Mooiplaats-begraafplaas van die baan PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 April 2015 22:38
Untitled Document

Die beplande Mooiplaats-begraafplaas is van die baan. Die eienaars van plot 182, waar die begraafplaas sou wees, die broers Beauford en Martin Raath, het die projek gekanselleer weens teenkanting uit die gemeenskap.

In Desember verlede jaar het ons berig dat ‘n begraafplaas van 5,7 hektaar waar 166 700 mense te ruste gelê kan word vir Mooiplaats beplan word. Die voorgestelde begraafplaas sou bestaan uit ‘n kapel, funksiesaal en amfiteater, twee plekke waar mense se as in houers gestoor kan word (2 500 m²), ‘n mausoleum (700 m²), grafte (45 000 m²), familie grafkelders (2 000 m²), ‘n plek waar as begrawe word (2 000 m²) en plek waar as gestrooi kan word (700 m²).

Mooiplaatsers het gesê die risiko dat die ondergrondse water besoedel sal word deur die ontbinding van lyke in die begraafplaas is te groot vir bure wat van grondwater afhanklik is vir hulle drinkwater.

Hulle het ook gesê dat begrafnisstoete erger verkeersprobleme op die Boschkoppad (D631), waar ernstige ongelukkige gereeld gebeur, sal veroorsaak. Daar is reeds probleme met verkeersopeenhopings by die aansluiting van die Boschkoppad met Lynnwoodweg-verlenging.


Jaco Raubenheimer

Inwoners het gekla oor hoër geraasvlakke wat deur ‘n toename in verkeer en ook deur die voorgestelde funksiesaal veroorsaak sal word. Hulle het gevoel dat die reuk van ‘n krematorium onaanvaarbaar in ‘n landelike gebied sal wees en het gevrees dat die as op hulle eiendomme sal beland.

“Ek kan nie sien dat die projek enige positiewe bydrae tot ons omgewing en eiendomme gaan hê nie,” het Jaco Raubenheimer van ‘n naburige kleinhoewe gesê.

Jaco en mede-inwoners het Martin op 13 Februarie gaan sien met hulle besware. Op 26 Februarie het Martin ‘n brief aan Jaco geskryf waarin hy bevestig dat die projek gekanselleer is.

Hy skryf dat dit sy plan was om ’n gedenktuin te ontwikkel “as iets wat bydra tot die omgewing en dit sou meer ’n tuin wees as ’n begraafplaas soos voorgestel in die aansoeke”.

“Ek verstaan julle bekommernisse en soos bespreek, het ek onderneem dat sou ons tydens die gesprek agterkom dat die projek kan skade doen aan die omgewing of gemeenskap of ons verhouding, dat ek die projek sal stop,” skryf Martin.

Jaco sê dat hy baie respek vir Martin en sy broer Beauford gekry het. “Ek het nie geweet daar bestaan nog mense waarvoor geld nie alles is nie,” sê Jaco.

 

© 2019 Die/The Bronberger