerf bied.

Ek bekyk die keuses en ek is erg beïndruk. Die ‘vinnige’ ontbyt van roereiers en twee snye geroosterde boerbrood kos R25. Jy kan jou eie ontbyt bou deur daarby te voeg: Eier – R3, Roosterbrood – R3, Spek – R15, Kaaswors – R13, Boerewors – R15, Gegeurde maalvleis – R15, Gebraaide sampioene – R12, Skyfies – R10, Pap en sous – R12, Tuisgemaakte konfyt – R6, Gerasperde kaas – R9.
Opvallend is die ‘Plaas Kontinentale ontbyt.’ Teen R40 kan jy en jou gesin, of ‘n paar vrinde aansit vir ‘n hele boerbrood met plaasbotter, twee soorte konfyt en kaas.


Metgesel se wegneem-pizza

Ek is ewe beïndruk met die keurige Afrikaans – soos gepas vir ‘n plek met ‘Ouwerf’ as naam, en dit is ook nie die einde van jou keuses nie. Onder die hofie ‘Ander’ kan jy bestel: Melkkos met snysels – R25, Pap en kaiings – R38, Pap en wors – R40, Pastei met slaai of skyfies – R30 (tuisgemaak). Jy kan ook ‘Gesondheid muffins/ scones’ bestel en dis al plek waar die Afrikaanse kolwyntjie en botterbroodjie swig voor die Rooitaal. Dit kos R25.

Die ‘ete van die dag’ (elke dag iets anders) en ook die kerrie en rys kos R49. Die plek het ook ‘n houtbrand-oond waarin hulle pizza bou en jy kan ‘n verskeidenheid vetkoekgeregte bestel.


Aansitplek in die padstal

My ontbytbesluit was boerewors, spek en sampioene saam met die roereiers en roosterbrood. Die hoop spek was genoeg vir drie ontbyte, die boerewors was geurig en lekker en die sampioene net reg gaargebraai. Maar dis die geroosterde boerbrood met plaasbotter en heelvyekonfyt wat die spreekwoordelike koek sou kon vat. Ek is tevrede en knuppel huis toe.

Ek is sonder Metgesel by Ouwerf, maar ek bestel ‘n groot pizza teen R74 vir saamneem – net vir haar. Jy kan Metgesel in ‘n wip vang met ‘n pizza. Later sou sy gaande raak oor Ouwerf se vegetariese pizza-gedoente. Volgens haar ‘knof’ dit op die koop toe net mooi op die regte skaal.

Jy kan die mense van Ouwerf bel by 082-500-6897.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online