Dit voel of jy weg is by Getaway PDF Print E-mail
News - Vreethans
Wednesday, 27 May 2015 06:08
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Dit voel vir haar of sy weg is, sê Metgesel. Sommer ver weg, sê sy en dit voel sweerlik vir my ook so. Maar ons is nie. Ons sit op die stoep van Getaway se koffiewinkel, bloot ’n katspoegie van Rayton af.
Jy ry ’n entjie met die Elandshoek-grondpad langs en swenk dan links by die groot aanwysingsbord. Nog so twee kilometer met die plaaspaadjie, dan kry jy Getaway.

Dis Saterdag en dis mooiweer in Mei. Ons neem plaas op die imposante gebou se ruim stoep. Voor ons rus ’n mooi dammetjie met graswalle en perke van dieselfde aard wat agter dit uitstrek. ’n Egpaar bontkiewiete is doenig op die grasperk, waar ek ook ’n lapa en braaiplekke sien.


’n Tuisgeboude beespastei en ’n kasige hoender-lasagne

Ons bestel koffie by ’n baie vriendelike vrou. Met die intrapslag het ek gelet op ’n heel indrukwekkende koffiemaakmasjien in die winkel se binnewerke. Vriendelike vrou bring die koffie en sê dat die bone van Italiaanse oorsprong is. Ons vind die koffie heerlik en die houer sal ek eerder ’n kop as ’n koppie noem.

Soos jy sou verwag, kan jy allerlei gebak by die koffiewinkel geniet, maar ons is op soek na iets meer substansieel. Vriendelike vrou bring ’n swartbord met vandag se handgeskrewe spyskaart nader. Dis pasteie en sous (paai en gravy) met slaai of skyfies en ’n verskeidenheid pastageregte, soos lasagne van bees of hoender, cannelloni ricotta of met beesvleis, fettuccine Alfredo en spaghetti bolognaise.

Die pasteie van bees, peperbees of hoender kos ’n skrale R30 en die pasta R45. Later toe Metgesel se ruim porsie lasagne van hoender sy verskyning maak, sou ons verstom staan oor dié amperverniet-prys. Ek bestel ’n beesvleispastei, nadat ek gehoor het die pasteie word tuisgebou op Delmas.
Ons kuier lekker op Getaway se wegwees-stoep terwyl ons op ons bestellings wag. Dit raak veral heerlik rustig as die man op die oorkantste oewer sy bossiekapper loop bêre en iemand haal Abba van die stoepluidsprekers af en laat hulle iewers binne in die agtergrond verder optree.


Italiaanse koffiedam in die voorgrond met plaasdam agter

My beespastei oortref die stoutste verwagting. Goed gevul met regte, herkenbare beesvleis saam met ’n lekker tuisgeboude sousie en goeie slaai, is dit.

Metgesel eet volgens haar te veel lasagne so al agter die lekker aan. Sy meld dat die gereg buitengewoon baie hoendervleis bevat.

Jy kan allerlei delikatesse in die ruim winkel van die plek aankoop, wat jy nie sommer in jou plaaslike Pik & Petaal sal kry nie. Een rak is gelaai met Hollandse lekkernye en ’n ander met Italiaanse aardighede. Vars groente uit die omgewing, ’n koelkas met verwerkte vleise en nogwat gebottel en geblik word op die rakke uitgestal.


’n Sy-aansig van Getaway se gebou en koffiestoep

Te laat sien ek ’n versameling landgoedwyne wat goed saam met my Delmas-pastei sou kon afgaan. Jy kan terloops ook van dié pasteie (gevries) vir huisgebruik aanskaf.

As ons weer na ’n vinnige wegwees voel, sal ons weer by Getaway loop draai. As jy ook sulke planne het, kan jy gerus ook ’n draai net langsaan by die geskiedkundige Van der Merwe-stasie maak of deel in allerlei aktiwiteite, soos visvang en wildkyk wat Getaway bied. Bel hulle by 083-777-0095.

 

Untitled Document
 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online