Penkoppe: Heldedade van oorlog se melktand-soldate Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 28 April 2015 23:33
Untitled Document

Angie Kleijn

Penkoppe so jonk as agt jaar het in die Engelse Oorlog saam op kommando gegaan, aan veldslae deelgeneem en is saam na krygsgevangene-kampe in Bermuda, Indië, Ceylon en St Helena gestuur.

Sommige mense sê die naam ‘penkop’ is aan dié melktand-soldate gegee omdat hulle hare kort gesny is en die stoppels so regop soos ‘n krimpvarkie se penne gestaan het. Ander sê weer die woord kom van die naam van jong rammetjies, wie se horinkies nog nie gekrul het soos dié van ouer ramme nie.

Seuns was dienspligtig vanaf die ouderdom van 16 jaar in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) en dié van die Oranje-Vrijstaat. Penkoppe jonger as 16 moes toestemming van hulle pa gehad het, en reeds in die eerste maande van die oorlog het baie van hulle saam op kommando gegaan solank ‘n pa, broer, oom, neef of iemand vir hulle verantwoordelikheid kon neem.


Skietoefening met penkoppe
Foto: Boerevryheid-versameling
.

‘n Groep penkoppe voor hulle op ‘n skip gelaai word na ‘n krygsgevangenekamp
Foto: Nico Moolman-versameling

Dit was egter veral in die laaste, guerrilla-fase van die oorlog wat bloedjong seuns by kommando’s aangesluit het. Jonger seuns wat op die plase moes bly om na hulle ma en sussies om te sien, is deur die Engelse van die plase verwyder en as krygsgevangenes na die interneringskampe oorsee gestuur. Dit is toe wat baie ma’s die jong seuns eerder op kommando laat gaan het.

Die kriteria was glo dat as ‘n seun die swaar Mauser-geweer van 4 kg kon oplig om te skiet, hy op kommando toegelaat is.


Kyk na die penkoppe regs op die foto
Foto: Van Hoepen, Boerevryheid-versameling

Verhale
Daar is verhale van penkoppe van oral oor die twee republieke en selfs uit die Kaap, wat nie kon wag om by die Boeremagte aan te sluit nie.

Heldedade van penkoppe wie se voorname of vanne baie kere nie eers bekend was nie, staan in menige boeke opgeteken. In ‘Die Kordaatstukke van ‘n Penkop Baasspioen uit die Tweede Vryheidsoorlog’ vertel Oswald Pirow die verhaal van Piet Potlood.

In Pets Marais se boek, ‘Penkoppe van die Tweede Vryheidsoorlog’, word vertel van ’n agterryertjie met die bynaam Gesiggie wat met vier Britse soldate by sy Boerelaer aangekom het. Hy het hulle gevang waar hulle weggekruip het. Toe aan hom gevra is hoe hy dit reggekry het, het Gesiggie geantwoord: “Ek het hulle omsingel.”


Drie penkoppe van die Ficksburg-kommando
Foto: ‘Die oorlog kom huis toe’

In ‘Commando Courageous’ vertel Roland Schickerling die verhaal van ‘n penkop genaamd Jooste.

Hulle het dié 13-jarige seun op ‘n donkie en gewapen met ‘n martini-henry-geweer in die veld gekry. Toe hulle hom ondervra, het hy geantwoord: “Ek is Jooste, ek gaan Engelse skiet!”

In sy boek, ‘On Commando’, skryf Dietlof van Warmelo oor sy 14-jarige nefie, Paul Maré, wat wou gaan veg. Sy ma was bang dat hy ook soos sy pa op die slagveld sou sterf, maar Paul het gesê: “Omdat hulle my vader geskiet het, gaan ek hulle nou skiet.”


Twee krygsgevangene-kinders speel albasters op Hinsons- of Darrells-eiland
Foto: ‘Penkoppe van die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902’ – Pets Marais

Menige penkoppe het in gevegte gesneuwel. Die jong Kosie Briedenhahn het kommandant JH Visser se lewe gered, maar is in die proses deur ’n Britse koeël gedood.

Toe genl Christiaan de Wet die Vrystaatse president, MT Steyn, moes begelei was daar baie gevegte teen die Engelse en een van die penkoppe wat dood is was maar 13 jaar oud. Een wat gewond is, was selfs jonger.


