Tierpoorter verloor stryd om boomreuse te red PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 28 April 2015 20:31
Untitled Document

John Lourens van Tierpoort het sy verbete stryd om inheemse bome teen Eskom se byl te beskerm, verloor. Ná Eskom-kontrakteurs die witstinkhoutbome afgekap het, het John die jaarringe getel en sê dat van hulle 120 jaar oud was.

Twaalf witstinkhoutbome, wat onder Eskom-kragmaste op John se grond gegroei het, is
die naweek van 21 en 22 Maart afgekap. Eskom het serwituutregte op dié deel van John se grond en het tot verlede jaar die bome jaarliks gesnoei.


John Lourens by die bome in die Eskom-serwituut, voor hulle afgekap is
Foto: Theana Breugem

John het in Februarie ‘n brief van Eskom se prokureurs gekry wat sê dat hulle die bome gaan afkap omdat hulle die veiligheidsgrens van die Eskom-ankermaste oorskry. John het geweier en het ‘n stryd begin om die ongeveer 100 bome, waaronder geelhout-, witstinkhout- en kameeldoringbome, op die serwituut te probeer red.

Renqe Kunene, Eskom se prokureur, het eers aangebied om vyf groot inheemse bome vir John te koop in die plek van dié wat afgekap moet word. Die koste van die nuwe bome mag glo nie R50 000 oorskry het nie.


Die Eskom-kragmaste
Foto: Theana Breugem

John het voorgestel dat sy eie bome hervestig word, maar Eskom het gesê dat dit te duur sou wees en dat die bome die oorplanting waarskynlik nie sou oorleef nie.

Kenners is oor die bome genader en die president van die Dendrologiese Vereniging van Suid-Afrika, Naas Grové, het gesê dat geelhout en kameeldoring nie natuurlik in dié gebied voorkom nie en waarskynlik jare gelede aangeplant is. Dit het beteken dat John nie op Suid-Afrikaanse wetgewing kon aanspraak maak om die bome te beskerm nie.

Ná John se teenkanting het Eskom met regstappe teen hom begin en gesê dat hulle aansoek doen om ’n dringende hofbevel te kry om die bome te laat afkap. Volgens prokureursbriewe het Eskom gedreig om die hof te vra om ’n kostebevel teen John te maak.


‘n Kontrakteur besig om die witstinkhoutbome af te saag
Foto: Deaan Vivier

John sê hy moes die stryd gewonne gee omdat hy nie geld het om hof toe te gaan nie. Hy was ontsteld toe die kontrakteur opdaag om die bome af te saag, maar sê dat Eskom se verteenwoordiger die kameeldorings en geelhoute vir die kontrakteurs gemerk het sodat hulle nie uitgekap is nie.

Volgens John was die bome die woonplek van neushoringvoëls, ystervarke, nagapies en bosbokke.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online