Klipkopse arend-kuiken en sy nes gered PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 23 June 2015 00:27
Untitled Document

‘n Swartborsslangarend-kuiken is onlangs in die Klipkop Bewarea gered. Dié kuiken en sy hele nes het ná ‘n storm uit die boom geval en Solette Lubbinge vertel hoe hulle die kuiken gered het, ‘n nuwe nes, wat die volwasse arende se goedkeuring weggedra het, gebou het en terug in die boom gesit het.

Solette sê dat hulle altyd die paar swartborsslangarende in die omgewing gesien het, maar dat hulle nooit ‘n nes iewers kon kry nie. “Tot een oggend toe ons die een arend sien opvlieg het en die nes bo in ‘n kiepersol gewaar het. Die wyfie het plat in die nes gelê en na ons gegluur met haar oranje oë. Dit was ‘n plat, oop nes van takke en blare.”

Solette het die nes op ‘n afstand begin dophou, om die wyfie nie te pla nie, tot sy een oggend wit donsies onder die wyfie sien uitsteek het.


Die kuiken word versigtig hanteer om in die nuwe nes terug gesit te word

Foto’s: Solette Lubbinge

“Ek het ‘n skuiling gebou en hulle elke oggend dopgehou. Aanvanklik het die wyfie op die nes gebly, en heeltemal plat gaan lê as sy bedreig gevoel het. Daar was altyd ‘n klomp kraaie wat haar gepla het.”

Soos die kuiken groter geword het, het die wyfie hom alleen begin los, maar sy het altyd naby gebly om hom teen die kraaie te beskerm. Solette sê dit was nogal senutergend en sy het gewonder wat sy sal doen as die kraaie die kuiken gryp.

Die wit kuiken het na drie weke bruin vere op sy kop en rug begin kry. Die ouers het gereeld kakiebos en bloekomblare nes toe gevat en Solette het gewonder of dit dalk as insekwerende middels gebruik is.
Sy sê dat die kuiken gewoonlik voor nege die oggend sy ontbyt gekry het. Die volwasse voël sou die slang bring met net die slangstert wat by sy bek uitsteek. Die kuiken het die stert gegryp, die slang uitgetrek en heel ingesluk. Nagadders en rinkhalse was die algemeenste slange wat hulle gevang het.


Die nuwe nes word bo in die kiepersol gesit

Solette sê dat die kuiken se roetine altyd dieselfde was. As die son opkom het hy begin om sy vlerkies oop te maak en in die son te bak, tot hy kos kry. Behalwe as die kraaie naby was. Dan het hy plat bly lê en nie geroer nie. In dié stadium was die kuiken omtrent sewe weke oud en vol bruin vere.

“Hy het geweet ek is daar, want hy sou vir my met sy geel oë deur die blare loer. Dan kon ek ontspan, want hy was nog daar. Tot een oggend. Ons was weg vir die naweek. Daar was sterk wind, storm en reën. Toe ek daar kom, was die nes en my arend weg.”


Die kuiken lê op die grond nadat die nes in ‘n storm uit die boom gewaai het

Solette vertel dat sy in ‘n baie depressiewe toestand huis toe is. Die volgende oggend is sy weer soontoe en het een van die volwasse arende sien opvlieg. Toe Solette nader stap sien sy die klein arend op die grond lê.

“Eers dog ek hy is dood. Toe maak hy sy geel oë oop. Wat nou? Los ek die natuur dat hy sy gang gaan? Daar is ‘n jakkalsgat net ‘n entjie daarvandaan. So, hy gaan beslis opgevreet word. Ek kan hom nie so los nie.”

Solette sê dat hulle ‘n draad-hangmandjie oopgesny en plat gedruk het om ‘n basis vir ‘n nes te maak. Hulle het die mandjie bo in die boom vasgesit, blare en takke ingesit en die kuiken versigtig in sy nuwe nes terug gesit.


‘n Piepklein witterige kuiken trek die slang uit sy ouer se bek

“Na die spanning wonder ek – gaan sy ouers die nuwe nes aanvaar? Vroeg die volgende oggend was ek daar. Jippie! Die geel oog tussen die takke was nog daar. ‘n Ruk later het die ma opgedaag met ‘n slangstert wat by haar bek uithang, asof niks gebeur het nie. Groot was my verligting.”

