Elandshoek se uilskuikens vrygelaat PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Monday, 27 July 2015 21:35
Untitled Document

Drie skaars grasuil-kuikens, wat in die begin van die veldbrand-seisoen in Elandshoek gered is, is terug in die natuur. Hulle is ná ses weke se grootmaak, vroegoggend op Woensdag 8 Julie by Windy Brow natuurreservaat buite Cullinan vrygelaat.

In Die Bronberger se Mei-uitgawe het ons berig dat Dawie Badenhorst en Billy Morton van die Elandshoek/Nooitgedacht-gebied die brandweer gehelp het om ‘n veldbrand onder beheer te bring, toe Billy op die nes met die drie opgeskote kuikens afgekom het.

Hy het die grasuiltjies na FreeMe, ‘n sentrum in Johannesburg wat wilde diere rehabiliteer, geneem. FreeMe het die uiltjies na Windy Brow, wat naby Elandshoek is, geneem vir versorging.


Die drie grasuil-kuikens in hulle hok, voor vrylating
Foto’s: Elsabé Maré

Die deur gaan oop en die uiltjies begin die hok verlaat
.

Die een uiltjie begin opstyg
.
.

Daar is ‘n spesiale hok vir hulle in die oop grasland gebou en hulle is daagliks teen sononder gevoer.

Die aand voor hulle vrylating is hulle nie gevoer nie, met die hoop dat hulle die volgende sononder vir hulle maaltyd sal terugkeer.

Die uiltjies sal vir ‘n ruk na vrylating nog gevoer word, en hopelik sal hulle binnekort ten volle gerehabiliteer wees en weer by hulle eie Elandshoek grasuil-familie aansluit.


‘n Laaste terugblik
.

Die kuikens in Mei, toe hulle pas uit ‘n veldbrand gered is

Dit word beraam dat daar minder as 5 000 grasuile, Tyto capensis, in die land oor is. Die uile is uiters kwesbaar omdat hulle natuurlike habitat, vleilande en grasvelde, deur ontwikkeling en landbou verminder word. Dié roofvoëls maak nes en bly bedags op die grond en veldbrande maai onder hulle getalle.

Hulle vreet grootliks muise en rotte, maar ook vlermuise, jong hasies, paddas, insekte en voëls.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online