Uit Rusland, met liefde . . . en bier PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 27 May 2015 06:06
Untitled Document

Uit Rusland, met liefde . . . en bier

Lugvaart en bier meng nie gewoonlik nie, maar ‘n interessante samewerking tussen die Cullinan-gebaseerde Cockpit Brewhouse en die vliegtuig genaamd Little Annie het op Moedersdag geld vir liefdadigheid ingesamel.

Little Annie is ‘n Antonov AN-2 vliegtuig wat al die pad van Rusland af gekom het om kinders se lewens te verander deur Just Love Mission, die liefdadigheidsorganisasie wat Little Annie bedryf.


Little Annie
Foto: Naomi Myburgh

Cockpit Brewhouse het saam met Jaco Hamilton-Attwell gewerk om ‘n nuwe bier te brou. Die bier, genaamd Antonov Oil, is heel gepas ‘n Russiese soort bier, gebaseer op ‘n resep waarmee Jaco verlede jaar tweede plek in die Suid-Afrikaanse Nasionale Tuisbrouers Kompetisie gewen het.


Kinders van die Jakaranda Kinderhuis by Little Annie

Die bier is op Moedersdag by Cockpit Brewhouse bekendgestel en alle opbrengste met die verkope van dié bier gaan aan die Just Love Mission geskenk word. Little Annie het verbyvlugte gedoen en Koos Kombuis het die besoekers vermaak.


Besoekers aanskou Little Annie wat laag oor Cullinan se Oaklaan vlieg op Moedersdag
Foto: Santie Korf Photography

Droom
Verlede jaar het ons vertel dat Just Love Mission die droom is van Tierpoorters, Mark en Sophia Hill. Hulle wou lugvaart gebruik om minderbevoorregte kinders, veral dié wat nog nooit die voorreg en vreugde van vlug geniet het nie, op ‘n positiewe manier te beïnvloed.


Antonov Oil is op Moedersdag van stapel gestuur en opbrengste met die verkope van dié bier gaan aan die Just Love Mission
Foto: Santie Korf Photography

In 2011 het ‘n vriend, Niall Olver, uitvoerende direkteur van ExecuJet Global, die Hills se droom met ‘n kollega, Andrei Martirosov van UTair in Rusland, bespreek. Die Russe verwys liefdevol na die Antonov AN-2 vliegtuig as “Annushka” wat as “Annie” vertaal.

Little Annie is na vele onderhandelinge uit ‘n Siberiese “weeshuis”, UTair Cargo, aangeneem. Vandaar is sy vanaf Tyumen, Siberië na Kaapstad gevlieg.


Just Love Mission is die droom van Tierpoorter, Mark Hill
Foto: Naomi Myburgh

Dit het twee en ‘n half maande in plaas van die aanvanklik beplande twee en ‘n half weke geneem om die 17 180 km oor 22 lande af te lê, en 19 000 liter brandstof en 470 liter olie is met die epiese vlug gebruik.

Little Annie het haar debuut op 10 Mei 2014 by die Paramount Groep SAAF Museum Lugskou te Zwartkops gemaak.


Koos Kombuis het die Moedersdagbesoekers vermaak
Foto: Santie Korf Photography

 

© 2019 Die/The Bronberger