Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 27 May 2015 08:08
Untitled Document

Angie Kleijn

Wie was Henk Westmaas? Min mense weet dat dit is wat Pierneef se van sou wees. Daar is ‘n paar minder bekende feite oor dié beroemde skilder, wat ná ‘n 13-jaar-lange huwelik met ‘n geestesversteurde uiteindelik sy ‘plek in die son’ op ‘n plasie oos van Pretoria gevind het.

‘Elangeni’ is die naam wat die kunstenaar vir sy plaas gekies het en die opstal, ‘Die Kraal’, wat hy self gebou het, is vandag oos van die WNNR se gebouekompleks. Hy het van 1939 tot sy dood in 1957 saam met sy tweede vrou daar gewoon.


Henk Pierneef
Foto: Nel, Pierneef, Sy lewe en sy werk

Gebore
Jacob Hendrik Pierneef is op 13 Augustus 1886 in Pretoria gebore, die jaar toe sy pa, Gerrit, een van Johannesburg se eerste geboue uit hout en sinkplaat in Markstraat 53 gebou het.

Sy pa, gebore as Gerrit Westmaas in die Nederlande op 28 Junie 1855, was ‘n Hollandse boukontrakteur. Sy ma, Neeske Christiane Buser was van Voortrekkerafkoms. Dit is nie duidelik wat tot Gerrit se vansverandering van Westmaas na Pierneef aanleiding gegee het nie.

Pierneef, wat Henk, Hendrik, Pier of Jacob genoem is, was die egpaar se oudste seun. Hy het in ‘n gesin van ses kinders grootgeword – die sewende baba is op drie maande ouderdom dood.

Die gesin het in Lewisstraat in Pretoria gewoon, waar die sportklub Oostelikes vroeër jare was, en Henk Pierneef was in die Staatsmodelskool. Dit is daar waar hy sy eerste kunsklasse, saam met twee van sy groot skoolvriende wat ook later kunstenaars sou word, Fanie Eloff en Cordon Leith, bygewoon het.

Hulle tekenlesse was by meester JF Hondius, wat Henk se voorliefde vir die platteland aangemoedig het. Nog ‘n meester, dr HG Breyer, het die kinders die veld ingeneem om hulle meer oor natuurwetenskap te leer.


Selfportret 1916

Nederland
Met die uitbreek van die Engelse Oorlog het Henk se pa, Gerrit Pierneef, ‘n hulppolisiemag in Pretoria opgestel. Met veldmaarskalk Roberts se besetting van die dorp moes Gerrit kies tussen deportasie na Nederland of gevangenskap. Die hele gesin het in April 1901 na Nederland gevaar.

Hulle het eers in Hilversum gewoon, waar die 15-jarige Henk elke dag ná skool in ‘n verfwinkel, waar hy geleer het om verskillende soorte verwe te meng en aan te wend, gewerk het. In die aande het hy by ‘n ou argitek klasse in argitektuurtekeninge gekry.

Ná tien maande het die gesin na Rotterdam getrek waar Henk uiteindelik behandeling vir sy regterbeen kon kry. Hy het rumatiekkoors gehad, wat gemaak het dat sy regterbeen korter as sy linkerbeen was. Henk se een sussie het ook mediese sorg nodig gehad, wat sy eers in Rotterdam kon kry.

Ondanks sy ouers se begeerte dat hy ‘n predikant moet word, het Henk aan die Rotterdamse Kunsakademie begin studeer waar hy met die werke van die ou meesters kennis gemaak het. Hy het ook letterskilderwerk aangeleer en met gipsmodelle geëksperimenteer.


Henk se tweede vrou, Marian Frances, ‘n nooi Schoop
Foto: Nel, Pierneef, Sy lewe en sy werk

Vrede
Ná die Vrede van Vereeniging het die Pierneefs na Pretoria teruggekeer, en het in die Moot gewoon. Die 18-jarige Henk, wat toe heeltemal normaal kon loop, was nog vir drie maande lank op skool. Hy was vasberade om argitektuur te studeer, maar sy ouers se finansiële ontberings het dit onmoontlik gemaak.

Sy pa het vroeg die volgende jaar ‘n vennoot in ’n tabakwinkel geword en dit is waar Henk ná skool gaan werk het.

Die gesin het vir ’n klein rukkie in die Waterberg gebly, toe in Pretoria-Wes en daarna in Villieria waar Gerrit Pierneef later in ’n huis op die hoek van 30ste Laan en dit wat vandag Pierneefstraat is, dood is. Later jare het Henk in ’n dubbelverdiepinghuis skuins oorkant sy pa se sterfhuis gewoon en daarná naby die ou museumgebou in Boomstraat.


Henk besig om te skilder

Ten spyte van sy ouers se teenkanting het die jong Henk aangehou om kunstegnieke te studeer. Hy het ook groot aanmoediging van sy peetpa, Anton van Wouw, gekry en het kunstenaars soos Hugo Naudé, Frans Oerder en die Ier, George Smithard, ontmoet.

