‘Stamhoof’ se grondeis is bog, sê Mamelodi se mense PDF Print E-mail
News - Aktueel
Thursday, 19 March 2015 23:47
Untitled Document

Die grondeise wat die oostelike dele van Pretoria in rep en roer het word deur inwoners van Mamelodi-oos betwis. Victor Velaphi Lekhuleni het eise as stamhoof van die Bakgatla Ba Lekhuleni-gemeenskap ingedien, maar volgens wyksraadslid Thembi Sebata was nie Lekhuleni of sy familie nog ooit stamhoofde nie.

Lekhuleni se grondeis wat op 12 Desember 2014 in die Staatskoerant gepubliseer is sluit die volgende plase in: Franspoort 332 JR; Baviaanspoort 330 JR, Carlsruhe 336 JR, Hatherley 331 JR, Vlakfontein 329 JR, Scientia 627 JR, Mamelodi 608 JR, Pienaarspoort 338 JR, Pienaarspoort 339 JR, Nooitgedacht 333 JR, Zwartkoppies 364 JR, en Koedoespoort 325 JR.

Die eis wat op 6 Februarie in die Staatskoerant gepubliseer is sluit die volgende plase in: The Willows 340 JR en Derdepoort 326 JR. Volgens AfriSake is die eis op Zwavelpoort 373 JR onseker.

Ontken
Inwoners van wyk 23, Mamelodi-oos sê dat Lekhuleni nie ‘n tradisionele leier is nie en geen reg het om te eis dat die grond teruggegee word aan sy mense nie.

Volgens wyksraadslid Thembi Sebata, woon Lekhuleni sedert sy geboorte in dieselfde huis in wyk 23, Mamelodi-oos en was hy nog nooit ‘n stamhoof nie. Volgens Thembi was sy ma, Buyeleni Lekhuleni, die dogter van Sefoloshe Trekpass Lekhuleni.

Sy biologiese pa is glo “King George” Lukhele, wat nooit met sy ma getrou het nie. Dit is nie bekend wat van hom geword het nie. Hy is waarskynlik in ballingskap.

‘Lekhuleni’ is die grondeiser se ma se van. Sy oupa, Trekpass Sefoloshe Lekhuleni, was die eienaar en prinsipaal van die inisiasieskool vir seuns en meisies in Mamelodi-oos, wat hy oorgeneem het. Volgens wyksraadslid Thembi was dié oupa ook nie ‘n stamhoof nie.


Victor Velaphi Lekhuleni
Foto: Phill Magakoe

Grondeis
Lekhuleni se grondeis sluit landbougrond in asook gebiede waar dorpstigting reeds plaasgevind het, en woonbuurte, sake- en industriële gebiede floreer. Die plaas Zwartkoppies 364 JR sluit die volgende gebiede in: Silver Lakes, Willow Acres, Silver Woods, Silver View Ridge, Savannah Country Estate, African Renaissance en die Sammy Marks-museum.

Die plaas Scientia 627 JR sluit in: WNNR, Persequorpark, Lynnwood Hill en Proefplaaskop. Die plaas Koedoespoort 325 JR sluit in: Weavindpark, Botaniese Tuine, Lindopark, Queenswood, Kilnerpark, East Lynne, Jan Niemandpark en Transwerk.

Gebiede ingesluit by die plaas The Willows 340 JR is: Nellmapius, Willow Park, Willow Brae, Willow Park Manor, Meyerspark, La Montagne, Murrayfield, Val de Grace, Brummeria, Willow Glen, Equestria, The Willows, Wapadrand en Faerie Glen.

Gebiede ingesluit by die plaas Derdepoort 326 JR is: Bergtuin, Ekklesia, Derdepoortpark, Derdepoort landbouhoewes, Wolmaranspoort landbouhoewes, Montana Tuine, Montanapark, Christiaansville, Montana en Magalieskruin.

Plase
Lekhuleni wil glo net die onontwikkelde grond behou, sou sy eis goedgekeur word. Hy stel klaarblyklik veral belang in die deel van die Magaliesberg tussen die plase Nooitgedacht en Pienaarspoort, omdat dit volgens hom is waar die Lekhuleni hoofmanne sedert die 1940’s hulle jaarlikse inisiasieskole vir seuns en meisies gehou het.

Sy prokureur, Vivien de Klerk, van De Klerk en Marais, sê dat die grondeis ingedien word teen die staat en nie teen individue of maatskappye nie.

Lekhuleni het die grondeis reeds in Oktober 1996 ingedien. In die eis noem hy dat lede van sy stam van 1958 tot 1960 gedwing is om hulle grond te verlaat. Van hulle is in Mamelodi, Pienaarspoort en Silverton hervestig.


