Waar 'n rokie is . . . PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 27 May 2015 05:52
Untitled Document

Die brandseisoen in Bronberg-wêreld het vanjaar vroeg en met felheid begin. Soos elke jaar sal by die 2 000 ha se veld in ons gebied waarskynlik ook vanjaar deur vlamme verslind word; Onherstelbare skade sal aan eiendom en die natuur gedoen word; Skaars en bedreigde dier- en voëlsoorte sal in die slag bly; Inwoners van die dorpe en voorstede van die gebied sal deur verstikkende rook en die gepaardgaande dampe geteister word; Sigbelemmerende rook sal in alle waarskynlikheid weer vir ongelukke op ons paaie sorg.

En waar 'n rokie is, is daar mos 'n onvermydelike vuurtjie: Wie en wat veroorsaak die voortdurende veldbrande? Wat en wie is die gebied se brandstigters? Ons plaas die fokus hier op enkeles:

Die ywerige tuinier: Hy of sy is 'n geesdriftige en netjiese tuinier wat glo dat tuinvullis nie weggery en gestort hoef te word, as dit bloot verbrand kan word nie:  Verlede jaar die oorsaak van 'n hele aantal aangetekende veldbrande.

Die amateur: Soms met die beste bedoelings ter wêreld, besluit hy om sonder toestemming en sonder kennis paraat te wees en self voorbrand te maak. Hy wag gewoonlik tot die wind lekker sterk waai, salig onbewus van brandverbod-tye, en pak die voorbrand aan gewapen met net 'n takkie of 'n sakkie om wegholvlamme te beveg. Soms rig hy skade aan sy eiendom en dié van bure aan uit onkunde, maar soms is sy optrede te wyte aan 'n beterweterigheidswaan.

Die staat: Ja, die staat wat geen voorbrande op staatsgrond in die gebied maak nie en sodoende almal in die omliggende gebied se eiendom en lewens in gevaar stel.

Die vlakkoppige vermaaksoeker: Hy beweeg in die gebied rond en soek lekker droë, lang grasveld om aan die brand te steek. Hy is sielsiek en geniet die skouspel van 'n veldbrand. Hy het dringend hulp nodig – verkieslik die soort hulp wat beskikbaar is vir die inwoners van die tronk of verbeteringskool.

Die selfsugtiges: Hy gooi nie net sy papiere by die venster uit om sy motor binne skoon te hou nie, maar ook sy brandende stompies om nie sy motor se asbakkie vuil te maak nie. Hy sal ook nie sorg dat bierblikke opgetel is of sy braaivleisvuur in die veld geblus is voor hy huis toe gaan nie.

In die Bronberg-gebied is ons bevoorreg om 'n groep onbaatsugtige mense in ons midde te hê wat meedoënloos werk om brande te voorkom en te bestry. Hulle werk onder die vaandel van die Welbekendse Brandbestrydingsvereniging. Skakel by hulle in of klop by hulle aan om hulp en raad oor brandvoorkoming en -bestryding. Die besonderhede sal jy op Maak voorbrand teen skade kry.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online