Op nege weke oud het die kuiken elke oggend sy vlerkies begin oefen en Solette het geweet dat die tyd wanneer hy gaan begin vlieg, nou nader kom. En een oggend toe Solette daar aankom was die nes leeg.

“Dit was vir my ‘n voorreg om deel van sy lewe te wees. Ek sien hom nog gereeld saam met die volwasse arende rondsweef en skree vir kos. Hulle voer hom steeds. Ek sou myself nooit vergewe het as ek hom aan sy lot oorgelaat het nie,” sê sy.


Die volwassene land met die slang by die kuiken

Voorkoms
Die swartborsslangarend, Circaetus pectoralis, is 63-68 cm lank. Hy word van ware arende onderskei deur sy kaal bene, groot oranje-geel ovaalvormige oë, amper soos dié van ‘n uil, en vierkantige kop met ‘n losserige verebedekking.

In vlug lyk die volwasse swartborsslangarend die meeste na ‘n breëkoparend, maar word aan sy wit ondervlerke met binneste primêre en sekondêre vere, wat swart dwarsstrepe het, onderskei. Hy is ook heelwat kleiner as die breëkoparend en sy wit laerbors het nie die breëkoparend se swart kolle op nie.

Die geslagte lyk eners, maar die wyfie is groter. Die jong voël het ‘n warm rooibruin kleur wanneer hy pas verveer het. Hy word dan onder ligbruin met ‘n ligte ondervlerk en onderstert met ligte dwarsstrepe.
Hulle roep is ‘n melodieuse ‘kwo-kwo-kwo-kweeu-‘fluit.


Die kuiken eis die slang, wat die volwassene half ingesluk het

Prooi
Soos sy naam aandui, vreet die swartborsslangarend meestal slange, maar gereelde prooi sluit ook klein soogdiere, akkedisse en paddas in. Hy bespied sy prooi hoog uit die lug, en as hy iets raaksien hang hy doodstil in die lug voor hy neerswiep, die prooi gryp en dit in vlug doodmaak.

‘n Slang kan terugbaklei as die arend dit nie regkry om dadelik sy skedel te vergruis nie. Die slang kan hom dan rondom die voël draai, wat in gevalle die arend en slang se dood tot gevolg het.

Die swartborsslangarend se kloue is relatief klein, maar goed ontwikkel om slange en ander reptiele op te raap. Wanneer die prooi ingesluk word gaan dit reguit maag toe en nie eers na ‘n krop toe nie.

Hy vang slange vir sy kuikens en om hulle nes toe te neem, sluk hy die slang gedeeltelik in sodat ‘n stukkie van die stert uitsteek. In die nes gryp die kuiken die slang aan die stert en trek hom uit.


Die kuiken word al hoe groter

Broei
Die mannetjie en wyfie bou saam aan die pieringvormige nes. Hulle gebruik stokke, wat dan met groen blare uitgevoer word. Die nes word in die bo-punt van ‘n boom gebou en word deur blare gekamoefleer.

Dié arende kan ook op ‘n krag- of telefoonpaal nesmaak, maar gebruik selde dieselfde nes meer as een keer in verskillende broeiseisoene. Die broeiseisoen is van Maart tot Oktober.

Slegs een eier word gelê en dit vat 51-52 dae om uit te broei. Dit is grootliks die wyfie wat die broeiwerk doen terwyl prooi deur die mannetjie aangebring word. Die ouers laat die kuiken vir die eerste 25 dae byna glad nie onder hulle oë uit nie. Daarna sal hulle die kuiken vir rukke alleen los.

Die kuiken verlaat die nes eers as hy 90-113 dae oud is en is gewoonlik eers ses maande daarna ten volle afhanklik. In sommige gevalle kan die kuiken vir omtrent 18 maande ná hy die nes verlaat het, nog saam met sy ouers bly.


Die volwasse swartborsslangarend by die kuiken

Die kuiken klap elke oggend sy vlerke
 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online