Oudste en jongste Boere-krygsgevangenes op die eiland St Helena. Seuns wat nog met waentjies speel, sit en staan by twee mans in hulle sewentigs
Foto: Mieliestronk

Kaap
Dit was nie net volwassenes wat as Kaapse rebelle vir die Boere help veg het nie. Die 14-jarige Johannes Smit van Aberdeen het later in sy boek, ‘Ek Rebelleer’, geskryf dat hy aangegryp is deur gerugte oor die heldestryd. Johannes skryf dat hy baie beïndruk was met kommandant Gideon Scheepers, by wie hy aangesluit het, en hy noem ook dat Scheepers se adjudant, Kareltjie Lehmkühl, ‘n penkop was.

Twee ander seuns wat ook uit die Kaap wou gaan hand bysit in die Boererepublieke was in die Paarl op skool. In ‘Oorlog en Ballingskap’ vertel adjudant JN Brink die verhaal van Koos van Krugersdorp, en Danie die Vrystater wat baie ontberings moes deurmaak om van die Paarl af by ‘n Boere-kommando uit te kom.


Pieter Cronje, nege jaar, en Tjaart van der Walt, 11 jaar, as krygsgevangenes op die Bermuda-eilande
Foto: Boerevryheid-versameling

Dié twee het hulle besittings in bondeltjies opgemaak en in ‘n sloot weggesteek en het in die nag met ‘n wasgoeddraad uit die koshuis geklouter en met ‘n perdekar gery tot waar hulle die trein kon haal.

Van Beaufort-Wes af het hulle voetgeslaan na Koos se oupa se plaas in die Murraysburg-distrik waar hulle perde gekry het. Koos en Danie het uiteindelik op Colesberg by ‘n Boere-kommando aangesluit.

Daarna het hulle paadjies geskei. Koos is ernstig gewond by die slag van Abrahamskraal en dié twee het mekaar eers weer as krygsgevangenes in die Diyatalawa-kamp op Ceylon ontmoet.


Penkop krygsgevangenes op pad om rantsoene te kry op Bermuda
Foto: Nico Moolman-versameling
.

Genl Louis Botha en sy seun in die oorlog
Foto: Mieliestronk

Pretoria
In Pretoria het ‘n hele paar seuns uit die destydse Staatsgimnasium weggeloop om by die Boeremagte aan te sluit. Die 13-jarige Henkie Bosch was een van hulle. Izak Meyer, kleinseun van MW Pretorius, die voormalige president van die ZAR, was nog een.

Izak het later die boek, ‘Kommando-jare’, geskryf. Hy was so begeester dat hy tot die uiterste gegaan het om by sy pa se kommando aan te sluit. Izak het gehoor dat sy pa êrens op die grens van die Wes-Transvaal saam met genl Piet Cronje was.


Penkoppe tussen die ouderdomme van agt en 14 jaar, wat gevange geneem is en na krygsgevangene-kampe in Indië gestuur is
Foto: Boerevryheid-versameling

Izak se ouer broer Tinie was in die Pretoria-Kommando ingedeel. Izak was so desperaat om by genl Cronje se kommando uit te kom dat hy sy broer gevra het om sy fiets, waarop hy baie heilig was, vir dié doel te leen.

Sy broer het ingestem, solank hy die fiets ongeskonde in Pretoria sou terug besorg, maar Izak moes by sy oupa, Marthinus Wessel Pretorius, wat toevallig in Pretoria was, verbykom. Toe hy aan sy oupa verduidelik hoekom hy wou gaan veg, het hy sy oupa se goedkeuring gekry. Min het hy geweet dat dit die laaste keer sou wees dat hy sy oupa, wat in die oorlog gesneuwel het, sien.


Dié kinders is na krygsgevangene-kampe op die Bermuda-eilande gestuur
Foto: ‘Penkoppe van die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902’
– Pets Marais

Penkoppe as krygsgevangenes
Foto: SA Militaria
.

.

Izak is met sy broer se fiets vort, agter gerugte aan dat genl Cronje se kommando naby Ottoshoop was, 320 kilometer vanaf Pretoria. Die boek vertel van sy ontberings tot hy sy pa uiteindelik ver anderkant Swartruggens gekry het.

