Toerisme só ontspoor PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 23 June 2015 00:25
Untitled Document

Toerisme só ontspoor

Vir die vierde keer vanjaar het die spoorlyn tussen Cullinan en Rayton in Junie onder spoorstaafdiewe deurgeloop.

Met reg kan ‘n mens vra hoe dit dan moontlik is om tot 400 meter se swaar spoorstawe doodluiters in een nag te verwyder, te vervoer en die hele misdaad te verdoesel?

Hoekom sien niemand die boewe waar hulle besig is met hulle stroopwerk nie? Gasbottels en swystoestelle sal noodgedwonge gebruik moet word om die stawe in hanteerbare lengtes op te deel.

Daarby kan dié vernietigingswerk sekerlik nie in die pikdonkerte en sonder vragmotors geskied nie.

Waar is die diewe se afsetplek? Wie koop die staalspore by die tonnemaat aan en hoe is dit moontlik dat die misdadigers telkens ongestoord en ongesiens daarmee wegkom?

Is dit moontlik dat die gesteelde stawe op die toneel van die misdaad in skeepshouers gelaai word en dan hulle weg na ‘n hawe vind vir verskeping na die buiteland?

Die spoorlyn word deesdae uitsluitlik gebruik deur toerismetreine en grootliks deur ‘Friends of the Rail’ – ‘n bewaringsorganisasie sonder winsbejag.

Die treine vat maandeliks honderde besoekers Cullinan toe en dien as ‘n groot inspuiting vir die sake-ondernemings van die dorp en omliggende gebiede. Dit is ook die enigste stukkie spoorlyn sonder sigbare kraglyne en ander belemmerende strukture waar rolprente oor vervloë dae geskiet kan word. Dit sou ‘n geweldige slag vir die gebied wees as dié vriende van die spoor noodgedwonge hulle uitstappies moet staak.

Nog ‘n tergende vraag is, hoe lank nog gaan die reeds beleërde Transnet bereid wees om telkens die spoorstawe te vervang?

Baie vrae, maar waar vind ons die antwoorde wat die onding tot ‘n einde sal laat kom en sal keer dat die waardevolle toerismetreine hulle heenkome elders sal moet vind?

Sonder die luukse van ‘n spoorwegpolisiediens sal die gemeenskap en die sakemense van die gebied koppe bymekaar moet sit en daadwerklik moet optree om ‘n oplossing te kry. Bestaande strukture soos die kamer van koophandel en die GPF met sy baie aktiewe buurtwag, kan hierin die leiding neem.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online