Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 27 July 2015 23:50
Untitled Document

Angie Kleijn

Agter die oudste oorlewende kommersiële gebou in Pretoria, skuil ‘n storie van ‘n skatryk Skot wat in 1887 in Brittanje as King Kynoch beskryf is. Dié Skot, wat ook ‘n Britse parlementslid was, het in 1884 ‘n wapenkontrak met die Zuid-Afrikaansche Republiek onderteken.


George Kynoch
Foto: Staffs Home Guard

George Kynoch se maatskappy is as die grootste ammunisievervaardiger in 19e eeuse Brittanje beskryf. Hy het ‘n wapenwinkel in Kerkstraat oopgemaak, en direkteur en aandeelhouer van silwermyne rondom Pretoria geword.


Die spotprent lees: “Fun for King Kinoch. Georgius Rex: Where’s your army, little man?”
Foto: ‘The Owl’, July 1, 1887

George is egter ver van welaf in Johannesburg oorlede en het sy verblyf in Suid-Afrika as ‘n self-opgelegde ballingskap beskryf. Hoekom hy so gesê het, is wat ons wou uitvind.


Van Vooren en Oerder se 1889 kaart wys dat erf 337 in twee dele verdeel is en dat die Kynoch-gebou op die oostelike helfte is. Hier is die hoekerf, nommer 338, nog leeg
Foto: Rosa Swanepoel-versameling

Gebore
George is op 22 Augustus 1834 in Peterhead, Aberdeenshire in Skotland as die jongste seun van John Kynoch, ‘n vakman kleremaker, gebore. Hy het in nederige omstandighede grootgeword en het die plaaslike nasionale skool bygewoon. Ná skool het hy eers vir ‘n versekeringsmaatskappy in Glasgow gewerk en daarna as ’n bankklerk in Worcester. Na ‘n rukkie is hy na ‘n groter bank in Birmingham, waar hy as ‘n grootboekklerk aangestel is.


‘n Latere foto van die Kynoch-gebou. Die fotografie-ateljee oorkant die pad het vir die nuwe markgebou plek gemaak
Foto: Rosa Swanepoel-versameling

In 1856 het George by Pursall and Phillips, ammunisievervaardigers in Whittallstraat, Birmingham, begin werk. Dié klein fabriek was ‘n ernstige gevaar vir die dig bevolkte, omliggende gebied en daar was verskeie ongelukke. Die fabriek is in 1859 deur ‘n ontploffing, wat nege van die 70 werkers se dood veroorsaak het, vernietig.


Die Kynoch-gebou ná 1882. Die groot boom links op die voorgrond staan voor die huis waar president Burgers eers gewoon het
Foto: Rosa Swanepoel-versameling

George se ambisieuse aard was vroeg reeds duidelik en hy het in September 1861 sy eie ammunisie-onderneming begin op ‘n eiendom, wat hy in Witton, naby Handsworth, drie myl buite Birmingham aangekoop het. Sy fabriek, Kynoch and Co, is in 1862 voltooi en het in die volksmond as Lion Works bekend gestaan, vernoem na die leeu-figuur bokant die hoofingang.


Willem Eduard Bok, ZAR staatsekretaris van 1880 tot 1889, was een van die ondertekenaars van die kontrak wat George Kynoch met die ZAR regering gehad het
Foto: Wikipedia

Kommandant-generaal Petrus Jacobus Joubert het die wapenkontrak op 21 Februarie 1884 as waarnemende staatspresident onderteken
Foto: Wikipedia
.

Uitbrei
George het aanhou uitbrei en allerhande patente om ammunisie te vervaardig, geregistreer. Hy het nog ‘n fabriek begin om die koper waarmee hy sy patrone gemaak het, te verwerk. Ná ‘n ruk het George takke en agente in verskeie lande gehad.

Hy is op 3 Februarie 1863 met Helen, die dogter van Samuel Birley, ‘n welaf juwelier van Edgbaston, getroud.


Die gebou soos hy vandag lyk met Sammy Marks-plein links
Foto: Johan Swart

Teen 1882 het George ook ‘n wapenfabriek, ‘n lampfabriek en drukkery besit. Die Kynoch maatskappy het later ook fietse vervaardig.

George het egter kapitaal vir sy groeiende ondernemings nodig gehad en het besluit om ‘n maatskappy met beperkte aanspreeklikheid te stig. In 1884 het hy G Kynoch and Co, met ses direkteure, gestig. George was die besturende direkteur en het ‘n salaris van £500 ‘n jaar en tien persent van die wins gekry. Hy het sy oorspronklike maatskappy vir £110 000 aan dié nuwe maatskappy verkoop.


Dié foto is voor 1903 geneem. Die geboue langs die Kynoch-gebou is later afgebreek om die Marksgebou daar op te rig
Foto: Dunston 1975:154

Suid-Afrika
George het sakebelange in Suid-Afrika gehad, insluitende ‘n vennootskap met Thomas Barnsley van 1884 tot 1885, en ‘n agentskap in Port Elizabeth met takke in Kimberley en Pretoria.