Izak het ‘n perd, saal en toom van veldkornet Danie van Graan gekry en sy vriend Jan Bezuidenhout het vir hom ‘n mauser en patrone by die kampkommandant gekry. Niemand sê wat van sy broer se fiets geword het nie.


Henkie Bosch sit in die voorste ry, vierde van links
Foto: Dorothy Venter-versameling, geskenk deur Elmarie Malherbe van die oorlogsmuseum in Bloemfontein

Henkie
Die 13-jarige Frederik Hendrik (Henkie) Bosch het aanhou wegloop uit die Staatsgimnasium in Pretoria om by Boeremagte aan te sluit. Op die ou einde het sy pa, Hendrik Bosch, en die skoolhoof maar besluit om Henkie toe te laat om by die Pretoria-Kommando aan te sluit. As lid van dié kommando was hy deel van die beleg van Ladismith in November 1900, waar hy in die hakskeen geskiet is toe hy vir ’n mede-penkop, wat in die skouer gewond is, gaan water haal het.

Henkie se dapperheid is selfs deur Deneys Reitz in sy boek, ‘Commando’, vermeld.

Henkie is gevange geneem toe die Britte Pretoria op 5 Junie ingeneem het. Hy is in Simonstad of Groenpunt in Kaapstad aangehou tot hy op 29 Mei 1901 aan boord van die SS Armenian na Bermuda gestuur is.


Die Duitse poskaart lees: “Ons is die Boere van die Transvaal. Ons lewe en sterwe vir ons land”
Foto: The Canadian Anglo Boer War Museum

Henkie was glo deel van ’n mislukte poging om die skip te kaap en na Nederland te vaar. Toe hy in Bermuda aankom is hy saam met die ander kapers in ’n maksimum veiligheidskamp aangehou.

In dié kamp het dit gou bekend geword dat ‘n Britse soldaat, ene ‘William’, mense glo teen ‘n sekere vergoeding sal help om te ontsnap. Henkie het ‘n brief aan sy ouers geskryf om vir geld te vra, wat hulle toe gestuur het.

Dit is die terugstuur van hulle geregistreerde brief, minus die geld, wat sy ouers met ‘n handgeskrewe nota op die koevert in kennis gestel het dat Henkie dood is. Daarop het gestaan: “Geadresseerde doodgeskiet toe hy probeer het om uit die Boerelaer te ontsnap.”


Die brief wat teruggestuur is aan Henkie se ouers, lees: “Geadresseerde doodgeskiet toe hy probeer het om uit die Boerelaer te ontsnap”

Eintlik was dit glad nie eers Henkie se beurt om te probeer ontsnap nie. Klippies het vroegoggend van 27 April 1902 op hulle tent se dak geval – die teken vir die ontsnapping. Die ouens het haastig onder mekaar lootjies getrek, maar die wenner het so lank gesukkel om sy skoene aan te kry dat Henkie hom voorgespring het.

Hy het net ’n klein entjie gevorder voor dieselfde William hom glo in die rug geskiet het. Henkie se kamerade het dit as koelbloedige moord beskou. Henkie se oorskot is die volgende dag in die krygsgevangene-begraafplaas op Long Island, Bermuda begrawe. Die dominee wat die diens gelei het was WJ Pretorius. Die klein wit grafsteen op sy graf, nommer 22, bevat net sy krygsgevangene-nommer, 16870, en geen naam nie.

Sy naam, saam met die van 35 ander krygsgevangenes wat in Bermuda dood is, verskyn op die voetstuk van die gedenkteken wat in 1903 aan die rand van die begraafplaas opgerig is.


Die groepfoto wys penkoppe onder die krygsgevangenes op Darrells-eiland in 1902
Foto: Geni

Penkoppe
Foto: fbcdn-sphotos-g-a.akamaihd.net
.

Henkie was maar 16 jaar oud toe hy dood is. Hy het ‘n paar weke voor die ondertekening van die Vrede van Vereeniging, wat die oorlog beëindig het en sy terugkeer na Suid-Afrika moontlik sou gemaak het, probeer ontsnap.

In 2002, honderd jaar na sy dood, is Henkie vereer deur ’n inskripsie op sy ouers se graf in die Kerkstraatse begraafplaas in Pretoria, ’n huldeblyk, kranslegging en skriflesing en gebed.

 

© 2024 Die/The Bronberger