Fredi Nest oorlede PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 27 July 2015 21:27
Untitled Document

Countrysanger en liedjieskrywer, Fredi Nest van De Tweedespruit, se private roudiens is op Vrydag 10 Julie in Cullinan gehou. Fredi is ná ‘n kort stryd teen kanker op 3 Julie oorlede. Hy is die middag voor sy dood in ’n hospies in Pretoria opgeneem.

‘n Openbare gedenkdiens is op 9 Julie by die NG-gemeente Valleisig in Faerie Glen gehou. Sangers Adam Tas, Nicholis Louw en Arno Jordaan was onder die sowat 150 mense wat die diens bygewoon het. Elkeen het ‘n huldeblyk vir Nest gesing en die diens is met Adam Tas se ‘Gaan sê vir die Angels’ geopen. Ds Johan van Rooyen het die diens gelei.


Fredi Nest

Fredi Nester Esterhuizen is op 25 Maart 1959 gebore. Hy het sedert 1995 14 albums en een DVD opgeneem.

Hy het in September 2012 twee hartaanvalle kort na mekaar oorleef en ‘n derde aanval enkele dae later. Na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in April vanjaar is ‘n melanoom ontdek. In Mei het Fredi simptome van ‘n beroerte getoon – naarheid, kopseer en disoriëntering – waarna hy hospitaal toe geneem is. ‘n CT-skandering het bepaal dat hy nie ‘n beroerte gehad het nie, maar dat die kanker na sy brein versprei het.


‘n Onlangse foto van Fredi
Foto: Manie Jackson se Facebook-blad

Fredi het met behandeling by die Steve Biko Akademiese Hospitaal begin, maar die kanker het vinnig versprei en kon nie verwyder word nie.

Op 29 Junie is ‘n liefdadigheidskonsert, ten bate van Fredi, met van ons land se bekendste kunstenaars by Atterbury Teater opgevoer.

 

© 2019 Die/The Bronberger