Rooi gevaar van stadbly PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 23 June 2015 00:22
Untitled Document

Hy is baie bly, het ou Basie Burger gesê, hulle bly nie in die stad nie. Naby Namies in die Boesmanland, op die pad na Pofadder – dis waar die Burgers destyds gebly het; Daar in die dorre verlatenheid waar Engels selde of ooit gehoor word en net in uitsonderlike gevalle uit noodweer gepraat word.

Dit was ‘n Vrydag. Basie was, soos baie ander boere van die distrik, in die dorp vir koöperasie- en poskantoorsake en om sy stewige span kinders later by die kosskool te loop oplaai.

Ek het vir Basie in Springbok se watergat gekry waar hy ‘n ietsie geneem het voor hy die stowwerige tog terug Namies toe sou aanpak. Die kleingoed het soos orrelpypies agter op die bakkie ingeryg gesit en wag – elkeen met ’n rooikoeldrank in die hand.

As hy nou in die stad gebly het, het Basie gesê, sou hy en Stiena net twee kinders kon gehad het en sou klein Kosie, sy derde kind, en die vier wat na Kosie aangekom het, nooit die lig kon sien nie.

Ek wou by Basie weet of dit is oor die lewe in die stad te duur sou wees vir ‘n groot kroos, of wat? Nee man, nie oor die duur nie, maar oor die Engels, het Basie Burger gesê.

Hy lees net gister in ‘Die Brandwag’, het Basie gesê, dat een uit elke drie kinders wat deesdae in die stad gebore word, Engels is. Dit beteken dat klein Kosie Engels sou wees as hulle in die stad gebly het en dit sou glad nie gewerk het nie, want hy en Stiena verstaan nie eintlik Engels nie.

Faan
Wyle ou Faan Smuts het ‘n ander ware storie vertel van ‘n gesin uit die einste wêreld waar Engels mos maar ‘n aardige skaarste is.

Piet en Suster Vermaak het ook vorentoe geboer met die kinders en naderhand staan die kroos ‘n goeie ses-stuks sterk. Maar, almal seuntjies, het Faan vertel.

Die Vermaaks wou bitter graag ‘n ou dogtertjie hê en so besluit hulle toe om nog een keer te probeer. En soos die voorsienigheid dit wou hê was dit hierdie keer ‘n dogtertjie.

Groot opwinding het geheers toe Piet vir Suster en die nuwe aankomeling van die hospitaal af op die plaas aanbring. Die ses boeties het al om hulle ma en die nuwe baba gedraai en hulle staan toe ook die aand by toe die bloedjie gebad word.

Faan het vertel dat die outjies vir die eerste keer dié dag daar om die bababadjie tjoepstil geword het. Hulle het hulle glo behoorlik vergaap aan die aardigheid daar in bad, voor een van die boeties in ‘n huiwerige stemmetjie gevra het: “Ma? Is die nuwe baba dan Engels, ma?”

Koud
Gert Mossie sê dit is nou behoorlik winter. Hy sê jy weet dit is regtig koud as die boere van Bapsfontein se geweste soggens twee kortbroeke begin aantrek. Van die weer gepraat, sê Gert, dit laat hom nou weer dink aan die moeilikheid en moles wat die poskantoor hom destyds veroorsaak het.

Dit was in die dae toe mense nog telegramme gestuur en ontvang het en toe ‘diens’ nog sy staanplek in ‘posdiens’ verdien het. So gebeur dit, sê Gert, dat hy sonder die vrou af is Durban toe vir ‘n ding.

Hy weet nie hoe die kortsluiting tussen hom, die toonbankklerk en die telegramtikker ontstaan het nie, maar die telegram wat by sy wederhelfte uitgekom het, het gelees: “Die weer is hier - stop  Wens jy was mooi - stop

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online