Nabootser van formaat PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 25 August 2015 06:36
Untitled Document

Al ooit gewonder hoekom kuikens, wat in ander voëls se nessies uitbroei, nie soos hulle pleegouers sing nie? As dit so was sou die bekende piet-my-vrou of die-die-diederik roep nooit in ons kontrei weergalm het nie.

Die gewone paradysvink leer egter van kleins af hoe om sy pleegouers na te boots, en wanneer hy eendag groot is, lok hy wyfies met dié nagemaakte liedjies. Blykbaar verkies paradysvink-wyfies die roep van pleegkinders wat deur dieselfde soort pleegouer as sy grootgemaak is.

Die gewone paradysvink, Vidua paradisaea, is ‘n broeiparasiet en lê eiers in die nessies van die gewone melba, Pytilia melba, maar kan ook op die koningblousysie parasiteer. Die wyfie is stillerig – dit is die mannetjie wat die pleegouers se geluid naboots.

Die mannetjies kan glo ander voëls ook naboots, maar verkies om dié wie se geluid hulle die beste kan naboots, te parasiteer. Interessant genoeg sal mannetjies ook vir wyfies van ander spesies vertonings hou. Verbastering met staalblouvinkies, Vidua chalybeata, is al opgeteken en in al dié gevalle kon die mannetjie ook soos ‘n staalblouvinkie sing.


Die wyfie
Foto: Wikipedia

Kuikens
Kuikens in pleegouers se neste leer hoe om hulle snawels presies net soos die ander kuikens oop te maak en op dieselfde manier vir kos te bedel. Die gewone paradysvink vernietig nie die pleegouers se eiers nie. Hulle voeg bloot een tot drie wit eiers in die nessie by. Tog is die paradysvink-kuikens gewoonlik groter as die ander kuikens en het beslis ‘n voordeel as dit by voertyd kom.

Die poliginiese paradysvink sal met 10 tot 12 wyfies paar. Hy verdedig ‘n gebied van ongeveer drie hektaar groot en elke wyfie sal op haar eie na ‘n pleegouer-nessie gaan soek.

Die wyfie hou die potensiële pleegouer vir ten minste 15 minute dop voor sy na die nessie toe sal vlieg om te gaan ondersoek instel. Die eiers broei na ongeveer 11 tot 13 dae uit en die paradysvink-kuikens verlaat die nessie ná 16 dae saam met die ander kuikens. Hulle is na omtrent 27 tot 30 dae onafhanklik.


Die gewone paradysvink parasiteer die gewone melba
Foto: Wikipedia

Veredos
Die broeiseisoen piek van Februarie tot Mei en dit is in dié tyd wat die mannetjie sy oordadige stert, van gemiddeld 23 cm lank, groei. Dié vinkies se naam verwys na dié veredos wat gebruik word om wyfies in die broeiseisoen te betower.

Die broeiende mannetjie se bodele en kop is swart, met ‘n geel agterkraag en pens en ’n kastaiingbruin bors. Die verlengde stertvere is styf, afgeboë en spits af tot ‘n punt.

Die nie-broeiende mannetjie, wyfie en onvolwassenes is bo-op grysbruin met ‘n naaswit kop wat swart gestreep is. Die voëltjies is 15 cm lank, weeg ongeveer 21 gram en hulle snawels is swart.
In die broeiseisoen bly die gewone paradysvink in groot swerms wat snags in bome slaap. Hulle verkies gemengde boswêreld, veral doringveld.

Paradysvinke vreet grootliks grassade op oop stukke grond, soos voetpaadjies, padreserwes en naby veekrale en water, en vul hulle dieet aan met insekte soos erdwurms, vlieglarwes, spinnekoppe, termiete en motte.



‘n Paradysvink-mannetjie in sy broeivere
Foto: Marco Valentini

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online