Gemeenskap baklei teen verwoestende brand by Kitty Hawk PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 15 October 2008 22:38
Untitled Document

’n Verwoestende veldbrand het op Donderdag 2 Oktober die hele gebied om die Kitty Hawk vliegveld verteer. Mense betrokke by die vliegklub en lede van die gemeenskap het van vieruur die middag tot tienuur die aand onverpoos gespook om die reuse vlamme onder beheer te bring.


’n Windkous by Kitty Hawk wys in watter rigting die vlamme gedryf word
Foto’s: Neil van der Walt
.

Vlamme verdwerg die vuurvegter-bakkie in die voorgrond.

’n Klublid het vroeër die middag vanuit sy gyrokopter gesien hoe iemand die veld langs Lynnwoodweg- verlenging doelbewus aan die brand steek. Die brand het al langs die Boschkop-Tierpoort-grondpad, deur die poort tot op Kitty Hawk se gronde beweeg.

Volgens Nico Breytenbach van die vliegklub, was dit wonderlik om te sien hoe lede van die gemeenskap saamgespan het om die brand te beveg. “Mense het uit alle oorde opgedaag en sonder om eers aan te meld, ingeval om teen die brand te baklei,” sê Nico.


Die lang, droë gras het vir reuse vlamme gesorg. Die vorige brand hier was drie jaar gelede

Daar is gespook om te keer dat die vlamme die kragpale in die gebied vernietig

Van die bure het met vuurvegters agter op bakkies en deur trekkers gesleep, opgedaag. As dit nie vir dié vuurvegters was nie, sou daar nie ’n enkele kragpaal in die omgewing staande gebly het nie, sê hy.

’n Groep kinders uit verskillende dele van die wêreld het van ’n naburige plot, waar evangelisasieopleidingswerk gedoen word, te voet opgedaag en tot in die laatnag teen die brand gehelp. Die lang, droë gras in die omgewing het vir vlamme van tot 10 meter hoog gesorg. Volgens Nico was die hitte met tye op ’n afstand van 30 meter, amper onhoudbaar.


Nico Breytenbach durf die vlammesee met ’n rugspuit aan

Die ingang na Kitty Hawk soos dit op die aand van
2 Oktober gelyk het

Die onbaatsugtige brandbestryders kon help keer dat enige skade aan die geboue of strukture aangerig is. Niemand is ernstig beseer nie, hoewel een brandbestryder, ene Buks, wat in ’n moulose hempie geklee was, vir hitteblase op sy boarms en lyf behandel moes word. Buks het deurgaans ’n vuurvegter wat hy met ’n trekker aangebring het, beman.

 

© 2019 Die/The Bronberger