Grootfonteinse vuurvreter jaag donderweer en blitse PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 28 April 2015 21:27
Untitled Document

Rambo is die naam van ‘n Grootfonteinse vuurvreter wat donderweer en blitse jaag, en braaivleisvure platspring.

“Ons het die naam ‘Rambo’ as ‘n grap aan hom gegee omdat hy so klein was,” sê sy eienaars, Chris en Pat Heunis. “Min het ons geweet waartoe hy eendag alles in staat sou wees.”

Rambo is ‘n ses-jaar-oue langbeen foksterriër wie se gewoontes sy eienaars stomslaan. “Onthou, hy is niks geleer nie,” sê Chris. “Hy doen al van kleins af die snaaksste goed.”


Rambo haat vure

Rambo is mal oor water

“As daar donderweer is, maak ons maar die deure oop en dan gaan speel hy buite. Hy jaag die blitse en donderweer, maak nie saak hoe baie dit reën nie.”

Chris vertel dat Rambo dit sy doel in die lewe ag om vure dood te maak. As die gesin ‘n braaivleisvuurtjie maak, spring hy dit dadelik dood. Chris sê dat ‘n mens die vuur ten minste vyf keer moet oorpak voor die ding aan die gang kom en daarna hou Rambo aan om na die vlamme te hap.

Tog is dit nie net vuur waarmee Rambo ‘n vreemde verhouding het nie. Hy vind water net so fassinerend en as jy hom vra hoeveel dit gereën het, gaan haal hy die reënmeter.


Rambo op Pat se skoot in hulle huis op die Grootfontein-hoewes

“Toe hy klein was het hy altyd saam met een van ons gestort. As jy hom vandag vra of hy wil bad, gaan hy tuinslang toe en wag. As jy hom los sal hy ure in die water speel.”

“Toe ons op George gebly het, het hy gereeld in die see gaan swem en as ek sê swem bedoel ek swém,” sê Chris. “As daar ’n swembad naby is, is hy in en uit soos ’n kind.”

Rambo hou ook van rondry. As Chris of Pat in ‘n voertuig wil klim gryp Rambo die deur en wil nie hê hulle moet dit toemaak nie. Hy weet ook presies in watter kar hy mag ry en in watter een nie.

Rambo se ander gewoonte is om voëls te jaag. Chris sê hy kan vir ure agter hulle aan hardloop. Rambo hou ook van balspeel, maar anders as ander honde, gooi hy die bal vir homself en vang dit dan self.


Dit is Rambo se missie om vure plat te duik

Hy gaan soek ook sy leiband as jy vir hom vra waar dit is, byt sambokke en spuitnaalde. Chris verduidelik dat hulle agt foksies het, wat hy self inspuit. As hy deesdae net die woord ‘spuit’ noem, begin Rambo klaar byt.

Die ander foksies op die werf is Rambo se ses kinders en hulle ma, Suzie. Daar is Duke, wat abnormaal groot was by geboorte, Schalk (Burger), die boelie wat altyd gereed is vir baklei,  Dottie, wat een kol op die nek het, Spottie, wat een kol op die boud het, Minkie (van der Westhuizen), en Varkie, wat ‘n krulstertjie het.

“Al wat hulle met Rambo in gemeen het is balle- en voëls-jaag en hulle sal ook almal saam ‘n rinkhals aanvat,” sê Chris. “Rambo is die enigste een met die snaakse maniere en tot vandag toe weet ons nie waar hy aan dit kom nie.”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online