Proe, pret en prestasies by Mampoerfees PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 23 June 2015 00:26
Untitled Document

Mampoerproe, pretkompetisies, sang, musiek en veteraan-uitstallings het die Mampoerfees op 6 Junie by die Willem Prinsloo Landboumuseum ‘n belewenis gemaak.

Boet Schoeman, voorsitter van die Kultuurstokersgilde van SA, is as die nasionale kampioen mampoerstoker aangewys. Sy appel-, peer- en pruimmampoer was bobaas. Hy het ook die meeste punte in alle klasse ontvang.


Van links na regs: Boet Schoeman, die nasionale kampioen mampoerstoker; Johan van der Wat, met die meeste punte vir likeur; Stompie Rautenbach, wat goud en brons vir mampoer en witblits gekry het; en Sakkie Kotze van die ATKV
Foto: ATKV

Die nasionale kampioen witblitsstoker was Lambert Badenhorst. ’n Groot getal van 574 inskrywings is vir die fees ontvang. Benewens die witblits en mampoer was daar likeurs van gemmer, koffie, anys, peperment, kersie, sitrus en innoverende produkte soos roosblaar, heuning en maroela. Daar was ook ’n kategorie vir tradisionele medisyne soos boegoe en hoesmedisyne.


Mense het tougestaan om die mampoer te beproef
Foto’s: Elsabé Maré

Johan van der Wat het die meeste punte vir likeurs gekry en sy boegoebrandewyn is as die beste tradisionele medisyne aangewys. Die beste roomlikeur is deur San Bronkhorst ingeskryf.


Kinderpret met ‘n waentjie agter ‘n ponie

‘n Versigtige aanloop tot mampoerproe

Stompie Rautenbach het goud verower vir sy appelmampoer, brons vir sy lemoen en lietsjie, en ook brons vir sy druiwe witblits. Ander uitblinkers strek van Emmie Badenhorst met nartjieskil in mampoer ingelê, Willie Meyer met anyslikeur, Alwyn Swart met jongby heuning likeur en die 84-jarige Hennie Labuschagne, wat weer die beste sitrus mampoer gelewer het. Hennie is bekend vir sy mampoer van nartjie gestook en het vanjaar ook die beste appel mampoer gestook.

 


‘n Perdevertoning deur Diamond X Ranch
.

Besoekers geniet die uitstalling van veteraan enjins en masjienerie

Heelwat nuwe en jong lede het ook goed presteer, veral van die stokers wat onder artikel 116 van die wet inskryf. Pieter van den Berg was die toppresteerder met beste perske mampoer. Twee inskrywings vanaf die Pedi stokers is vanjaar ontvang. Die produkte is van sorghum gestook en het brons medaljes gekry.


Die veteraan-trekkers het ook hulle beurt in die arena gekry. Rosette Otto bestuur haar man Paul se gerestoureerde Farmall Super A, ‘n skaars model wat uit 1945 dateer

Loftie Ellis, wynkonsultant van Stellenbosch wat die afgelope 30 jaar as hoofbeoordelaar optree, sê dat die inskrywings van ’n besonderse gehalte was. Sy paneel van 13 beoordelaars kyk veral na die suiwerheid en geurbalans van die produkte en het vanjaar geen produk gediskwalifiseer vanweë ongewenste eienskappe van skerpheid, swak balans en ander negatiewe eienskappe nie.

Volgens die gilde kan huisstokers nou ook onder artikel 116 van die wet, produkte vir die kampioenskappe inskryf.

 

© 2019 Die/The Bronberger