Cullinanpad moet skuif oor gat nader kruip PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 27 May 2015 06:07
Untitled Document

Inwoners van Cullinan vrees dat ‘n belangrike toegangspad tot die dorp binnekort in die diamantmyn se oop put gaan val. Daar is nog net 33 meter aarde tussen die gat en  Zambeziweg-verlenging (R513) oor, waar dit die dorp binnekom.

Kort- en langtermyn planne word beraam om die pad ‘n veiliger roete te laat volg.

Die wand van die reuse gat het die afgelope ses maande 40 meter nader aan die pad beweeg. In dié tyd was daar twee grondstortings – een in November verlede jaar toe ‘n paar krake oopgemaak het en ‘n sywandbeweging op 11 April. Inwoners vertel dat die grondstorting in April ‘n stofstorm veroorsaak het wat gelyk het of dit op die dorp neerreën.

Die probleem het glo met Augustus verlede jaar se aardbewing begin. Dié aardbewing by Orkney het 5,5 op die Richterskaal geregistreer en kon duidelik in Cullinan gevoel word.

Juan Kemp, hoofbestuurder van die Cullinan-myn, wat aan Petra Diamonds behoort, sê dat alle volwasse oop putte sporadiese sywand-bewegings ondervind. Dit word soms versnel, soos in die afgelope paar maande, deur natuurlike verskynsels soos hoë reënval gekombineer met geologiese toestande.

Volgens Juan is daar geen dreigende gevaar nie en tree die myn voorkomend op. Hy verduidelik dat enige beweging van die oop put deur elektroniese meters gemonitor word. Die lesings word aan ’n raadgewende geotegniese ingenieur gestuur, wat dit ontleed om te bepaal wat die terugbreeksone is.

Alhoewel die onlangse sywand-beweging verwag is, is dit moeilik om die spesifieke tydsberekening van die beweging akkuraat te voorspel. Die oop put sak ook soos wat daar ondergronds gemyn word.


Die Cullinan-diamantmyn
Foto: Petra Diamonds

Korttermyn
Die mees onlangse sywandbewegings was by die draai in die R513, naby die vulstasie. Die huurkontrak vir dié eiendom het aan die einde van verlede jaar verval en is nie hernu nie, omdat die myn verwag het dat die pad as ‘n korttermyn-oplossing verlê sal moet word.

Volgens Juan wys studies dat geen ander eiendom of infrastruktuur in Cullinan deur die sywandbewegings in gevaar gestel word nie.

Die myn het die probleem onder die Gautengse Departement van Vervoer (Gautrans) se aandag gebring toe hulle besef het dat die pad in gevaar is. Werkers het in April staalrelings tussen die pad en die myn aangebring. Daar is ook twee draadheinings tussen die pad en die rand van die afgrond.

Volgens Etienne Coetzee, voorsitter van die Cullinanse Kamer van Koophandel, wat ook verantwoordelik is vir die myn se regs- en eiendomsaangeleenthede, is dit reeds aanbeveel dat die gedeelte van die pad wat langs die myn se oop put loop, so gou as moontlik deur Gautrans gesluit moet word.

Ons dra egter geen kennis van enige sluitingsdatums nie, sê Etienne.


Inwoners vrees dat vibrasies van swaar voertuie verdere sywandbewegings sal veroorsaak

Roete
Daar is glo al reeds baie ver gevorder met samesprekings oor waar ‘n alternatiewe roete vanuit Cullinan met Zambeziweg-verlenging (Sefako Makgatho) na Pretoria beplan word. Dié roete sal nie oor Rayton loop nie, maar gaan waarskynlik ‘n tydelike grondpad wees.

Etienne sê daar is voorgestel dat vragmotors en busse die geteerde roete vanaf die Mamelodi-kruising verby R&R Slaghuis na Cullinan moet volg om die druk op die tydelike grondpad-roete, wat nog gefinaliseer moet word, en die ongeteerde Nooitgedacht-pad na Rayton te verlig.

Dit is die sakemense en gemeenskap van Cullinan se wens dat swaar voertuie in die toekoms nie deur die dorp moet ry nie.

Etienne sê inligting oor die tydelike toegangsroete sal dadelik beskikbaar gestel word, sodra dit gefinaliseer is. Die doel is om die dorp se inwoners en sakelui so min as moontlik te verontrief.


Ondergronds
Foto: Petra Diamonds

Langtermyn
Behalwe vir dié korttermynoplossings word verskeie langtermyn oplossings oorweeg.

Daar is ‘n servituut in plek wat die R513 se toegangspad tot Cullinan, bekend as die K14-roete, suid van die dorp sal laat herlei en dan naby die landdroskantoor sal laat inkom om by die R515 (Rayton-pad) aan te sluit.

Etienne bevestig dat so ‘n servituut vir die verlegging van die K14 geregistreer is. Hy sê dat die roete in 1960/70’s in die ou PWV Roetebeplanning vir die ou Witwatersrand vasgelê is.

“Ons het nie die presiese datum van registrasie vir die servituut nie, maar Gautrans het reeds die area geproklameer volgens die inligting aan ons beskikbaar.”  

Die Cullinanse Kamer van Koophandel is deel van die samesprekingsproses met Gautrans om so gou as moontlik met die beplande roete se konstruksie voort te gaan. Die proses kan twee jaar duur.


Voertuie wat met die Zambeziweg-verlenging (R513)-toegang by Cullinan inkom, ry op die
rand van die afgrond

Grootste
Cullinan diamantmyn se gat is drie keer groter as die een in Kimberley. Die gat is sowat 1 km lank en 500 m breed en die oppervlakgebied is 32 hektaar. Teen 500 meter ondergronds vernou dit tot 21 hektaar.

Die myn is op ‘n diamant-draende kimberlietpyp geleë. Dié wortelvormige pyp het ‘n vulkaniese nek.

Die myn was tot in 1946 ’n oopgroefmyn, maar daar word nou ondergronds op ’n diepte van 763 meter gemyn.

Alhoewel daar sommige diamantmyne is wat, in terme van die hoeveelheid karaat, ‘n hoër diamantproduksie as die Cullinan-myn het, kan geen ander myn op die hoeveelheid en kwaliteit van spesiale stene wat dié myn oor meer as ‘n eeu opgelewer het, aanspraak maak nie. Dit sluit die grootste diamant wat nog ooit gemyn is, die Cullinan diamant teen 3 106 karaat, in.

Volgens sy hoofbestuurder, Juan Kemp, het die myn die nodige reserwes om nog vir baie dekades werkend te bly. Hy sê Cullinan diamantmyn is ook waarskynlik die enigste werkende myn in die wêreld waar die publiek op ondergrondse myntoere geneem word.

 

© 2019 Die/The Bronberger