Verbied dokters dadelik PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 15 October 2008 23:58
Untitled Document

Gert Mossie sê hy sien die hele wêreld is deesdae vol “teetuine”. Die vrou het hom ook al ’n slag of wat onder hewige protes saamgesleep na dié gedoentes toe. En hy het nou al gesien dat ’n teetuin in ons wêreld, altyd vol vrouens sit. Daar sit hulle, saamgekoek om teetafeltjies agter hulle koppies en koekbordjies, en kuier en klets - amper soos regte mense in ’n kroeg. Hy dink trouens teetuine is uitgedink as ’n wraakaanval teen mans en hulle kuierplekke.

Waaroor hy nou wonder, sê Gert, is hoekom hulle die goed “teetuine” roep. As hy die saak so bekyk, drink bitter min mense en vrouens tee in hierdie teetuine.

Hulle drink koffie. Of as hulle nie sulke sterk goed wil gebruik nie, dan drink hulle van daai nuwerwetse, gekleurde, gegeurde watertjies in ’n botteltjie, wat eintlik niks anders as koeldrank is nie – net duurder. En hulle eet koek. Hoekom dan, wil Gert Mossie weet, noem hulle die goed nie sommer koffietuine nie? Of as hulle dan dink dit klink te kômmin of iets, kan hulle dit sommer koektuine noem. Dan beskryf dit sommer die oorgrote meerderheid van die klandisie.

Verbied dokters
’n Stukkie Amerikaanse statistiek, verskaf deur die Yanks se departement van gesondheid, wys dat dié land van sterre en strepe 700 000 artse het. Verder lui die statistiek dat 120 000 pasiënte jaarliks weens die nalatigheid van dokters sterf – hulle noem dit “accidental deaths”. Dit volg dan dat elke dokter in Amerika verantwoordelik is vir 0.171 sterftes per jaar.

Nou het die FBI terselfdertyd syfers bekend gemaak wat wys dat daar 80 miljoen vuurwapeneienaars in Amerika is. Ja, dis skrikwekkend – 80 miljoen Yanks het gewere. Baie meer as in die dae van cowboys en kroeks.

Jaarliks, so lui die statistiek van die FBI verder, word 1 500 Amerikaner per ongeluk doodgeskiet. Elke geweereienaar is dus verantwoordelik vir .000188 sterftes per jaar.

Dit bewys dus statisties dat dokters 9 000 keer gevaarliker as gewere is en dus dadelik verbied behoort te word.

Afrikaans
Dit gebeur deesdae nie sommer dat ’n spietkop jou voorkeer en dan met jou Afrikaans praat nie. Hulle irriteer jou deesdae deurgaans in Engels. Swak Engels op die koop toe. Daarom, sê Jan Kaalplaas, was hy skoon uit die veld geslaan toe ’n ridder van die grootpad anderdag tot by sy karvenster stap en so ewe sê: “Goeie more, meneer.” “Gmf, ja,” antwoord Jan.

Vra die spietkop toe: “Het jy miskien ’n ID?” Waarop Jan dadelik antwoord: “Waaroor nogal?”

 

© 2019 Die/The Bronberger