Keer só dat kaggel huisbrand bring PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 27 July 2015 21:47
Untitled Document

Winter is brandseisoen in ons kontrei. Brandgevaar kom egter nie altyd van buite nie. Met gereelde beurtkrag maak al hoe meer gesinne kaggelvure in dié koue tyd. Min mense besef hoe maklik ’n brand in skoorstene, wat nie gereeld gevee word nie, kan begin.

In Europese lande soos Duitsland is huiseienaars wetlik verplig om hulle skoorstene elke drie maande skoon te maak. In Frankryk moet jy jaarliks jou skoorsteen deur ‘n skoorsteenveër, wat vir jou ’n amptelike sertifikaat gee, laat skoonmaak, anders betaal die versekering nie as ’n brand sou uitbreek nie.

Oorblyfsels van voëlneste wat kan vonk sodra jy die kaggel aansteek is nie die grootste gevaar in ‘n skoorsteen nie. Aangepakte roet en krake kan maklik na ‘n brand bo-op jou plafon lei.

‘n Teken dat jou kaggel gevee moet word, is as hy nie goed trek nie. As jy nie ‘n professionele skoorsteenveër in diens wil neem nie, is daar dinge wat selfs huiseienaars met hoogtevrees kan doen om seker te maak hulle skoorstene is skoon en heel.


Maak seker jou kaggelvuur is veilig

Self
Jy hoef nie noodwendig op die dak te klim om in die skoorsteen af te kyk nie. Maak seker die as is koud en haal alles uit die bodem van die kaggel. Jy kan selfs ‘n stofsuier gebruik om die laaste koue as uit te kry. Sit ‘n platgemaakte kartondoos of ‘n ou mat binne-in die kaggel. Sit ‘n veiligheidsbril, soos wat jy vir sweiswerk sal gebruik, of ‘n duikbril op en vat jou flits saam. Lê dan plat op jou rug en kyk in die skoorsteen op.

Sien jy enige gate of krake in die skoorsteen se wande? Is die sement los of krummelrig? Kyk ook of jy enige obstruksies soos voëlneste of rot- en muisneste sien.

Gebruik jou flits om te kyk of jy enige swart, bruin of grys aanpaksels aan die binnekant van die skoorsteen sien. Sulke aanpaksels sal roet en as wees wat maklik aan die brand kan slaan en ‘n vuur kan veroorsaak.


‘n Skoorsteenbrand

Roet
Roet kan ‘n bros kors vorm wat afdop of kan ‘n taai, drupperige teer-afsetting wees en dit kan selfs blinkerig en kliphard wees. Al dié vorms van roet kan in een skoorsteen voorkom en hulle is almal hoogs vlambaar.

Faktore wat die opbou van roet aanmoedig is beperkte lugtoevoer, nat hout en ‘n koeler skoorsteentemperatuur.

Volgens die kenners kan skoorsteenbrande verhoed word deur die volgende stappe: Gebruik net droë hout om vuur te maak; bou kleiner, warmer vure wat minder rook veroorsaak; moet nooit karton, papier of plastiek in jou kaggel verbrand nie; installeer ‘n skoorsteenpyp-termometer; en maak jou skoorsteen gereeld skoon.


Aangepakte roet en as kan ‘n skoorsteenbrand veroorsaak

Verkrummeling
Tradisionele kleiteëlpype in ‘n skoorsteen gaan oor die jare agteruit. Klein deeltjies van die teëls of bakstene breek af en verkrummel as ‘n gevolg van vog. Dit veroorsaak dat die skoorsteenpyp se wande dunner word, maar die stukkies bou ook binne-in die skoorsteen op en kan hom blokkeer. ‘n Skoorsteen wat nie behoorlik kan trek nie maak dat koolstofmonoksied en dodelike dampe in die huis inkom.

Die oplossing is baie keer om ‘n nuwe vlekvrye staal pyp binne-in die skoorsteen te laat insit. Dit maak ook dat daar ‘n ekstra laag beskerming tussen die binnekant van die skoorsteen en die raamwerk van jou huis is.

