Merkwaardige Lucia se stem is nou stil PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 27 July 2015 21:25
Untitled Document

Lucia van den Berg, bekend vir haar ‘Heldinne uit die geskiedenis’ reeks, is op 29 Junie in die ouderdom van 85 jaar oorlede. Lucia en haar man, wyle ds Mossie van den Berg, was stigterslede van Radio Pretoria. Sy was ook stigterslid en vir jare lank die voorsitter van Aksie Vrouekrag (AVK).

Lucia, wat op Kleinfontein gewoon het, was bekend vir haar herdenking van die vroue en kinders in konsentrasiekampe. Onder haar leiding is ‘De Camp Courant’, wat gaan oor gebeure in die konsentrasiekampe, uitgegee. Lucia se radioreeks, ‘Heldinne uit die geskiedenis’, het gegaan oor die vroue wat die Engelse Oorlog deurgemaak het.  


Lucia van den Berg

Haar eenbedryf, die feitgebaseerde toneelstuk, ‘Ek sien haar wen’, is in 2013 in Bloemfontein ter herdenking van die 100-jarige bestaan van die Vrouemonument opgevoer.

Die stuk herroep die rou emosies van onskuldige slagoffers van die Britse Verskroeide Aarde-beleid. Dit is ‘n verhaal van vroue wat met alle mag hulleself en hulle kinders teen siektes, swak higiëne, gebrekkige mediese sorg en honger moes beskerm.

Onder leiding van Lucia het die AVK ‘n monument aan die voet van Majuba met die woorde van 
GA Watermeyer, “Met moed, om teen die môrekim meer as Majuba uit te klim”, opgerig.


Lucia en Mossie van den Berg

Gebore
Lucia is op 4 Mei 1930 op Rustenburg gebore en het as een van drie kinders op ‘n plot net buite die dorp tussen lemoenbome en vrugtebome grootgeword. Haar ouers was altwee onderwysers – haar pa in Afrikaans, en haar ma in musiek.

Lucia se ma was ‘n Voortrekker-offisier en Lucia het duidelik onthou hoe sy as Voortrekker met die trein na Pretoria gery het. Sy moes ‘n keteltrom met die groot optog na die monument speel. Lucia was lid van ‘n marsorkes en voor hulle het studente met vlae geloop. Jare, later, nadat sy met Mossie getroud is, het hulle na die foto’s gekyk en gesien dat hy daar voor haar geloop het.

Lucia het BA Afrikaans, aardrykskunde en musiek op Potchefstroom studeer en het in die koor gesing. Na haar studies het sy op Lichtenburg skoolgehou, alhoewel sy eintlik vir ‘n pos in die Bosveld gemik het.

Sy het aan die Voortrekkers behoort en dit was die tyd van die ‘poskoets’ toe al die spanne moes vlot bou en die Groot Trek daarop uitbeeld. Met die bouwerk het die kinders riete op ‘n plaas buite die dorp gaan sny en Lucia was saam om die uitbeelding van die Groot Trek se roete op die vlot te maak.
Dit is waar sy die Voortrekker-kommandant, Mossie van den Berg, beter leer ken het. Hulle het betreklik kort hierna verloof geraak.

Mossie is op 13 November 1926 op 'n plaas buite Lichtenburg gebore. Hy het sy teologiese studies in 1950 voltooi en het in Lichtenburg in die bediening gestaan.


Begraafplaas by Irenekonsentrasiekamp met familie wat groet

Trou
Toe Lucia vir Mossie ontmoet het, was hy al drie jaar lank ‘n predikant en was haastig om te trou. Sy het vertel hoe hulle in ‘n mielieland verloof geraak het, terwyl hulle ouers in die plaashuis gesit het.
Ná die troue het hulle in Lichtenburg in ‘n pastorie gewoon, waar Friena, hulle eerste dogter, gebore is. Lucia het vertel dat dié pastorielewe totaal anders as skoolhou was.

Mossie is na die destydse Tanganjika (Tanzanië), waar daar ‘n Afrikaanse gemeente van die Hervormde Kerk was, beroep en die gesin is met ‘n boot soontoe.

