Stekelrige struik vat vlam in die winter PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 27 July 2015 21:37
Untitled Document

Of jy nou wil mandjies weef, ‘n sterk tou vleg of ‘n tradisionele langsteelpyp maak, jy kan dit alles doen met ‘n struik wat gebruik is om babas teen heksery te beskerm.

Die vlamdoring word in doepas gebruik om ‘n wye verskeidenheid kwale te behandel: van hardlywigheid, buikpyn, sifilis, pitswere, wurm infeksies en wonde tot hoofpyn, tandpyn en lugweginfeksie.

Die vlamdoring, Acacia ataxacantha, kry die ‘vlam’-gedeelte van sy naam van sy treffende diep-rooi saadpeule wat op hulle mooiste is in die winter. Die woord ‘ataxacantha’ kom van die Griekse woorde ‘taxis’, wat ‘rangskikking’ beteken en ‘akantha’, wat na die dorings op sy stam en lote verwys.


Hout

Heining
Dié plant word ook die rank wag-‘n-bietjie genoem omdat hy ‘n ondeurdringbare veiligheidsheining kan vorm. Hy is ‘n stekelrige struik met baie stamme wat drie tot vyf meter hoog kan word. Hy kan ook hoër in ander bome op rank met stamme wat tot 15 meter lank kan word. As die vlamdoring alleen staan kan hy ‘n kleinerige boompie van tot 10 meter hoog met ‘n stamdeursnee van 20-30 cm word.
Die vlamdoring kom gewoonlik naby waterlope en bergklowe voor, maar in hoër reënval gebiede kan hy deel van die gewone boswêreld wees. In oop stroke kan die vlamdoring in ’n bos ontaard.

Dié onnette struik se bas is gryserig, wat partykeer ‘n bruin skynsel toon, met growwe afskilfering. Die jong stamme is relatief glad. Sy saamgestelde blare bestaan uit baie digte, donkergroen blaartjies en nuwe groei is soms perserig.


‘n Tak met dorings

Blom
Sy opvallende roomkleurige blomme word van Januarie tot April in trosse aan die eindpunte van takke gedra. Hulle het ‘n soet geur en lok voëls en insekte.

Die semi-deurskynende saadpeule is tot 85 mm lank en toon hulle dieprooi vlam-kleur van April tot Julie. Hulle bars van Junie tot Oktober oop om die sade vry te laat. Elke peul bevat ses tot agt olyfgroen tot bruin sade.


‘n Vlamdoring in blom
Foto’s: JMK

Omdat die stamme nogal dun is, word die hout meestal vir klein implemente en gereedskap gebruik. Die spinthout is roomkleurig en die kernhout ‘n diep rooibruin. Daar word gesê dat dié hout nie verrotting toon nie, danksy die boom se gomafskeiding.

Die hout kan in dun, papieragtige stroke verdeel word sonder dat dit sal kraak. Sulke stroke word gewoonlik gebruik om mandjies mee te weef. Selfs die wortels word gebruik om mandjies te maak en tradisionele langsteelpype word ook uit die wortels gemaak.

Die lang, reguit lote word gebruik vir wandelstawe, boë en pale, en die bas word gebruik om toue te vleg.


Saadpeule

Groei
Die vlamdoring se sade het ‘n harde omhulsel en insnyding help om ontkieming te bevorder. Jy kan ‘n bietjie amper kokende water op die sade gooi en hulle vir 12 tot 24 uur in warm water laat week. Teen dié tyd behoort die sade geswel te wees, en as hulle nie is nie, maak ‘n klein snytjie in die omhulsel en week vir nog 12 ure voor jy hulle saai. Maak net seker dat jy nie die binneste deel van die saad beskadig nie. Die sade behoort binne twee weke te ontkiem.

Die saailinge groei aanvanklik stadig nadat hulle oorgeplant is. In die tuin floreer die saailinge as hulle gereeld water kry, maar die volwasse struik is droogtebestand. Jong struike moet teen ryp beskerm word.


Blomme en blare

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online