Plastic View se plakkers keer metroraad se grond-veiling PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 April 2015 23:31
Untitled Document

Plakkers van Plastic View het dit reggekry om twee stukke grond met ‘n reserweprys van R300 miljoen uit die Tshwane Metroraad se eiendomsveiling op 24 Maart te hou.

Plase 279 en 285 Garsfontein, wat 110 en 106 ha groot is, is die tuiste van Woodlane Village, beter bekend as Plastic View-plakkerskamp, langs die NG Kerk Moreletapark, oorkant Woodlands Boulevard winkelsentrum. Daar woon ongeveer 3 000 mense in omtrent 1 000 huishoudings.

Die plase, wat rofweg vanaf die hoek van De Villebois Mareuilrylaan en Garstfonteinweg-verlenging tot by Mooikloofrif strek, is nie opgeveil nie omdat die plakkers hulle tot die Pretoriase Hooggeregshof gewend het. Regter Legodi Pathudi het die dag voor die veiling, op 23 Maart, ’n tussentydse bevel uitgereik wat die metroraad verbied het om die grond te verkoop.

Regslui vir Menseregte (LHR) het die aansoek namens die plakkers gebring. Hulle wou die veiling vertraag tot ’n hersieningshofaansoek oor die metroraad se besluit om eiendomme te verkoop, afgehandel is.


Plastic View-inwoners betoog buite die Pretoriase Hooggeregshof teen die veiling
Foto: Bongani Shilubane

Hervestig
Adv Myron Dewrance het die metroraad in die hooggeregshof verteenwoordig. Hy het gesê dat Plastic View-inwoners verskuif gaan word na ‘n terrein wat besig is om geproklameer te word. Hy het gesê dat hulle nie bloot van die grond afgesit sal word nie.

Indien daar ’n uitsettingsbevel kom, sal dit opgeskort word om dorpstigting in die nuwe gebied kans te gee om te ontwikkel. Gerugte lui dat die nuwe gebied ook naby die Woodlands Boulevard-winkelsentrum is.


Die grond wat op 24 Maart opgeveil sou word is oorkant Woodlands Boulevard in Garstfonteinweg, tussen die NG Kerk Moreletapark in die weste en Mooikloofrif in die ooste
Foto: High St Auction Co

Adv Rudolph Jansen SC het namens die plakkers aangevoer dat sekere inwoners nié gaan kwalifiseer om na die nuwe gebied te verskuif nie. In November verlede jaar het Joshua Ngonyama, die metroraad se burgemeesterskomiteelid vir behuising, gesê dat net Suid-Afrikaners hervestig sal word. Volgens hom is die meeste van die Plastic View-inwoners buitelanders.

Colin Dredge van Tswelopele Step by Step, wat jare reeds by dié inwoners betrokke is, het gesê dat hulle almal wettig in die land is. Hy het gesê dat die meeste van hulle Suid-Afrikaners is, sowat ’n derde van Lesotho kom en nog ’n derde van Zimbabwe, maar dat hulle wettige werkpermitte het en geregtig is om verskuif te word.

Ngonyama het egter gesê dat net 600 van die 3 000 inwoners hervestig moet word.


Die plakkaat wat die veiling op 24 Maart oral in Garstfonteinweg en
De Villebois Mareuil-rylaan aangekondig het

Dateer
Hofsake oor Plastic View dateer terug na 2006 toe die polisie die inwoners se skuilings afgebrand het. Inwoners het ’n hofbevel gekry wat die metroraad gedwing het om weer vir hulle skuilings op te rig en ‘n alternatiewe plan vir hulle te maak.

Die metroraad sloer sedertdien om met ’n werkbare plan vorendag te kom om dié plakkers elders te huisves. Luidens ’n hofbevel in Augustus 2009 deur die hooggeregshof in Pretoria is die metro verplig om ’n langtermyn-alternatief aan die inwoners te bied.


Plastic View met Moreletapark in die agtergrond
Foto: Phill Magakoe

Blessing Manale, woordvoerder van die burgemeester, sê dat die grond waarop die plakkers woon onwettig beset word en dat inwoners net daar is oor die hofbevel wat hulle toegelaat het om te bly, terwyl die metroraad, belastingbetalersverenigings en ander belanghebbendes ‘n oplossing probeer vind.

Ironies genoeg veil die metroraad glo die grond op om geld in te samel om die raad se formaliseringsprogram van plakkerskampe, Re Aga Tshwane, waarmee 100 000 mense in plakkerskampe water, elektrisiteit en sanitasie sal kry, te finansier.


Woodlane Village se bynaam is Plastic View-plakkerskamp
Foto: Theana Breugem

Veilings
Die High Street Auction Com­pany is as afslaer vir die metro se veilings aangewys. Die plakkate oor die eerste veiling, wat oral langs strate aangebring is, noem “groot aansporingsgeleenthede”. Volgens Blessing wil die “munisipaliteit beleggers deur die veilings na die stad lok om ekonomiese uitdagings, soos werkloosheid, te takel en ’n inkomste uit sy eiendomsportefeulje te genereer.”

Blessing sê dat reusagtige eiendomme met verskeie ontwikkelingsmoontlikhede in minstens vier streke, wat van residensieel tot landbou gesoneer is, ter sprake is.

Meer as 400 kopers was op 24 Maart by Summer Place in Hyde Park, Johannesburg om die veiling by te woon. Die metroraad het 17 eiendomme teen ongeveer R188 miljoen opgeveil.

Grond in Lotus Gardens, Sunnyside, La Montagne, Hennopspark in Centurion, Erasmuskloof en die ‘sirkusterrein’ in Kerkstraat (Stanza ­Bopapestraat) naby die Colbyn-gholfbaan en -vleiland is opgeveil.

‘n Stuk grond van 4,7 ha in Erasmuskloof, op die hoek van Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) en Delmasweg is vir R145 miljoen verkoop. Die ‘sirkusterrein’ is vir R20 miljoen opgeveil en grond oorkant die Sunnypark-winkelsentrum vir R18,75 miljoen. Op die volgende twee veilings sal nog 40 stadseiendomme opgeveil word.

Subesh Pillay, die metroraad se burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling en stadsbeplanning, sê dat die Plastic View-plakkers se oorwinning van korte duur sal wees omdat die eiendom wel uiteindelik verkoop gaan word.

Die volgende veiling van metroraad-eiendomme is op 28 Mei en sluit die volgende eiendomme in: Petroleumstraat 337 in Waltloo; die hoek van Petroleum- en Waltloostraat in Waltloo; Bengalstraat 413 in Laudium; en Delhilaan 23 in Laudium.

 

© 2019 Die/The Bronberger