Henk se eerste uitstalling was saam met Van Wouw en Naudé in 1902.

Tussen 1905 en 1908 het Henk skilderklasse by Oerder gekry en na 1908 het hy etsing en linosnee by Smithard geleer. Smithard het Henk aangemoedig om sy eie skilderstyl te ontwikkel en nie Europese kunstenaars na te boots nie.

Henk het ophou werk in die tabakwinkel ná ’n onderonsie tussen sy pa en dié se vennoot. Hy het in 1908 as assistent nagskofte by die Staatsbiblioteek begin werk. Bedags het hy in sy ateljee geskilder.


‘Pienaarsrivier’

Trou
Teen sy ouers se wense trou Henk in 1910 met ‘n vrou, 12 jaar ouer as hy, wat aan ‘n geestesversteuring gely het. Agatha Delen het in die volgende tien jaar al hoe meer agteruit gegaan en ook begin blind word. Sy het toenemend afhanklik van Henk geword en, in ‘n poging om meer geld te verdien, het hy die land deurgetoer om lesings te gee en uitstallings te hou.

Dit was ook in 1910 wat Henk sy eerste olieverfskildery, ‘’n Blik op Meintjieskop’, teen R6,30 aan die kunshandelaar Emil Schweikerdt verkoop het.

In 1911 was Henk en George Smithard stigterslede van ‘Die Individualiste’, ’n groep Pretoriase kunstenaars. Hulle eerste uitstalling was op 20 November 1911. Ander lede was Madge Cook, dr Grünberger, Nina Murray, Marcele Piltan, Selina Harding van die Normaal Kollege, Pieter Wenning, Sydney Stent en G Schild. G Anderson en JL Gartner het later bygekom en Fanie Eloff is uitgenooi om saam met hulle uit te stal.


‘Die Individualiste’ in 1910/1911, van links na regs: dr Grünberger, Nina Murray, Marcele Piltan, Henk Pierneef, Selina Harding van die Normaal Kollege, Pieter Wenning en Sydney Stent

Henk se eerste solo-uitstalling was in 1913 en sy tweede een twee jaar later. In dié tyd het hy ook stofomslae en illustrasies vir boeke en tydskrifte, soos ‘Die Brandwag’ in 1917 en ‘The Independent’ in 1919, gemaak.

Dit het so goed gegaan dat Henk in 1918 sy werk by die Staatsbiblioteek gelos het en as  kunsdosent by die Heidelbergse Kollege begin werk het. In 1919 het hy ook tekenklasse by die Pretoria-Kollege begin gee en selfs gedigte begin skryf.

In 1920 en 1921 het hy aan baie solo- en groepuitstalling dwarsoor die land deelgeneem, soos die een in Pretoria waar hy meer as 300 werke in verskeie mediums uitgestal het.


‘Plaashuis Pretoria’

Bedank
Henk se onderrigloopbaan het in 1923 tot ‘n einde gekom oor meningsverskille met die Departement van Onderrig. Die skoolkurrikulum was op die Engelse stelsel gebaseer, maar Henk het sterk gevoel dat Suid-Afrikaners hulle eie styl moes ontwikkel en hulle eie stel reëls moes hê. Hy het dié idee met ’n lesing in Bloemfontein, waar hy ook oor die Boesmans se kuns gepraat het, verkondig.

Hy het as dosent bedank en Namibië besoek, waar hy sketse en skilderye van die landskap gemaak het. So het hy voltyds begin skilder, en ‘n geldtekort het ontstaan. Terselfdertyd het sy huwelik begin verbrokkel. Henk en Agatha is in 1923 geskei, dieselfde jaar wat hy sy toekomstige tweede vrou ontmoet het toe hy vir Johan Schoeman as deel van ’n reklameprojek om grond rondom Hartbeespoortdam te verkoop, gewerk het. Hy het in die Agnes-hotel oorgebly waar hy die 35-jarige Nederlandse vrou, Marian Frances Schoop, bekend as May, ontmoet het.


‘Skuilkrans’

May
Henk en May is in 1924 getroud en Henk was genoodsaak om ander werk ten brode te soek. Ondanks die kritici se erkenning was hy steeds nie finansieel suksesvol nie. Henk en May was van 1925 tot 1926 in Europa, waar hy binne die eerste week ’n paar linosneë aan die Victoria en Albert-museum verkoop het. Sy Boesmantekeninge het aandag getrek by sy solo-uitstalling in Nederland en Henk het Parys, Berlyn, Antwerpen, München en Düsseldorf vol moed besoek.

Henk en May het aan die begin van 1926 met ’n Nederlandse vragskip deur die Middellandse See en Rooi See, suidwaarts langs die ooskus van Afrika huis toe gevaar.

Hulle enigste kind, Marita Jennifer, wat hulle Miki genoem het, is in April 1927 gebore, die jaar wat Henk ’n baie suksesvolle uitstalling van 86 van sy werke in Pretoria gehou het.


