Kragdag werp lig op donker probleme PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 22 June 2015 23:52
Untitled Document

Die jaarlikse KragDag Ekspo is op 26 en 27 Junie op die Diamantvallei-landgoed in Rhenosterfontein. Dié jaar word daar gepoog om die hele ekspo sonder die gebruik van enige Eskom-krag aan te bied.

Dié Afrikaanse selfdoenskou met ‘n sentrale fokus op energie, inspireer duisende besoekers met talle oplossings op die pad na energie-selfstandigheid. Daar gaan uitstallings en demonstrasies oor alternatiewe energiebronne wees en ’n praktiese energie-selfstandigheidshandleiding gaan saam met Solidariteit vrygestel word. Solidariteit is vanjaar die ekspo se hoofborg.


Verlede jaar se ekspo is deur 5 800 mense bygewoon

Die ekspo help jou om besluite oor energie-selfstandige opsies te maak

’n Seminaar, wat dit ten doel het om mense toe te rus met die nodige kennis om ingeligte besluite oor die inwerkingstelling van energie-oplossings te maak, word aangebied.

KragDag se leuse is “Doen jou eie ding” en fokus daarop om self- en onderlinge versorging in ‘n gemeenskap moontlik te maak op ‘n manier wat wegdoen met afhanklikheid van staatsondersteunde verspreidingsnetwerke, terwyl aandag gegee word aan hernubare energie.

Kragdag verskaf die platform waardeur produkbekendstellings en opvoedkundige inligting oor alternatiewe lewenstyloplossings beskikbaar gestel word.


Besoekers word gewys hoe om sonkrag te benut

Uitstallings
Uitstallings dek beligting, waterverhitting, klimaatbeheer van geboue, verkoeling en die gaarmaak van kos, meganiese toebehore, elektriese en elektroniese oplossings, voedselproduksie, brandstofvervaardiging, beveiliging, waterbesparing en rioolbenutting, ‘groen’ oplossings vir ontspanning, produkte uit herwinde materiaal en energie-doeltreffende argitektuur. 

Energiebronne sluit in son, gas, hout en steenkool, wind, water, mensekrag, brandstof en gel, elektrisiteit, geotermiese en passiewe energiebronne.

KragDag moedig uitstallers ook aan om produkte beskikbaar te hê wat die besoeker daar en dan kan aanskaf, of dit nou ‘n LED gloeilamp is of ‘n yskas wat aan ‘n sonpaneel gekoppel is.


Gebruik die son só om ‘n eier te bak

Oplossings
Spesiale klem word op nuwe oplossings gelê en KragDag bied verskeie kompetisies aan vir innoverende idees, entrepreneurskap en uitstallings. Interessante sleutelsprekers gaan in die amfiteater optree.

Die ekspo vind in ’n gees van opgewondenheid oor die moontlikhede wat nuwe tegnologie bied plaas en is nie tot alternatiewe kragoplossings beperk nie. Besoekers kan uitsien na uitstallings oor veiligheid, voedselproduksie, nuwe tegnologie wat jou lewe kan verander, doen-dit-self oplossings, energie-vriendelike konstruksiemetodes, waterontginning en -hantering en ekonomiese en finansiële vryheidsmodelle.

KragDag dien as entrepreneuriese broeikas, ook vir junior entrepreneurs wat hulle vaardighede ten toon stel. ’n Opvoedkunde sub-ekspo word in samewerking met die Vereniging vir Tuisonderwys gehou.
Die feestelikheid van die dag gaan nie agterweë gelaat word nie. Daar is aktiwiteite vir die hele gesin en selfs die geleentheid vir helikopter-vlugte en perde-ritte. 


Uitstallers bied alternatiewe energie-oplossings

Geskiedenis
KragDag het in 2007 as ‘n private inisiatief ontstaan nadat Eskom se tariewe drasties begin styg het en die lewering van Eskom-elektrisiteit onbetroubaar geword het. 

Verlede jaar se KragDag Ekspo het die geleentheid vir sowat 190 ondernemings gegee om hulle produkte en dienste bekend te stel en die ekspo is deur 5 800 mense bygewoon. Besoekers kan vanjaar uitsien na meer uitstallers met ’n groter verskeidenheid.

Met die demonstrasie van produkte en toeligting in die opvoedkundige teater sal besoekers die kans hê om inligting te bekom, selfbehoud-oplossings beter te verstaan en beter toegerus te word om besluite te neem.

Toegang is R50 vir volwassenes en gratis vir kinders onder 18 jaar. Die ekspo is op die Diamantvallei-landgoed in Rhenosterfontein op die R515. Om die dag gratis by te woon, registreer vooraf by www.kragdag.co.za.

 

© 2019 Die/The Bronberger