Aangenaam verras op Kameelzynkraal PDF Print E-mail
News - Vreethans
Thursday, 19 March 2015 23:49
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

As jy aanhou oos ry met Lynnwoodweg-verlenging tot waar jy nie meer kan nie en jy ry dan verder, kom jy dalk by ‘n andersoortige kuierplek op Kameelzynkraal af wat vir ‘n baie aangename verrassing kan sorg.

Camilla’s Farm is ‘n bokplaas wat op Saterdae kunstige kase in ‘n asemrowende landelike omgewing voorsit. Jy kan daarmee saam wyn of melkskommel geniet en jy kan plaas- en bokmelkprodukte aankoop wat met sorg, liefde en aansienlike vaardigheid gemaak is. Dis ‘n rustige plek, dis ‘n mooi plek en dis ‘n vriendelike plek.


In die Toggenburg-ramkamp

Hulle advertensie in die Bronnie het gesê jy ry ‘n ‘maklike’ 30 minute met Lynnwoodweg uit om by Camilla’s uit te kom. Dit sê nie van waar af nie. Dit sê ook nie dat jy jou moet vasry teen die Bronkie/Bapsfonteinpad, dié pad dan moet oorsteek, slap links moet draai en later weer slap regs – twee keer. Die advertensie gee GPS-koördinate en ek dink dis hoe die mense wat dié goed verstaan, daar uitkom.

Ons verdwaal so 20, 25 minute lank voor ons by die bokplek se hek inry. ‘n Baie baldadige goue gaan-haal-hond (die Engelse sê retriever) ontmoet ons by die indraai en hardloop en bokspring al voor ons uit tot by die stilhouplek, so 300 meter verder.

Jy loop oor groot, groen grasperke tussen roesbruin rotse en antieke plaasimplemente deur op jou pad na Camilla’s se delikatesse en aansitplek. Langs jou wandelweg gaan jy verby die lammerkamp. Die bokkies is duidelik baie mak, nuuskierig en spelerig, soos kleingoed maar is. ‘n Paar kom maak kennis by die draad. Ander hou hulle laf en klouter en spring vernuftig teen van die roesbruin rotse op en af, wat ook in hulle kamp staangemaak is.


‘n Mooi bokmelk-kaasbord

Dis Switserse Toggenburg-bokke, soos dié wat Peter van Heidie in die Alpe opgepas het – vir julle wat nog kan onthou.

Later sou ons ook ‘n draai by melk-ooie en die ramkamp maak en opnuut herinner word hoekom ‘n mens van ‘n ‘bokbaard’ praat.

Ons draai deur die ruim deli om die produkte te bekyk. By die toonbank is ‘n kaasmaker van Camilla’s besig om sy kuns aan ‘n paar gaste te verduidelik. Jy kan hier binne by een van die pragtige ou greinhouttafels plaasneem, of jy kan buite onder die koeltebome of op die stoep aansit. Ons loop sit op die stoep en bestel koffie. Baie lekker koffie, blyk dit toe te wees.


Baie rustig op Camilla’s se stoep met die netjiese melkstal in die agtergrond

Jy kan ‘n bokmelk-kaasbord vir twee bestel en as dit nie genoeg is nie, bring hulle nog, sê die vriendelike vrou wat ons help. Dit was genoeg.

Vriendelike vrou vra of ons wyn daarmee saam wil geniet. Sy sê die wyn wat hulle bedien, is noukeurig uitgesoek om hulle handvervaardigde kase te komplimenteer. Ek dink aan die lang rugbykykskof wat later voorlê en wys die wyn van die hand. Sy bring ‘n karaf koue water aan om die smaak tussen die verskillende kaaskousels te neutraliseer.


En links die ingang na die ‘Chevré shed’

Dis ‘n baie mooi kaasbord wat voor ons neergesit word. Mooi en lekker kase wat volgens die Franse styl gebou is, mooi kappertjieblommetjies, mooi kersietamaties, mooi  bloedrooi kersietamatiekonfyt en ‘n mooi en lekker handvervaardigde, saadbroodrolletjie – een vir elk. Oor dié harderige broodjie, was Metgesel gaande en oor die meeste van die kaaskeuses ook.

Ek geniet die sagte ‘Chevré’ kasie net soos hy is en die een wat in balletjies gerol is met mangostukkies daarby. Die roomkaas met spriet- en grasuie is hemels saam met die gebreekte broodjie. Maar dis die hardekaas (hulle roep dit ‘Vallencay/ Piramide’) wat vir my die koek vat, kan jy maar sê. Dis ook een van dié wat ek later aankoop en wat ek die meeste by die huis geniet.

Ons koop ook twee liter vars bokmelk vir huisgebruik aan. Nou is dit so dat ek van my speentyd af al, feitlik elke dag van my lewe koeimelk geniet. Ek is half verslaaf daaraan, dink ek en sou myself na al die jare se meedoen sonder skroom ‘n melkkenner noem. In die afgelope jare ervaar ek lastige asemhalingsprobleme bykans elke keer as ek my melkie in het, maar nie só erg dat ek dit sal afsweer nie.


Jy kan ook binne plaasneem

Ek is aanvanklik half skrikkerig vir die vreemdheid van bokmelk, maar word gou tot ander insigte betoor.

Die Toggenburg-melk is romerig, sodat dit eintlik as ‘glad’ beskryf kan word en dit smaak meer na melk as wat gewone melk na melk smaak – as jy dit kan verstaan. En die room op die koek is, dat dit geen, maar geen, asemhalingsgevolge by my los nie.

Ons het die voordag by Camilla’s Farm baie geniet en sal ‘n besoek met vrymoedigheid aanbeveel. Dis ‘n bokgat plek. Wat opvallend was, is dat ons met ons kuier-sit op die stoep en rondloop op die bokplaas nie een enkele vlieg raakgeloop het nie. En dit op ‘n bokplaas met perde en varke en goed wat ook die plek bewoon. Ek wou, maar ek het vergeet om te vra hoe op aarde hulle dit vermag, want geen gif word glo hier gebruik nie.


Tevrede besoekers stap deur die tuine met die lammerkamp regs

Die slegte nuus is dat Camilla’s geen besoekers in die wintermaande ontvang nie. Die goeie nuus is dat jy nog twee Saterdae in Maart oor het om daar te gaan draai, voor hulle tot begin September toemaak. Vat die kinders saam.

Jy kan hulle bel by 083-453-6636. Camilla’s verwelkom groepe, maar bespreek asseblief.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online