Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 23 June 2015 02:19
Untitled Document

Naby familie van ver af is in die omgewing en ‘n kuiersessie word by die Bosvelder in Centurion gereël.
Die kuierplek is bekend vir sy tradisionele geregte en dit wat ek in die verre verlede daar geniet het en die weersiens van die familie natuurlik, maak die wegwyk uit ons wêreld uit die moeite werd, dink ek.

Dis ‘n groot restaurant met baie aansitplek en dis goed so, want ons is ‘n goeie 15 mense en vier kinders sterk. Tafels word teen mekaar staangemaak en ons kuiergroep kry ons sit. Om ‘n kelner en ‘n lafenis te kry is aanvanklik nie so maklik nie. Een naby-familielid loop haal naderhand maar self die te-drinke by die kroeg. Dankie vir die blitsige diens, naby-familielid.

Bosvelder se spyskaart is soos sy binnewerke – groot. Die keuses is wyd en uiteenlopend. Dit is ook verfrissend anders, juis omdat dit deurspek is met die tradisioneel-bekende wat elders moeilik te vinde is. Ek sal net enkeles uitlig:


‘n Baie smaaklike volstruisnekbredie. Daar is nog baie in die potjie

Voorgeregte sluit kaiings en pap, skaapafval, murgbene, skaapstertjies en skilpadjies in. Dit kos alles hier anderkant die R30. Jy kan ook papvingers teen R19,90 bestel. Schalk Lourens se boontjiesop, Ouma se ertjiesop, of Gerda se hoendersop kos R54,90.

Onder die slaaikeuses tel ‘n biltongslaai en een van die twaalf burgers (hoender of bees) is ‘n biltong bosburger. Die meeste burgers weeg in teen iets oor die R60.

Vleise van die rooster af is al die gewone biefstukke, tjoppe, ribbes en hoenders, maar jy kan ook pofadder en/of skilpadjies kry teen R89,90.

Die spyskaart vertel ook van ‘n aantal deelborde en van tradisionele kroegetes wat ligter op die beursie is, maar ons aandag is vandag op die tradisionele geregte. Boerekos. Bosvelder noem dit plaasetes.

Oom Gert se beesstert (R129,90), Hessie se skaapafval (R119,90), Kalahari-lamskerrie (R98,90), Springbokvlakte-lamsnekbredie (R99,90), Gariep-volstruisnekpotjie (R99,90), Mariena se lamstertpot (R129,90), romerige peperpotbredie (R109,90), tradisionele hoenderpastei (R69,90), tannie Jo se bobotie (R69,90), en lamslewer en -niertjies (R75,90).


Die ruim binnewerke van die Bosvelder

Jy kan ook oom Frik se heel lamskop geniet, maar dan moet jy vooraf bespreek en julle moet minstens vier wees wat meedoen. Jy kan as saamgaande stysel kies tussen handgemaakte aartappelskyfies, rys, stampkoring, pap, stampmielies, gebakte- of kapokaartappels of rys.

‘n Paar van die kuierklomp bestel tannie Jo se bobotie en later meen almal dis voortreflik. Ek hoor ook mooi woorde oor die ertjiesop, die murgbene en die afval.

Metgesel kies die volstruisnekbredie en ek en ‘n ander naby-familielid die lamslewer en -niertjies. Ek kan met sekerheid berig dat die volstruisnek voortreflik was. Ek sal weet, want noodgedwonge het ek die helfte van Metgesel se kos verorber. Noodgedwonge omdat myne nie saam met die res s’n aangekom het nie. Tegemoetkomende Metgesel het ook die halwe volstruisnekbredie geniet.

Almal was lankal klaar met hulle disse toe myne soos ‘n nagedagte opdaag. Hy is jammer, sê die kelnerkêreltjie, maar daar was ‘n “glietsj” in die kombuis. Ek is nie partydig daarvoor om soos my vinger alleen aan ‘n tafel vol mense te moet sit en eet nie en vra ‘n brakkiebakkie. My wegneem-ete was later die nag nie te onaardig nie.

Ondanks die ‘glietsjie” of twee het ons lekker by Bosvelder gekuier en twyfel ek of  ‘n plek in die groter Pretoria beter Boerekos maak.

Bel hulle vir meer inligting of om ‘n paar skaapkoppe te bestel: 012-643-0952.

 

© 2024 Die/The Bronberger