PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 April 2015 23:21
Untitled Document

Bosveldfisante is van die bekendste en mees wyd verspreide fisante in suidelike Afrika. Hulle kom vanaf Zambië suidwaarts voor, maar daar is ‘n interessante afwesigheid in die oostelike dele van Mpumalanga en Zimbabwe. Dié afwesigheid stem glo glad nie met plantegroei-gebiede of hoogte bo seespieël ooreen nie en is moeilik om te verduidelik.

Bosveldfisante kom in klein groepies van drie tot vyf in ‘n verskeidenheid habitatte met lang gras – in oop vlaktes of droë doringveld – voor. Jy sal hulle gereeld naby landerye kry.

Die mannetjies maak teen dagbreek en sononder ‘n lawaaierige ‘krraae-krraae-krraae’-geluid. Hulle roep vanaf ‘n verhoogde sitplek, soos ‘n miershoop of boomtak.

Die bosveldfisant het ‘n kaal, rooi gesig. Sy swart snawel en swart onderbene onderskei hom van ander rooi-gesig fisante in die streek. Die wyfie is sonder die spore wat die mannetjie het en ‘n bietjie kleiner.

Mannetjies is 38 cm lank en weeg 400–875 g, terwyl wyfies 33 cm lank is en 340–750 g weeg.


Die spore aan die bosveldfisant se bene wys dat hy ‘n mannetjie is
Foto: Wikipedia

Onvolwassenes het minder en ligter rooi op die gesig as volwassenes.

Dié fisante vreet meestal plantmateriaal soos bolle, knolle, wortels, sade, bessies, gras en graan in die winter, en vul hulle dieet met insekte soos sprinkane, bosluise en spinnekoppe aan in die somer. Hulle voer meestal deur te grou en pik.

Die broeiseisoen vorm ‘n piek van Februarie tot April, alhoewel hulle dwarsdeur die jaar kan broei. Die nessie is ‘n holte in die grond, wat uitgevoer word met gras en blare, en weggesteek is in plantegroei.

Die wyfie lê drie tot 12 eiers wat na 21 tot 24 dae uitbroei. Die kuikens kan binne 10 tot 14 dae kort afstande begin vlieg en is na drie maande amper so groot soos volwassenes

 

 

© 2019 Die/The Bronberger