Die Magaliesberg in die Donkerhoek-distrik

Bewys
Grondeisers moet kan bewys dat hulle ʼn reg in grond gehad het in die tydperk 19 Junie 1913 tot 31 Desember 1998. Hulle moet ook bewys dat hulle van daardie grond ontneem is en dat ontneming in die tydperk 19 Junie 1913 tot 31 Desember 1998 geskied het.

Hulle moet voorts bewys dat die ontneming op grond van rasgebaseerde wetgewing en/of praktyke geskied het en dat hulle geen of nie genoegsame vergoeding vir sodanige ontneming ontvang het nie.

Dan moes die eisers ’n regsgeldige eis by die kommissie op herstel van grondregte ingedien het. Die oorspronklike afsnydatum vir eise was 31 Desember 1998, maar dit is verleng na die einde van Junie 2019.

Lekhuleni het sy eis glo voor die afsnydatum ingedien. Daar was glo nie ‘n rekord van dié eis nie. In 2010 het Lekhuleni hom tot die hof gewend wat gelas het dat die eis wel gepubliseer en gehanteer moet word.

Landbou
Cullinan Boere Unie het op 24 Februarie ‘n vergadering met die gemeenskappe van Nooitgedacht, Carlsruhe en Pienaarspoort gereël om die grondeise te bespreek.

Daar is ’n beroep op gemeenskapsorganisasies soos TLU SA en Afriforum gedoen om saam te werk om die eis tee te staan. Afriforum se Cullinan-tak voorsitter, Dawie Badenhorst, en ander lede was ook by die vergadering.

Boere Unie-voorsitter, Henri Combrink, het gesê dit is van kardinale belang dat die korrekte werkswyses toegepas moet word om te verseker dat landbou nie skade ly nie.

“Hierdie is ‘n komplekse grondeis waarvan die finale aanslag op landbougrond gaan wees en daarom is dit belangrik dat ‘n organisasie soos TLU SA betrokke moet wees om daardie belange te beskerm. Organisasies wat nie altyd die belange van landbou voorop stel nie rig baie kere onbewustelik groot skade aan deur goeie bedoelinge,” het hy gesê.

Sake
Volgens AfriSake se uitvoerende hoof, Cornelius Jansen van Rensburg, is dié organisasie se regspan besig om alle moontlikhede te ondersoek oor hoe die eis gestop, beperk of bespoedig kan word.

AfriSake in samewerking met AfriForum het ʼn aantal gemeenskapsvergaderings oor die grondeis aangebied: Op 3 Maart by die Gereformeerde Kerk Wapadrant; op 4 Maart by die Zambezi Point, plot 121, Derdepoortpark; en op 5 Maart by die Casa-Lee Buiteklub, plot 121, op die plaas Rietfontein in Donkerhoek.

Afrisake staan mense by: met navorsing oor die historiese besit van die gebied; met enige regsprosesse wat daarop gemik sou wees om die grondeis te besleg; en met ‘n ondersoek na die ongelyke posisie van staatshulp vir grondeienaars teenoor grondeisers.

Wet
Die Wet op Herstel van Grondregte, Wet 22 van 1994, noem dat alle grondeienaars skriftelik in kennis gestel moet word sodra die eis in die Staatskoerant gepubliseer is.

In dié geval is die neergelegde prosedures waarskynlik reeds oortree deurdat grondeienaars nie van die eise in kennis gestel is nie.

Tiaan van Dyk, ’n prokureur wat onder meer grond- en grondeise-sake doen, verduidelik dat die grondeis-proses uit twee fases bestaan. Die eisers moet hulle eis volgens die Restitusie-wet se kriteria bewys. Eers as die eisers se eis as geldig bewys is in die grondeisehof, kom die kwessie van moontlike teruggawe van die grond ter sprake.

Volgens Tiaan is vier uitkomste moontlik: Eisers kan die grond terugkry; alternatiewe grond (gewoonlik staatsgrond) kry; vergoeding in die vorm van geld (kompensasie); of vergoeding deur ʼn kombinasie van dié drie moontlikhede.

“Die kans dat die hof ontwikkelde eiendom aan die eisers sal toeken, is skraal,” sê Tiaan. “Daar is wel ʼn groter kans dat die hof moontlik ʼn plaas of nie ontwikkelde eiendomme aan die eisers kan teruggee.”

Sloer
Intussen kan Lekhuleni se grondeis die eiendomsmark op sy knieë dwing. Daar word vir jare gesloer voor beslissings oor eise gefinaliseer word en in dié tydperk kan eiendomstransaksies en selfs verbeterings op eiendom nie gebeur voor die grondeisekommissaris daarvan in kennis gestel is nie.

Vir meer inligting kontak Henri Combrink, voorsitter Cullinan Boere-Unie: 082-552-9428 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; Lynette du Plessis, TLU SA Sentraal streek: 012-804-8031 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it ; Cornelius Jansen van Rensburg, uitvoerende hoof van AfriSake: 072-190-3866 of This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it of besoek www.afrisake.co.za.

 

© 2019 Die/The Bronberger