Hef aan vir mampoer se fees Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 27 May 2015 07:56
Untitled Document

Die jaarlikse Mampoerfees is op Saterdag 6 Junie by die Willem Prinsloo Landboumuseum. Dié feestelike geleentheid, wat al vir bykans 30 jaar aangebied word, is ‘n hoogtepunt op die museum en die Kultuurstokersgilde van Suid-Afrika se jaarkalender.

Besoekers gaan vermaak word deur gaskunstenaar, Jackie Louw, hulle kan kyk na ‘n Diamond X perdevertoning of na demonstrasie van tradisionele plaas- en werfaktiwiteite by die ou plaaswerf, soos broodbak, kerse-maak en ganse-pluk.


Dit is weer tyd vir tiermelk-proe
Foto: Richard Stupart

Die ATKV Centurion Sangersforum tree op en bied pretkompetisies, soos aartappels-skil en rissie-eet.

Boeresport word deur die Handhawerjeug aangebied. Daar is uitstallings en demonstrasies van veteraantrekkers en –motors, vlooimark- en koskraampies te kies en te keur, ‘n biertuin, en pap en kaiings, gemmerbier en soetkoekies by die ou plaashuis.

Die hoogtepunt bly egter die groot verskeidenheid mampoer en likeurs te koop en te proe. Daar gaan op die tradisionele manier op die terrein mampoer gestook word en dié stokers sal jou vertel dat mampoer allerhande gesondheidsvoordele het. Suiwer mampoer gemeng met kruie help vir griep, verkoue en koors. As smeermiddel is mampoer goed vir spatare. Meng mampoer met kaneel, naeltjies en neutmuskaat en jy het ’n tonikum.


Boerestokers kan by die Mampoerfees besoek word
Foto: mampoerfees.co.za

Distilleerders wat aan die Kultuurstokersgilde van SA behoort, kom van oor die hele land om aan die nasionale kampioenskappe deel te neem. Beoordeling geskied volgens nasionaal erkende reëls.
Likeurs met ’n witblitsbasis word ook beoordeel. Elke distilleerder het sy eie spesialiteitlikeur en daar word met verskillende vrugte- en ander geure geëksperimenteer, soos anys, peppermint, koffie en sjokolade. Roomlikeur word ook gemaak.

Dit neem ongeveer vyf maande om so ’n likeur gereed te kry vir die kampioenskap. Die likeur het normaalweg ’n alkoholinhoud van ongeveer 23%.

Die Willem Prinsloo Landboumuseum kan bereik word vanaf die Witbank snelweg (N4). Neem die afrit na Rayton en Cullinan, en draai regs op die ou Bronkhorstspruitpad (R104).

Vir navrae, skakel 012-736-2035/6 of 076-054-5229.

 

© 2020 Die/The Bronberger