Skuif negatiewe opsy PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 28 April 2015 20:27
Untitled Document

Dit gaan deesdae dikwels bra broekskeur om nie deur gebeure in die land negatief gestem te word nie.

Dinge soos beurtkrag van die lamlendige Eskom wat die onskuldige verbruiker se kragbeurt al hoe skaarser en korter maak, neig om aan die blymoedigste gemoed te knaag.

Die ganse wêreld se koerante gil oor die barbaarse xenofobiese aanvalle op inwoners van elders in Afrika. Vyf van dié uitlanders sterf in dié aanvalle en dit is uiteraard ‘n onaanvaarbare onding. Nie ‘n woord word vermeld oor die agt landsburgers wat in dieselfde tyd in hulle eie huise op Suid-Afrikaanse bodem gemartel en vermoor word nie: Ook dit kan ‘n mens tot erge negatiewe nadenke stem.

Maar om in sak en as te loop sit en in magtelose woede net op dié dinge te fokus wat nie na wense verloop nie, gaan g’n snars se verskil aan sake maak nie en gaan op die koop toe die ou lewe vir jou bitter onaangenaam maak.

In ons gebied gebeur daagliks ook talle blye en opbeurende dinge en ons sit met mense in ons midde wat die fokus deur hulle menswees en aksies op die positiewe plaas. Kom ons lig uit hierdie uitgawe van die Bronnie net ‘n paar voorbeelde hiervan:

  • Sommer met die intrapslag op bl 4 getuig Andrew Clark, vroeër van Wet Nose, se dankie-sê-brief van die meelewing van ons mense.
  • Kyk net by ‘Het jy gehoor?’ op bl 12 na al die komende ‘dinge te doen’ in ons gebied. Verrykende, positiewe dinge wat die lus vir die lewe ‘n hupstootjie kan gee.
  • Op bl 16 kan jy lees hoe die saamstaan van ‘n gemeenskap ‘n ontwikkelaar met ‘n gewete genoop het om nie voort te gaan met ‘n projek wat moontlik skadelik vir die gebied kon wees nie.
  • Op bl 18 begin ‘n foto-artikel oor die mooi windpompe van ons omgewing wat ‘n mens opnuut weer aan die waarde van geduld kan laat dink.
  • ‘Toeka se dae’ op bl 26 lig die heldedade van die Tweede Vryheidsoorlog se penkoppe uit: Melkbaard-soldate wat in bitter moeilike omstandighede ‘n positiewe bydrae gelewer het.
  • Lees op bl 35 hoe boontjie sy loontjie gekry het toe twee dapper hoewebewoners ‘n inbreker in hulle huis vasgestrap het.
  • Die plesier wat ‘n vreemdsoortige troetelhond met die naam van Rambo aan sy mense verskaf, word op bl 36 uitgelig.
  • Alles oor die prestasies wat die plaaslose skaaphonde wat op Mooiplaats oefen, in die Karoo behaal het, kan op bl 42 gelees word.
Net ‘n paar stories in hierdie Bronnie wat hopelik daartoe kan bydra om die negatiewe vir eers ‘n bietjie eenkant toe te skuif.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online