Uitspanning op ‘n Zwavelpoortse pretplaas PDF Print E-mail
News - Vreethans
Monday, 27 July 2015 21:49
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Aan die voet van die Bronberg se Elliott-rif in Zwavelpoort sit ‘n pragtige perdeplot, donkiejare al. Deesdae huisves Graceland ook ‘n eiesoortige kuierplek en ons besluit op ‘n mooi Sondag in Julie om daar te loop draai.

Ons het nie bespreek nie en ek sou dié eenvoudige aksietjie ten sterkste aanbeveel, sou jy besluit op ‘n Sondagbesoek aan Café One 9 Ate. Die plek se naam is verleen aan die hoewe se nommer.

Dit sou ook raadsaam wees, as jy bespreek, om vas te stel of enige groot groepe op die dag van jou keuse ‘n funksie by Café One 9 Ate hou. As dit wel die geval is, moenie ‘n Sondagmiddagslapie beplan nie.


Metgesel se allemintige ‘Rooster’

Voor ek iets verder sê, wil ek dit net duidelik stel: Ons het lekker gekuier in die oopte van One 9 Ate en ons het lekker geëet ook. Dit is ‘n baie mooi plek en dit is baie mooi ingerig ook. Veral is dit ‘n kinderparadys waar die kortvolk vir ure met gesonde, opelug-plaasvermaak besig gehou kan word.
Met die intrapslag vra ‘n vriendelike vrou of ons bespreek het en dat geen onderdak plek beskikbaar is nie. ‘Ons is vol,’ sê sy.

Ons neem plaas by ‘n buitetafeltjie, wat nou net ‘oopgegaan’ het en bestel koffie. Die wintersonnetjie slaag sy warmmaaktoets en die Bronberg keer ‘n sterk wind uit die weste af. Jy kan maar sê dis windstil.

Ons trek die truie uit en kyk hoe die kleingoed voor ons op die ruim grasperke, op klouterrame, sandputte, trekkers en ander verbeeldingryke speelgoed en -plekke baljaar. Elke dan en wan snork ‘n koeitreintjie met ‘n trekkertjie vooraan en waentjies met koeiname en koppe vooraan en opgewonde kindertjies binne-in, verby.


Die ingang

Die koffie daag (uiteindelik) op en dis die naaste aan my oorle ouma se stoofstaan-moerkoffie wat ek nog geproe het. Heerlik.

Die spyskaarte is op weggooipapier gedruk met blokkies voor elke gereg, wat jy dan met ‘n pen ‘aftik’ om aan kelner en kombuis duidelik te maak wat jy bestel. Net in Engels.

Jy kan tot elfuur soggens ontbyt eet by One 9 Ate. Die spyskaart bied vier keuses wat ‘n Italiaanse omelette met frikkadelle (meatballs), tamatie ‘sugo’ saam met bruschetta insluit. Dit kos R75. Die eiers van die spek-en-eier-ontbyt word in ‘n gekruide tamatiesmoor gaargedoen.

Met die groot persentasie kortvolk-besoekers is dit net logies dat die spyskaart  ‘n afdeling vir ‘kiddies’ het. Die spesiale kleingoedgeregte kos almal R40.

Burgers van bees of hoender weeg teen R75 in en word op tuisgebakte brood volgens die sjef se geheime resep met groente-skyfies bedien.


One 9 Ate se kuierstoep

Die vier slaaikeuses is volwaardige etes op hulle eie en het elk proteïene van uiteenlopende aard in.

Jy moet jou nie laat mislei deur die opskrif ‘Light Lunch’ op die spyskaart nie en veral nie deur die hofie wat sê ‘sandwiches’ nie. Metgesel het uit die aantal vindingryke keuses die ‘Rooster’ bestel en dit wat heelwat later voor haar neergesit is, het ons met verwondering vervul.

Dis ‘n gulhartige porsie verslaaide hoenderrepe tussen twee baie stewige snye ‘fougasse.’ Ja toemaar, ek het ook nie geweet nie, maar die naaste beskrywing waaraan ek kan dink is dat dit soos ‘n goeie, outydse kors vir wildspastei is. Die deeglikheid is lig en dis baie lekker. ‘n Goeie porsie dungesnyde aartappel- en groenteskyfies kom saam met die ‘Rooster-broodjie.’ Dit kos, soos die meeste ander dergelike gedoentes, R75. Die een met forel kos R85.

Ek sien op ‘n swartbord teen die muur een van die spesiale disse van die dag is gammon met pietersielie-aartappels en vir my voel ‘n gerookte gereg van vark na aan ‘n Sondagmiddagmaal. Dit kos R95 en ek bestel en ons wag.


Die koeitrein knor verby

Die gawe kelner verduidelik later dat die rede vir die lankwag verskuil lê in die groep van ‘n veertigstuks mense wat eers bedien moes word. Die vark-en-aartappels was die wag werd en ek het daarvan huis toe gevat vir opvolg-genot.

Café One 9 Ate is oop van 9 vm tot 5 nm op Donderdag tot Sondag en toe van Maandag tot Woensdag. Alkoholiese drank word nie bedien nie. Geen kontant nie, net bankkaartbetaling. Bel hulle by 083-251-2155 om te bespreek. Jy en veral jou kinders of kleinkinders, sal nie spyt wees nie. 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online