Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Ons sien ‘n nuwe kuierplek (vir ons) het by Olympus se Boardwalk oopgemaak en ons val daar in.
Gusto Latino, noem hulle die plek. As jy aanhou stap, waterkant langs, al voor die ingerygde eetplekke verby, is dit die laaste plek in die hoek van die sentrum.
‘n Groot plek, ‘n verkwikkend ‘anderste’ plek en ‘n gemoedelike en gulhartige plek, sou ons later uitvind.
Ons neem plaas op die groot stoep met sy uitsig oor die water en groen oewers. Jy kan ook op die ‘eiland’ loop sit waar daar vandag ook kuns van uiteenlopende aard uitgestal word. Ek sien teen die een stoepmuur is ‘n aantal kitare gemaak staan en ek wonder nogal daaroor.
Latynse frikkadelle met ‘n rooisous
Gusto Latino is, soos die naam verklik, ‘n Latynse kuierplek met ’n sterk Suid-Amerikaanse en veral Peruviaanse inslag. Die spyskaart getuig ook hiervan: Baie geregte met rissie, baie met knoffel en veral baie met swart bone, of ‘black beans’ dan.
Maar die keuses op die spyskaart is wyd genoeg om plek vir die meer ‘tradisionele’ uiteetgeregte te laat. Voorgeregte sluit burrito, saganaki, calamari (Falklands) en bourekia, souvlaki en gewone repe van hoender in. Jy kan ook swart of wit sampioene bestel. Pryse wissel tussen R29 en R59.
Pittabrode, almal met knoffel en iets, wissel tussen R15 en R29. ‘n Aantal hoendergeregte kos ‘n entjie minder as R100 en die drie bekendste biefstuksnitte ’n entjie meer as dit. ‘n Deelbord (platter) vir twee weeg in teen R179, vir vyf tot ses mense teen R460 en ‘n deelbord vir een (as so iets moontlik is) kos R99.
‘n Burger van bees of vis saam met braai-uie en skyfies word op pittabrood bedien teen R75.
Mexikaanse nachos met vleis of daarsonder sal jou R99 uit die sak jaag. Verblydend om te sien is dat ‘n mens by Gusto Latino nog die eens gewilde gevulde aartappels (‘spuds’) kan kry.
Bo aan die voedselketting onder die visgeregte is twaalf oondgebraaide garnale van die koningin-soort teen R212. Koningklip kos R109, stokvis R79 en calamari R92. Die ander viskeuse noem hulle Civiche (wat bloot vis beteken) en dan sit hulle ‘n bloedrooi ‘HOT’ agterna en sê dit is ‘n gunsteling, tradisionele Peruviaanse gereg.
Spontane Spaanse sang op die stoep
Metgesel maak haar keuse uit die pastageregte en bestel een met gemengde pepers, sampioene en swart boontjies. Sy was half versigtig vir die vreemde swart boontjies, maar het haar pasta en ons kuier ‘verskriklik’ geniet. Die pasta se prys is R89.
Onder die hoofgeregte kies ek die ‘meatballs’ met ‘n ‘red sauce’. Dit word bedien saam met skyfies en slaai. Die frikkadelle en rooisous geval my en die skyfies is regte skyfies, met die hand uit regte aartappels gesny. My ete kos ook R89.
Die kuier op Gusto Latino se stoep het veral lekker geraak toe ‘n swartgeklede man, duidelik van Latynse herkoms, opstaan en een van die Spaanse kitare opneem. Die ou het ‘n swart mantel saam met sy swart klere en swart hoed aan en Metgesel meen hy trek op Batman.
‘Batman’ streel die snare van sy Spaanse kitaar en met ‘n baie goeie stem begin hy spontaan om Latynse liedjies te sing. Toe sy vrou met ‘n nog beter stem by hom inval, raak dit eers lekker en toe ons en ander op die kuierstoep (met minder goeie stemme) ook inval, raak dit oor-lekker aldaar.
Ons hoor saans word daar Spaans gedans by die Gusto-plek en besluit om ‘n nagtelike besoek op die ou emmerlys te sit. |