Laerskoolkind het reeds 94 medaljes PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 27 May 2015 05:59
Untitled Document

Zandré Labuschagné het op die ouderdom van 13 jaar reeds 94 medaljes verower en 12 balkies op akademiese- en sportgebied van sy skool ontvang.

Sy ouma en oupa, Chrissie en Andries Labuschagné van Rayton, sê dat Zandré vir homself hoë standaarde en doelwitte stel wat hy probeer nakom. Zandré is in Laerskool Constantiapark, alhoewel sy gesin dié jaar vanaf Moreletapark na Montana verhuis het.

Ten spyte van al die sport wat Zandré beoefen het hy ‘n goue akademiese balkie ontvang waar hy die afgelope vier jaar ‘n gemiddeld van bykans 90% gehandhaaf het.


Zandré Labuschagné met sy medaljes en toekennings

Hy neem deel aan atletiek waar hy medaljes vir hoogspring, verspring, skyfwerp en spiesgooi gekry het. Op swemgebied verteenwoordig Zandré sy skool in vryslag en borsslag, waar hy ook verskeie medaljes ingepalm het.

Die heel eerste jaar toe hy gholf begin speel het, is hy vir sy skool se eerste span gekies. Hy het ook provinsiale en nasionale klere in stoei en het ‘n trofee ontvang omdat hy vir vyf jaar agtereenvolgend die wenner in sy afdeling van die Noord Gautengse Groot Vyf Stoeikampioenskappe was.

Zandré was kaptein van die onder nege tot onder 11 A rugbyspanne. In 2014 is hy vir sy skool se eerste span gekies en ook vir die Blou Bulle onder 12 span. Dié span, wat uit alle Noord Gautengse laerskole gekies word, was verlede jaar die nasionale wenners.

Sy oupa Andries sê dat dié kind nog baie meer talente het, maar net nie tyd kry om alles te beoefen nie. “Hy was vroeër lid van sy skool se koor en het nog ‘n motorfiets en perd wat gery moet word,” sê oupa Andries.

 

Untitled Document
 

© 2019 Die/The Bronberger