Hulle is op die hawe ontmoet en het die hele dag na hulle nuwe tuiste in ‘n huisie teen die hange van Meruberg, 50 myl vanaf Kilimanjaro, gery. Hulle gemeente was teen die voet van Kilimanjaro en hulle dorp was Arusha.

Die Van den Bergs se tweede dogtertjie is daar gebore en hulle was koshuisouers by die Afrikaanse skool wat skoolhoof, Gert de Beer, begin het. Oor die jare het hulle die Serengeti bewaringsgebied by die Ngorongoro-krater en ook wildvangers van Europa leer ken. Daar was ‘n tyd wat die olifante te veel geword het en die Van den Bergs ook permitte gekry het vir olifantjag. Daar is glo ‘n foto waar Lucia bo-op ‘n olifant sit en hekel terwyl sy tande uitgekap word.


Lucia se radioreeks, ‘Heldinne uit die geskiedenis’, het gegaan oor vroue wat die Engelse Oorlog deurgemaak het

Terug
Terug na Suid-Afrika het die Van den Bergs deel van ‘n studente-gemeente geword en hulle seuns is in dié tyd gebore.

Mossie het in 1986 uit die bediening getree as ondervoorsitter van die Hervormde Kerk se algemene kerkvergadering. Hy was ook die kerk se verteenwoordiger in die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK).

Mossie was later by die stigting van die Afrikaner Volkswag betrokke en was die eerste voorsitter van die Afrikaner Kultuurbond.

Lucia het vertel dat Mossie altyd gedroom het om sy eie stukkie grond te hê. Dit het toe so gebeur, maar hulle het arm dae beleef wat deur harde werk gekenmerk is. Sy het saam met die swart vrouens op die lande tamaties gepluk en in stalletjies verkoop.

Lucia het met die geleentheid van haar 85ste verjaardag vertel van ‘n vakansie wat ‘n groot indruk op haar gemaak het. Sy sê dat Mossie hulle almal een vakansie in die kar gelaai het Kaap toe en dat hulle op pad soontoe en terug na alle moontlike monumente gaan kyk het. Sy het gesê dat die belewing van die werklikhede van die geskiedenis ‘n baie sterk invloed op jou ganse lewe het.


Lucia se toneelstuk, ‘Ek sien haar wen’, herroep die emosies van die Britse Verskroeide Aarde-beleid

Radio
Lucia het gesê dat die stigting van Radio Pretoria Mossie se ideaal was. Dié radiostasie is in 1993 met ‘n tydelike uitsaailisensie gevorm. Die stasie het op 18 September 1993 begin uitsaai, maar drie dae daarna is Radio Pretoria aangesê om toe te maak. Oor die volgende jare was die stasie in konstante struweling met die owerhede, maar die personeel het met of sonder toestemming aanhou uitsaai.

Die stasie het sy eerste eenjaarlisensie in 1995 ontvang. Dit is die daaropvolgende twee jaar hernu, maar in 1999 is sy eerste aansoek om ’n vierjaarlisensie afgekeur en moes die stasie talle hofsake begin om sy uitsaairegte te beskerm. Meer as agt jaar het verloop voor die saak in 2007 in die Bloemfonteinse Appèlhof gewen is.

Mossie is in Januarie 2006 in die ouderdom van 79-jaar in Pretoria oorlede. Mossie en Lucia was 53 jaar lank getroud. Op haar verjaardag op 4 Mei vanjaar was Lucia se boodskap dat die volk nie sonder sterk gesinne, waar taal, kultuur en liefde vir dit wat jou eie is uitgeleef kan word, kan bestaan nie. Sy het gesê dat gesinne so sterk gevorm moet word dat kinders nie afgeskeep word nie en geïnspireer word en voel dat hulle deel is van hulle volk.

Lucia was in die ouderdom van 85 jaar steeds ‘n aktiewe lid van Radio Pretoria se direksie en uitsendings. Sy laat vyf kinders en 17 kleinkinders agter.

 

© 2019 Die/The Bronberger