Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 27 May 2015 08:06
Untitled Document

Die prospekteerders, hordes diamantdelwers en die myn sou eers later kom. In die 1850’s was die grond rondom Cullinan nog pure Minnaar-wêreld.

Koos Minnaar, die oudste oorlewende Minnaar van die gesin wat toentertyd op Byenestpoort langs Cullinan gewoon het, gee ons ‘n terugblik op daardie dae. Sy voorsaat, wat in 1857 hier kom bly het, se graf is vandag nog op dié plaas.

Karel Petrus Minnaar, gebore op 21 Augustus 1805, het die grond van omtrent 6 000 hektaar in 1857 gekoop en hom hier kom vestig. Koos vertel dat sy voorsaat, Karel, met vier Boesmans hier aangekom het, maar hy sê dat dit dalk ook Hottentotte kon gewees het. Die Minnaars moes op dié werkers staatmaak omdat hier geen swart mense te vinde was nie. Hulle is glo vir hulle vee en vrouens uitgemoor en malaria het ook sy tol geëis.


Een van die onleesbare grafte in die Byenestpoort Delwers-begraafplaas
Foto: Martin Knoetze

Hy sê dat dit nie moeilik was om ‘n naam vir die plaas te kry nie. “As jy op die brug naby Diamond Cash Store staan en jy kyk in ‘n oostelike rigting, is daar twee lope wat bymekaar kom. Die linkerkantse loop kom in die rigting van die groot modderdam van die myn. Die regterkantse loop kom suid van Cullinan verby. Ongeveer een kilometer van die brug af in die loop, is daar redelike kranse waardeur die spruit loop. In hierdie kranse was daar ‘n groot bynes; vandaar die naam Byenestpoort.”

Karel Petrus Minnaar het sy huis met buitegeboue en ‘n ou kraal ‘n klipgooi van die bynes af, tussen die twee lope, gebou. Hy is in Oktober 1892 in die ouderdom van 85 jaar oorlede en is nie ver van sy huis af nie begrawe. Etlike ander mense van die omgewing is ook daar begrawe.

Karel se kinders het grond aan weerskante van die spruit gekry en almal het met hulle eie boerderye begin. Watervore is uit die spruit gemaak om landerye nat te lei.


Koos Minnaar by een van die grafte in die Minnaar-begraafplaas
Foto: Elsabé Maré

Diamante
Een van die vroegste berigte van diamant-ontdekkings in dié gebied dateer terug na 1871 toe ’n steen van oor die vier karaat op ’n plaas gekry is. Later is diamante op die oewers van die Elandsrivier en verskeie ander strome in die omgewing gevind.

In 1898 het prospekteerders op Byenestpoort begin diamante soek. Oorlogswolke het saamgepak en die delwery is tydelik gestaak. Met die Engelse Oorlog is lede van die Minnaar-familie as krygsgevangenes na Bermuda gestuur en vrouens en jonger kinders is na die konsentrasiekamp in Irene gestuur.

Thomas Cullinan het voor die oorlog reeds in dié gebied begin prospekteer. Hy het ’n diamant in spoelgrond naby ’n plaasheining opgetel en het aangeneem dat dié diamant van ’n hoër liggende plek moes afgespoel het. In sy soektog vind hy toe ’n nabygeleë koppie waardeur ’n blou diamantdraende pyp geloop het.


Diamantdelwers

Verkoop
Dié Minnaar-grond het teen daardie tyd aan Willem Prinsloo behoort, en Willem het geweier om te verkoop. Die grond was aanvanklik deel van Cornelis Jacobus Minnaar se plaas Elandsfontein 85, wat hy op 7 November 1859 geregistreer het.

Cornelis se twee seuns, Roelof en Paul Minnaar, het die erfplaas verdeel en Paul het die deel gekry waarop die diamantmyn later ontwikkel het. Op 7 Desember 1896 het Paul ’n deel van sy plaas aan Willem Prinsloo vir £570 verkoop. Willem het dit vir sy suster Miertjie, oujongnooi Maria Elizabeth Prinsloo, gekoop.

Roelof is voor die oorlog dood, en sy vrou is met Salmon Stephanus Maritz getroud, wat in 1903 die suidelike gedeelte van Elandsfontein uit Roelof se boedel gekoop het. Hy het dié grond vir £20 000 aan die Premier (Transvaal) Diamantmyn maatskappy verkoop.

In die na-oorlogse tyd slaag Thomas Cullinan daarin om ook tant Miertjie Prinsloo se deel van Elandsfontein aan te koop. Willem Prinsloo (snr) wat Cullinan se aanbod teëgestaan het, is in 1898 oorlede en na die oorlog het Cullinan met tant Miertjie se twee broers onderhandel om die gedeelte vir £52 000 aan te koop.

