Lankstaan voor die perd oor sy oupa se kopseer PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Monday, 27 July 2015 21:44
Untitled Document

Dit was vir hom ‘n wonderlike ervaring om as opgeskote kannetjie saam met sy oupa Mossie dorp toe te gaan, het oom Gert Potgieter vertel.

Die trêppie is vroegoggend op ‘n Vrydag ingespan en dan is die tog van Kromkloof na Nylstroom aangepak. Oupa Mossie, uitgevat in sy kisklere, moes dorpsake gaan doen en die jonge Gert is saam om hekke oop te maak en om voor die perd te staan.

As Oupa sy sake by die poskantoor of by die koöperasie doen, was die gestaan voor die perd sommer gou verby, het oom Gert Potgieter vertel. By Purra se winkel het hy effe langer gestaan. Hier het oupa Mossie die nodige negosieware aangekoop en gewoonlik ‘n gesprek met ‘n boer of twee aangeknoop wat ook op hulle dorpsbesoeke was.

Soms het hulle by die pastorie ‘n draai gemaak waar ‘n karmenaadjie afgegee is en dan was die voor-die-perd-staan ook meestal nie te lank nie. Die lankstaansessies sou eers later kom.

As Oupa sy sake afgehandel het, het hy verskriklik dors geword, het oom Gert Potgieter vertel. Dan het oupa Mossie die trêppie voor die King’s Hotel staangemaak om te gaan ‘tee’ drink. Net ooms is toegelaat in dié teedrinkplek, het oom Gert gesê. En dis hier waar die eerste lankstaan voor die perd gebeur het.

Maar dit was die moeite werd, het oom Gert vertel, want ná ‘n rukkie se staan het ‘n spoggerige kelner in ‘n rooi baadjie en fes met ‘n tossel aan ‘n toutjie windskeef op sy kop, opgedaag. Op die een plathand het hy ‘n Mellowood-blikskinkbord gebalanseer en op die skinkbord was ‘n rooi ‘limmenyt’ – die heel lekkerste koeldrank wat hy in sy lewe gedrink het, het oom Gert Potgieter vertel.

Hy het destyds gewonder hoe dit dan is dat oupa Mossie op die pad huis toe altyd presies op dieselfde plek ‘n vreeslike kopseer gekry het. Die kopsere is seker veroorsaak deur die dag se sakedoen en die teedrinkery op die dorp, het die opgeskote Gertjie destyds gedink.

Op die draai net voor die drif by Hessie se Water het Oupa gereeld soos klokslag dié vreeslike kopsere gekry, het oom Gert vertel. Maar soos die geluk dit wou hê, is dit ook net daar waar die afdraai na die weduwee Stiena Nel se opstal was.

Dan het hulle afgedraai sodat Oupa ‘n kopseerpilletjie by die tant Stiena kon kry. Daarna moes oupa Mossie altyd ‘n bietjie gaan lê totdat sy kopseer beter was.

En dit was daar voor die weduwee Stiena Nel se opstalstoep waar hy die heel langste voor die perd moes staan, het oom Gert Potgieter gesê.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online