Die Bronnie se koffietafel-boek, ‘Toeka se Dae – Die Karakters’, gaan eersdaags die lig sien. Ons het reeds ‘n hele aantal name op die waglys vir dié boek en jy is welkom om jou naam by te voeg.
Die boek is gebaseer op die ‘Toeka se dae’ afdeling in Die Bronberger en fokus op die karakters waaroor ons die afgelope bykans 13 jaar skryf. Onthou jy die gruverhale oor die spookhuis? Wonder jy nie oor die Erasmusse wat daar gebly het nie? Of wat van die magnate en mynbase wat deur die brandewynplaas oos van Pretoria gelok is?
Dié boek bevat verhale oor karakters soos siener, skrywer en baas-spioen, Johanna Brandt; die Boere ‘James Bond’ wat die Russe gevra het om die Britte te verdryf; Vreeslose Drienie; die kleurvolle Cowboy-kolonel wat die Iere teen die Engelse gelei het; en die sjarmante spioen wat Kitchener gesink het.
Ons skryf oor waaghalse, grootpraters en vroue se heldedade in veldslae, maar die boek gaan nie naastenby net oor die oorlog nie. Ons vertel verhale oor ou Pretoria se eerste inwoners, soos Ou Moes, die legendariese boemelaar; die diep spore wat Lang Piet in dié dorp getrap het; en die kleurvolle karakters wat in ou Pretoria se eerste kuierplek te siene was.
Dan is daar natuurlik ook bekende karakters waaroor ons ‘n paar onbekende feite vertel, soos die staaltjies oor ongekunstelde Ouma Isie; die lief en leed van oom Paul se kleindogters; die Pretoriase graf van Rider Haggard se liefdeskind; geheime oor Vincent Van Gogh se broer se selfmoord; die beeldhouer wie se verlore dekade aspris duister gehou is; en die feit dat Oerder eers moes spoorwegpaaltjies verf.
Ons skatting is dat ‘Toeka se Dae – Die Karakters’ binne die volgende twee maande teen R295, posgeld uitgesluit, beskikbaar gaan wees.
Daar word ‘n beperkte hoeveelheid koffietafel-boeke gedruk, so dit sal wys wees om jou naam by die waglys te voeg. Stuur jou naam en kontakbesonderhede na e-pos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
; faks: 086-650-7860; of skakel
012-734-0522. |