Op 26 Januarie 1905 is die grootste diamant in die wêreld, die Cullinan-diamant met ‘n gewig van
3 106 karaat, op dié grond gevind.


’n Skildery van Jacobus Jonker wat sy diamant verkoop
Foto: C L Doughty

Delwers
Aan die begin van 1934 is ‘n gedeelte van Byenestpoort oopgestel vir delwerye. Die vraag hoekom delwers toegelaat is om so knap langs die Premier Diamantmyn te delf, se antwoord lê in die depressie-jare. Die myn het in 1932 gesluit en daar is besluit dat delwers kleims kon kry.

Die diamante wat dié delwers gevind het is elke Vrydag aan diamanthandelaars verkoop wat by die Indiër handelaar by Byenestpoort aangedoen het.

Koos Minnaar vertel dat mense van heinde en verre hier kom delf het. Hulle het onder baie armoedige toestande gebly, maar almal het bly hoop en diamantkoors het hoog geloop.

Op 17 Januarie 1934 tref die geluk vir een delwer, Johannes Jacobus (Koos) Jonker. Hy het ‘n diamant van 726 karaat uitgehaal en het ongeveer £45 000 (R90 000) na belasting afgetrek is, vir die diamant gekry. Die diamant, wat as die ‘Jonker diamant’ bekendstaan, is eers deur Joseph Bastiaenen van die Diamantkorporasie, ‘n maatskappy wat deur Ernest Oppenheimer besit is, aangekoop. In 1935 is dit vir £150 000 aan Harry Winston, ’n New Yorkse diamanthandelaar, herverkoop.


Van links na regs is Marius Janse van Rensburg, Koos Minnaar en Lourens Erasmus by
Karel Petrus Minnaar se graf
Foto: Elsabé Maré

Toesak
Nog meer delwers het op Byenestpoort begin toesak. Koos vertel dat daar soveel kinders was dat ‘n skool tot stand gekom het en in stadiums was daar tussen 140 en 150 kinders in die skool. Vier onderwysers het die lat geswaai.

‘n Poskantoor is ook gebou en drie winkels het hulle bestaan gemaak. Koos sê daar was een Jode-winkel met ‘n slaghuis, en twee Indiër-winkels.

Hier was egter geen drankwinkels nie en Koos sê die mense het seker maar op ander plekke gekoop of self gestook. ‘n Ystersmid het ook ‘n bedryf aan die gang gesit, want baie pikke moes skerpgemaak word.


Harry Winston

Die stroom delwers het aanhou vloei na Byenestpoort en die meeste mense het onder armoedige toestande gebly. ‘n Sinkkerk is naby die skool opgerig en predikante van ander gemeentes het taamlik gereeld die dienste kom waarneem.

Baie delwers is hier dood en is in die begraafplaas, wat vandag oorkant Windy Brow Natuurreservaat is, begrawe. Koos sê daar is baie kindergraffies en die meeste daarvan is sonder naampies.

Vanne in dié delwersbegraafplasie sluit in: Bender, Bezuidenhout, Bornman, Brits, Britton, Broodryk, Brooks, Dasilva, Erasmus, Fritz, Grobler, Hartzenberg, Heyns, Jacobs, Jones, Knoetze, Kruger, Lamprecht, Redelinghuys, Robinson, Roux, Scholtz, Smith, Steyn, Steynvaard, Strydom, Van der Merwe, Van Deventer, Venter en Vuyk.


Die grafsteen se oorspronklike bewoording was: “Hier rust ons geliefden vader Karel Petrus Minnaar. Geboren 21-8-1807 oorverleden 10-1892”
Foto: Elsabé Maré

Staak
Met die Tweede Wêreldoorlog is die delwery weer gestaak en het eers weer ná 1945 begin. Koos sê dit het 10 maande geneem om die water uit te pomp. Die put was 189 meter diep. Omtrent vier biljoen liter water is uitgepomp.

Die delwery is amptelik in 1950 gesluit asook die skool en die delwersdorpie het met die verloop van jare tot niet gegaan. Al wat oorgebly het was die boere langs die spruit en al die boere het die van Minnaar gedra, behalwe een Bodenstein en een Prinsloo.

Die 86-jarige Koos is die vyfde generasie Minnaars op dié grond en die oudste van sy familie wat op Byenestpoort oorgebly het. Hy is op 21 Februarie 1929 gebore en is met Joey, wat van Van Rhynsdorp af kom, getroud. Hulle het drie seuns, drie skoondogters en agt kleinkinders. Twee jonger Minnaars, seuns van Koos se oorlede broers, bly nog op Byenestpoort.


Huisvesting in die diamantmyn se beginjare
Foto: Cullinan Erfenisvereniging

 

Untitled Document
 

© 2020 Die/The Bronberger