Die silwer randjie van stroomversteuring PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 27 May 2015 06:05
Untitled Document

Dit help nie om altyd oor alles te kerm en te ‘moun’ en om negatief te wees nie, sê Peterjasie. Daai wat hulle sê van elke donker wolk het ‘n silwer randjie, is baie waar.

Is só, sê Grootpiet in die hoek. En in die swartste modderpoel speel die witste varkie, sê hulle ook mos. Maar as jy nou mooi oor die ding dink, sê Grootpiet, het elke silwer randjie ook ‘n allemintige donker wolk en hoe lank dink jy gaan die ou varkie in daai swart modderpoel, leliewit bly?

Nee man, jy sien? Jy is nou al weer negatief verby, sê Peterjasie en hy lig die glas met Duitse bruisdrank in sy hand op. Hierdie glas, sê hy, is nie half leeg nie – dit is half vol. Grootpiet lig op sy beurt sy glas in sy piesangtros-hand na bowe: Wel, hierdie glas is dolleeg en hy is kurkdroog, sê Grootpiet, maar terwyl Peterjasie nou positief-bedinges is vandag, gaan hy wat Grootpiet is hom toelaat om iets daaraan te doen. Maak vol, sê Piet vir die kroegingenieur. Hy is positief seker ou Peterjasie wil daarvoor betaal, sê Grootpiet.

Vat nou maar vir Evkom, sê Pieterjasie. Gmf, sê Allen Prentjies van agter sy koerant uit, Peterjasie kan maar vir Peskom vat as hy wil, want hy wat Allen is, vat nie vrywilliglik aan dinges nie, sê hy.

Maar om terug te kom by die punt van positief bly, sê Peterjasie: Saterdag, net toe die rakbie moes begin, besluit Evkom mos dis nou hulle beurt vir ‘n stroomversteuring en af is alles. Die bulle moet nou maar sonder hom verloor.

Op die koop toe kom hy agter sy sellefoon se battery het papgeloop en hy kan nie eers ‘n pêl bel of op die interweb loop loer nie. Hy het Evkom se boetie, Telkom, mos lankal die deur gewys, sê Peterjasie.

Buite het ‘n ontydige reëntjie begin uitsak en hy kan nie ‘n entjie loop stap of braai of die gras sny nie.

Gelukkig het hy buitendien ‘n elektriese grassnyer.

Sy seun het boonop sy bakkie geleen en dis ook nie vir hom moontlik om iewers heen of net ‘n entjie te gaan ry nie, sê Peterjasie.

Só is hy toe op dié Saterdag gedwing om ure in die woonkamer te sit en met die vrou te kuier en te gesels.

En wat nogal, wil Grootpiet weet, is dan nou so positief daaraan?

Man, sê Peterjasie, hy kom toe agter sy is nogal ‘n gawe soort mens . . .

 

Untitled Document
 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online