Zwavelpoorters betwis nuwe rioolpyp se roete PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 27 May 2015 07:54
Untitled Document

Zwavelpoorters is omgekrap oor die beplande rioolpyplyn se roete wat deur hulle grond gaan loop. Inwoners sê dit voel of hulle gedwing word om toestemming vir die rioolpyp te gee.

Die rioolpyp gaan van The Hills in Garstfonteinweg-verlenging langs die Zwavelpoortspruit tot by Achillesweg afloop, waar daar op gedeelte 192 ’n vergaarbak, kragopwekker en pomp gebou word. Die riool word van daar af langs Achilles opgepomp en vorm deel van ‘n nuwe munisipale rioolstelsel.
The Hills is ‘n residensiële landgoed van 480 hektaar wat ‘n wildtuin met verskeie spesies bokke en sebras, insluit.

Volgens projekbestuurder, Harm Schreurs van Century Property Developments, die maatskappy wat ook The Hills se ontwikkeling behartig, is dié projek in die goedkeuringsproses en word dit deur Century namens die metroraad behartig.

Hy sê dat die riool nie net vir The Hills is nie, maar dat almal langs die pad daarby kan aansluit. Die Tshwane Metroraad se meesterplan vir riool loop vanaf The Hills tot net voor die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) – van die Moreletaspruit- tot by die Baviaanspoort-opvangsgebied.

Harm sê dat Century ‘n gedeelte van dié meesterplan vir die metroraad implementeer in plaas van hulle massa dienstebydraes.

“Die koste is eintlik baie meer as ons massa dienstebydraes, maar soos wat ander ontwikkelaars inskakel by die rioolpyplyn, sal hulle massa dienstebydraes aan ons betaal word,” sê Harm.


Die Tshwane Metroraad se meesterplan vir riool. Die roete wat die rioolpyplyn vanaf The Hills volg gaan tot net voor die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) loop

Studies
Volgens Harm is die omgewingstudies vir die projek voltooi en ingehandig. Die watergebruikslisensie word gefinaliseer en sal binnekort ingehandig word. Hy sê dat hulle verwag om teen November goedkeuring te kry en dat konstruksie omtrent ‘n jaar sal neem. Hulle verwag dat die rioolpyplyn teen die einde van 2016 voltooi sal wees teen ‘n beraamde koste van R40 miljoen.

Inwoners sê dat omgewingskonsultante hulle laat weet het dat ’n dokument oor die rioolpyplyn by Woodlands se inligtingstoonbank beskikbaar is. Hulle kla dat hulle nie elkeen ‘n kopie kon kry nie, maar deur twee boeke, wat seker 75 mm dik is, moes werk, terwyl daar geen sitplek of tafel beskikbaar is nie.

Dié wat so lank kon staan, het uiteindelik op tekeninge afgekom wat wys dat van die roetes meer as 100 m van die spruit af, hoog deur hulle eiendomme sal loop.

Volgens Hendrik ver Loren van Themaat van die Druiweplaas op plot 123, Zwavelpoort is die vloedlyne op die rioolbeplanning heeltemal belaglik en toon dat geen behoorlike kontoere geneem is nie.

Keer
“Ek het onderneem om alles in my vermoë te doen om die rioolpyplyn te keer,” sê Hendrik.

“Ek weier beslis om goedkeuring te gee dat die riool oor my eiendom loop en sal die saak in die hof beveg solank as wat nodig is om hierdie belyning te keer.”

Hendrik sê dat die 100-jaar vloedlyn heeltemal verkeerd aangedui word en die diep vallei wat die water binne sy walle inperk, ignoreer. 

“Volgens die kaart is die kantstroompie se vloedlyn oor my hele grasperk tot by my swembad en is die rondawel ook binne die vloedlyn.”

“Die Zwavelpoortspruit se vloedlyn ignoreer ook die fisiese kontoere en loop sommer reguit oor die hoë walle van die dam in die kantstroompie. Die dam was reeds oud toe ek die eiendom in 1974 gekoop het en daar is vaderlandswilge op die dam, wat waarskynlik al ’n eeu oud is en nog nooit vloed gesien het nie.”

“Dieselfde in die bos waar die vloedlyn op die kaart tot naby die tennisbaan wys, seker 30 meter bo die stroompie sodat die riool feitlik deur die tennisbaan loop en ook deur daardie natuurlike bos.”

Hendrik sê hulle wil die riool bokant sy rondawel deur die eeueou Olienhout, wat glo die grootse in die land is, laat loop en al sy ander groot inheemse bome ook vernietig met ’n rioolpunt op die gras tussen die rondawel en sy swembad.

Hy sê dat Ig Steenkamp se onderste land ook verkeerdelik as binne die vloedlyn gewys word.


Die roetes oor plot 122 en Hendrik ver Loren van Themaat se druiweplaas op plot 123

Alternatief
Volgens Hendrik is alternatiewe roete nommer twee meer aanvaarbaar, maar hy sê hy sal roete een met alles in sy vermoë beveg en eis dat alle verwikkelinge en besprekings oor die belyning dadelik aan hom bekend gemaak moet word.

“Intussen bel ’n dame aggresief en stuur e-posse wat eis dat die eienaars ’n verlof dokument moet teken om die riool deur hulle grond goed te keur.”


Volgens ‘n e-pos van Roeline Schutte van die Menlopark-gebaseerde Civil Concepts, ‘n konsulterende siviele en strukturele ingenieursfirma, is die rioolpyplyn met alle geaffekteerde partye bespreek en wil die firma voortgaan met die projek noudat hulle almal se terugvoer het.

Sy skryf dat sy toestemmingsvorms vir die rioolpyplyn aan grondeienaars stuur, maar dat dit slegs toestemming vir die waterlisensie-aansoek is. Hulle gaan glo ‘n meer gedetailleerde opname van die spruit deur Rudolph Nel Opnames laat doen. Dié opname sal glo die impak op grondeienaars verminder.

 

© 2019 Die/The Bronberger