Reuse grondeis gaan voort ná eiser se dood PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 April 2015 20:39
Untitled Document

Die dood van die Pretoria-distrik se grootste grondeiser stop glo nie die multi-biljoen Rand grondeis wat hy ingedien het nie.

Victor Velaphi Lekhuleni, wie se eis die hoewegebied wes van Rayton, dele van Mamelodi, omtrent die hele nuwe ooste van Pretoria en groot dele noord van Pretoria insluit, is op Dinsdagaand 31 Maart by die hek van sy 16-jaar oue meisie se huis in Mamelodi-wes doodgeskiet.

Volgens dié meisie was sy en Lekhuleni naby aan sy kar toe twee onbekende mans, wat in ‘n rooi Volkswagen Golf gesit het, nader gekom het en begin skiet het. Hulle het Lekhuleni drie keer getref.

Die mans het Lekhuleni toe glo deursoek, sy vuurwapen geneem en weggery in sy BMW, wat later in Qwambelastraat in Mamelodi-wes gevind is. Sy meisie glo die motief was diefstal, maar polisiewoordvoerder, lt-kol Katlego Mogale, het gesê die motief is steeds onbekend.


Victor Velaphi Lekhuleni

‘Stamhoof’
Verlede maand het ons berig dat die 48-jarige Lekhuleni grondeise as stamhoof van die Bakgatla Ba Lekhuleni-gemeenskap ingedien het, maar volgens Mamelodi se mense was nie Lekhuleni of sy familie nog ooit stamhoofde nie.

Inwoners van wyk 23, Mamelodi-oos en wyksraadslid Thembi Sebata het gesê dat Lekhuleni nie ‘n tradisionele leier is nie en geen reg het om te eis dat die grond teruggegee word aan sy mense nie.

Lekhuleni se grondeis sluit landbougrond in asook gebiede waar dorpstigting reeds plaasgevind het, en woonbuurte, sake- en industriële gebiede floreer.

Die grondeis wat op 12 Desember 2014 in die Staatskoerant gepubliseer is sluit die volgende plase in: Franspoort 332 JR; Baviaanspoort 330 JR, Carlsruhe 336 JR, Hatherley 331 JR, Vlakfontein 329 JR, Scientia 627 JR, Mamelodi 608 JR, Pienaarspoort 338 JR, Pienaarspoort 339 JR, Nooitgedacht 333 JR, Zwartkoppies 364 JR, en Koedoespoort 325 JR.

Die eis wat op 6 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer is sluit die volgende plase in: The Willows 340 JR en Derdepoort 326 JR. Volgens AfriSake is die eis op Zwavelpoort 373 JR onseker.

Hervestig
Lekhuleni het die grondeis glo reeds in Oktober 1996 ingedien en aangevoer dat lede van sy stam van 1958 tot 1960 gedwing is om hulle grond te verlaat. Van hulle is in Mamelodi, Pienaarspoort en Silverton hervestig.

Hy wou glo net die onontwikkelde grond behou, sou sy eis goedgekeur word en het klaarblyklik veral in die deel van die Magaliesberg tussen die plase Nooitgedacht en Pienaarspoort belanggestel, omdat dit volgens hom is waar die Lekhuleni hoofmanne sedert die 1940’s hulle jaarlikse inisiasieskole vir seuns en meisies gehou het.

Volgens Lerato Sehlapelo van die Kommissie vir die Herstel van Grondeise gaan die kommissie voort om Lekhuleni se eis namens die Bakgatla Ba Lekhuleni-gemeenskap te verwerk, soos deur die Grondeisehof beveel is.

 

© 2019 Die/The Bronberger