Henk met sy pyp
Foto: Boere Afrikana

Die volgende jaar is Henk se selfvertroue egter byna daarmee heen toe hy sy meer moderne, abstrakte werke by ’n solo-uitstalling vertoon het. Die kritiek oor dié werk was so erg dat Henk dadelik na sy ou styl teruggekeer het. Selfs sy peetpa, Anton van Wouw, het ‘n slegte resensie oor sy werk geskryf.

Almal was gelukkig toe Henk weer op sy ou herkenbare manier geskilder het en in 1929 het hy opdrag gekry om 32 panele vir die binnekant van die nuwe Johannesburgse stasie te skep, ’n taak wat hy in 1932 voltooi het.

Dit is in 1933 gevolg met ’n opdrag om sewe muurskilderye vir Suid-Afrika Huis, die Suid-Afrikaanse ambassade in Londen, te skep. Hy het dié opdrag in 1934 voltooi.

Henk was die eerste kunsskilder wat in 1935 ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang het.


Henk se ateljee

Elangeni
Dit het goed gegaan met Henk en hy het Elangeni, wat die Zulu woord vir in-die-son is, in 1939 gekoop. Op ‘n dag, toe hy die veld verken, het Henk op murasies van ‘n ou kraal teen die noordelike helling van ’n rotsagtige randjie afgekom. Die oorspronklike bouers van die kraal was waarskynlik Ndebeles wat aan die begin van die 20ste eeu in dié gebied gevestig was.

Dit is hier waar Henk begin het om sy eie plek, genaamd ‘Die Kraal’, rondom ’n wildekatjiepiering te bou. Die opstal bestaan uit ’n reeks verbinde grasdakgeboutjies wat deur die oorspronklike en latere klipmure ingesluit is. Die balke was van populier en Henk het later ’n groot ateljee suid van die huis gebou.

In die bouproses het hy ‘n hartaanval gekry en daarna oud en afgemat begin voel.


‘Die Kraal’

Die veertigerjare was vir hom ‘n tyd van beproewing. Sy ma, sy gewese vrou, Agatha, sy peetpa, Anton van Wouw, en ‘n goeie vriend is kort na mekaar dood. Sy geliefde Mika het getrou en daarna geëmigreer.

Met May se bystand het Henk deur die moeilike tyd gekom, en baie tyd in die veld deurgebring met sketse van plantegroei en landskappe. Hy het ook nog heelwat gereis en geskilder.

Hulle het huurders in die rondawels rondom die opstal gehad en ‘n vrou wat in die veertigerjare daar gebly het, vertel dat sy en haar man by een van Henk se tuis-uitstallings was en genoeg geld bymekaar geskraap het om een van sy waterverfskilderye te koop.

May het die kooptransaksie egter gekanselleer en aangekondig dat “Henk se skilderye net in die voorste huise van Pretoria moet hang”.


‘Meintjieskop vanaf Daspoort’

Huis
‘Die Kraal’ se bouproses het vir jare aangegaan. Die eerste geboue van ongekapte klip wat van die koppie op die plaas af kom, is afgewissel met gemesselde en gepakte klipterrasse. Paadjies en stoepe is met dieselfde klippe geplavei en leivore is daarmee uitgevoer. Waar klip verwyder is, is die holtes in klein leidamme omskep.

Die ingang na ‘Die Kraal’ was deur ’n hekhuis en ‘n groot deur waarop beeldhouer Coert Steynberg ’n eland en die son, volgens ’n tekening wat Henk gemaak het, uitgekerf het.

Henk het sy laaste jare op Elangeni deurgebring. In 1951 het hy ‘n eredoktoraat aan die Universiteit van Natal gekry en in 1957 ‘n eredoktoraat aan die Universiteit van Pretoria en erelidmaatskap by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Sy laaste werk was in 1955; ’n ontwerp vir die wapen van die Laerskool Pierneef, wat ’n kameeldoringboom uitbeeld.

Hy is op 4 Oktober 1957 in die ouderdom van 71 jaar in Pretoria oorlede. Lank voor sy dood het Henk gesê dat hy eendag onder ‘n kameeldoringboom begrawe moet word sodat die “sterk manlike karakter kan waghou oor hom met sy wortels diep in Afrika se grond”.


‘Die Kraal’, Elangeni, 1939-1960
Skets: Fisher et al, 1988

Verkoop
Toe ‘Die Kraal’ na May se dood in 1969 verkoop is, het die nuwe eienaars, Wynand en Eleonor Smit, albei argitekte, veranderings en bybouings in die gees van die bestaande geboue en tuin aangebring. Hulle het in 1975 gesorg dat die huis tot ’n nasionale gedenkwaardigheid volgens die Wet op Nasionale Gedenkwaardighede verklaar is.

‘Die Kraal’ is in 1969, 1986 en weer in 1996 deur Wynand Smit gedokumenteer. Hy het terreinplanne nagelaat waarop die gebou en ook die tuin met beddings en paadjies aangedui word.

In 2002 is die eiendom aan twee landskapargitekte, wat die verwaarloosde tuin herskep het, verkoop.

 

 

© 2020 Die/The Bronberger