Baie van die kaggels wat by winkels verkoop word het hulle eie skoorstene wat binne die bestaande skoorsteen ingebou word. Die meeste ouer skoorstene is nog met kleiteëls uitgevoer.


Lekkasies in die skoorsteen kan ‘n brand bo-op jou plafon veroorsaak

Bou
As jy van nuuts af ‘n kaggel wil laat inbou, moet die skoorsteen se mure minstens 220 mm dik wees om te verseker dat die buitekant van die skoorsteen koel bly wanneer ’n vuur in die kaggel brand.
’n Skoorsteen moet minstens ’n meter hoër as die dak wees. Dit moet ook met ’n sif van vlekvrye staal toegerus wees om vonke wat opskiet te vang voor dit op die dak beland. ‘n Skoorsteenkap hou diere, reënwater en blare uit die skoorsteen.

Jy kan kaggels laat installeer wat met gas of hout werk of wat antrasietkole gebruik. Antrasiet-kaggels brand baie skoner as dié waarin hout gebruik word en hoogstens ‘n paar roesblare bou in die skoorsteen se metaalpyp op.

Selfs gaskaggels moet 'n skoorsteen hê, omdat die uitlaatgasse baie gevaarlik kan wees indien dit teruggestoot word. Baie mense is skrikkerig vir gaskaggels omdat die vlammetjies kan uitgaan en die gas 'n mens kan oorval. Maak seker jy koop ’n kaggel wat ’n sensor het wat meet as die suurstof in die vertrek uitgeput raak en die gasvloei dan staak.

Die soort skoorsteen wat jy nodig het, hang af van die soort kaggel. Gaskaggels gebruik ‘n ander soort ventilasie as houtkaggels. Houtkaggels brand ook baie warmer as gaskaggels.


Jy kan van onder af in jou skoorsteen opkyk om skade vroegtydig raak te sien

Veilig
Dit is belangrik om ‘n vuurskerm te gebruik omdat daar dikwels vonke uit ‘n houtvuur spat wat moontlik ‘n brand kan veroorsaak. Oppas vir kunsmatige blokke hout, of produkte met ‘n petroleum basis, wat dampe afskei.

Moet nooit ‘n kaggel onbewaak laat nie en maak seker dat alle vlamme behoorlik geblus is voor jy gaan slaap. Maak seker dat die vlamme buite bereik van kinders en troeteldiere is en moenie te naby aan die kaggelvuur sit nie, omdat die meeste klere deesdae van sintetiese, vlambare materiaal gemaak word. Moet ook nie komberse en kussings reg voor die kaggel neersit nie. 

Moenie water gebruik om ‘n kaggelvuur te blus nie, tensy dit ‘n krisis is. Dit kom as roet bo uit die skoorsteen en besoedel alles op pad boontoe.


‘n Borsel om die skoorsteen mee skoon te maak

Skoonmaak
Wag tot jou kaggel yskoud is voor jy hom skoonmaak. Strooi klam teeblare op die as en dit sal minder stof veroorsaak met die uitborsel-proses. Gebruik gelyke dele asyn en water om die kaggel skoon te maak.

Voor jy begin om die skoorsteen skoon te maak, moet jy eers stoflakens om die kaggel pak. Hang een van die kaggelrak af om te keer dat te veel van die roet in die vertrek inkom. Skuif banke en stoele wat met materiaal oorgetrek is, en groot matte uit die vertrek en haal die gordyne af.

Sit ’n sak in die kaggel om meeste van die roet op te vang en sorg dat ’n venster oop is vir vars lug. Dit is nodig om ’n gesigmasker aan te hê, of minstens deur ‘n lap asem te haal.

Die maklikste manier om moeilik bereikbare plekke in die skoorsteen by te kom, is met pale van een meter lank wat aaneenskakel. Gebruik ‘n groot, ronde borsel, soortgelyk aan dié wat vir toilette gebruik word. Spesiale borsels is by vuurherdwinkels beskikbaar.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online