Grasuil-kuikens in veldbrand gered PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 27 May 2015 08:01
Untitled Document

Drie skaars grasuil-kuikens is met die eerste veldbrand van die seisoen in Elandshoek gered.

Dawie Badenhorst en Billy Morton van die gebied het die brandweer gehelp om die vuur onder beheer te bring, toe Billy op die nes met die drie opgeskote kuikens afkom.


Een van die kuikens wat gered is.
Foto’s-Reline Badenhorst

Billy het die grasuiltjies later na FreeMe, ‘n sentrum in Johannesburg wat wilde diere rehabiliteer, geneem.

Dit word beraam dat daar minder as 5 000 grasuile in die land oor is. Die uile is uiters kwesbaar omdat hulle natuurlike habitat, vleilande en grasvelde, deur ontwikkeling en landbou verminder word. Dié roofvoëls maak nes en bly bedags op die grond en veldbrande maai onder hulle getalle.


Die drie uiltjies in hulle reiskas waarin hulle na die rehabilitasiesentrum gevat is

Grasuile, Tyto capensis, kan met nonnetjiesuile verwar word. Hulle is egter groter met ‘n sterker kleurekontras tussen die bo- en onderlyf. Die grasuil se gesiggie is ook ronder as die nonnetjiesuil s’n.

Die grasuil se roep klink soos sy nonnetjie-nefie, maar is korter met vinnige padda-agtige, klikgeluide tussenin. Jong voëls skree met ’n harde sisgeluid as indringers dit te naby aan hulle nes waag.


‘n Volwasse grasuil

Grasuile se dieet bestaan hoofsaaklik uit muise en rotte, maar hulle vreet ook vlermuise, jong hasies, paddas, insekte en voëls. Voëls word soms in die lug gevang.

 

© 2019 Die/The Bronberger