Op 21 Februarie 1884 het hy ‘n kontrak met die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) se regering gesluit. Dié kontrak was ná die Eerste Vryheidsoorlog, wat van 20 Desember 1880 tot 23 Maart 1881 geduur het. George het die monopolie gekry om wapens, ammunisie, swaarde, visiere en ander militêre toerusting in te voer. Die kontrak is namens die regering deur staatsekretaris Willem Eduard Bok en waarnemende staatspresident, Petrus Jacobus (Piet) Joubert, onderteken. Paul Kruger was met die derde deputasie in Europa. Thomas Barnsley en Richard R Hollins het die kontrak namens Kynoch onderteken.


Die Kynoch-rewolwer in 1886
Foto: Scientific American Supplement, No. 530, February 27, 1886

George het ‘n winkel in Pretoria nodig gehad en rondom 1884 het hy sy ammunisie- en wapenhandelaarskap in ‘n dubbelverdiepinggebou in Kerkstraat-oos gevestig en die gebou na homself vernoem.


Kynoch 0,303" ‘blanks’. Almal is ‘Kynoch’ gemerk, maar elkeen het ook ‘n ander naam by: Vickers, Bren en Lewis
Foto: International Ammunition Association

In sy boek, ‘Pretoria 125’, skryf Hannes Meiring dat dié gebou, wat as een van die oudste oorblywende kommersiële geboue in Pretoria beskou word, waarskynlik tussen 1876 en 1884 opgerig is. Die gebou is vandag nog oorkant die Staatsteater en is tipies van die Oos-Kaapse platdakstyl.


‘n Pakkie wat Kynoch 303 patrone bevat het
Foto: Zone Ballistic

‘n Pakkie Kynoch 303 Mark VII patrone
Foto: Zone Ballistic

‘n Kynoch-verpakking wat lees: “Perfectly gas-tight cartridges”
Foto: eBay

Agteruitgang
George se nuwe maatskappy, G Kynoch and Co, was egter glad nie ‘n sukses nie en het ernstig begin agteruitgaan. Daar was beskuldigings dat dié agteruitgang begin het omdat George te veel ysters in die vuur gehad het. Hy het in 1886 die voorsitter van die Aston Villa Football-klub geword en is as konserwatiewe lid van die Britse parlement vir Aston Manor verkies.

In 1887 was die verhouding tussen George en die ander direkteure op breekpunt. Gehalte-standaarde in die fabriek het gedaal met ‘n dienooreenkomstige uitwerking op kostes en die maatskappy se welstand. Regeringsinspekteurs het ‘n miljoen patrone afgekeur en die direkteure het George vir slegte toesighouding blameer.


‘n Advertensie vir Kynoch fietse
Foto: eBay

In 1888 was die maatskappy so te sê bankrot en George is gedwing om as besturende direkteur te bedank. Hulle het hom gevra om ‘n brief te skryf waarin hy sê dat hy weens slegte gesondheid bedank en in ‘n hofsaak is die £14 000, wat hy aan die maatskappy geskuld het, afgeskryf.

Arthur Chamberlain is as nuwe voorsitter aangestel en die maatskappy se naam is later na ICI Limited verander.


Kynoch se 1898 masjiengeweer-katalogus
Foto: eBay

Silwer
In die ZAR het dinge egter anders verloop. In 1888 het George ‘n tak in Johannesburg gehad en agente in verskeie dorpe in die ZAR. Die winkel in Pretoria het voortbestaan en in 1889 het die personeel van George Kynoch uit C Simmons, algemene bestuurder, Daniel Edge, wapensmid en masjinis, en
SJ Dold, klerk, bestaan.


‘n Advertensie vir G Kynoch & Co Limited in 1884
Foto: Grace’s Guide

‘n Kynoch-advertensie vir rollaers
Foto: Grace’s Guide

Volgens Graham Walter Reeks se proefskrif, ‘A history of silver mining in the greater Pretoria region: 1885-1999’, het George in 1888 direkteur van die Nevada Silver and Smelting Company Ltd op Mooiplaats 524 JQ in die Pretoria-wes gebied geword. Dié maatskappy het van 1888 tot 1892 bestaan.


Die monument wat vorige werkers en sy kiesafdeling in Brittanje op George se graf
opgerig het
Foto: John McKibben

George Kynoch se grafsteen in die Braamfontein-begraafplaas
Foto: John McKibben
.

George was ook ‘n aandeelhouer van die Transvaal Silver Mines Ltd op Dwarsfontein 209 IR in die suid-ooste van Pretoria. Dié myn het van 1890 tot 1895 bestaan en George was op die eerste raad van direkteure saam met mense soos Barney Barnato, George Farrar, W Ross, HC Trull, Samuel W Jameson en George A Tilney.


George Kynoch in 1886
Foto: eBay

George het in 1890 as hoof van sy Suid-Afrikaanse ondernemings bedank, waarskynlik weens swak gesondheid. Hy het hom in Johannesburg gevestig, waar hy op 28 February 1891, blykbaar glad nie meer welaf nie, oorlede is. Hy is in die Braamfontein-begraafplaas begrawe.

George het sy tyd in Suid-Afrika as selfopgelegde ballingskap beskryf, maar dit lyk of sy vorige werkers en sy kiesafdeling in Brittanje hom nie vir die agteruitgang van G Kynoch and Co blameer het nie. Hulle het in Maart 1894 ‘n monument op sy graf opgerig.


‘n Advertensie vir Kynoch Limited, Lion Works, Witton, Birmingham
Foto: eBay

 

© 2024 Die/The Bronberger