Botterklapper se sade lok miskruiers PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 April 2015 23:21
Untitled Document

Die botterklapper is ‘n naby familielid van die Indiese spesie wat gebruik word om strignien te maak. Tog kan jy maar die vlees van sy vrugte met ‘n geruste hart eet. Loop net lig vir sy sade – hulle is ‘n purgeermiddel en vreemd genoeg lok hulle ook miskruiers.

Daar is een of ander bestanddeel in botterklapper-sade wat vir miskruiers soos mis ruik. Hulle rol die sade dan saam met hulle misbolletjies rond en begrawe dit – ‘n baie vindingryke manier van saadverspreiding, wat goeie bemesting ook sommer waarborg.


Die ryp vrugte
Foto: Miqra

Gif
Die botterklapper, Strychnos madagascariensis, kry sy genus-naam van die Griekse woord vir ‘dodelik’. Nege van die 190 spesies bome en struike in dié genus, wat bekend is as ‘n bron van medisyne en gif, kom in Suid-Afrika voor.

Strignien en ander strignien-gebaseerde samestellings word uit die saad van onder andere
S. nux-vormica
onttrek en ander giftige ekstrakte kom van die bas van S. toxifera.

Die spesie-naam verwys na Madagaskar.

Die botterklapper word tradisioneel as ‘n braakmiddel gebruik. Die wortels word fyngemaal en gemeng met kookwater en dan gedrink. ‘n Smeer word van die vrugte gemaak om sandvlooibyte te behandel.


Die botterklapper
Foto: Toko

Hoog
Die botterklapper, wat ook as die swartklapper bekend staan, word vyf tot agt meter hoog en kan ‘n enkele of meer stamme hê. Die blare is leeragtig, blink en donkergroen aan die bokant en liggroen aan die onderkant. Hulle is ook gewoonlik harig.

Die vrugte is groen wanneer hulle jonk is en word geel tot oranje wanneer hulle volwasse is. Die vrugte, wat tot 8 cm in deursnee is, het ’n dik dop, baie sade en die vlees is eetbaar. Hulle vat lank om ryp te word en kan steeds aan die boom gedra word met die volgende blomseisoen (Maart tot Augustus).


Musiekinstrumente, soos die marimba, word van die vrugte se droë doppe gemaak

Die boom se blare word deur duikers, rooibokke, koedoes, steenbokke, njalas en olifante gevreet en die vrugte deur ape, bobbejane, bosvarke, njalas en elande.

Musiekinstrumente soos die marimba en fluite word van die vrugte se droë doppe gemaak.

‘n Botterklapper groei maklik en redelik vinnig van saad. Hy is sensitief vir ryp.

 

© 2019 Die/The Bronberger