Op die plaas waar ‘iets gebeur het’ PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Thursday, 19 March 2015 23:45
Untitled Document

Ek het ou Jos Herbst toevallig in Tweeling se Skipskop-kroeg ontmoet. Ek was daar om ’n laat ontbyt te geniet. Jos was daar omdat sy bakkie “in was vir ’n diens” en, weet hy te vertel, “sonder ’n bakkie kan ’n man mos glad nie boer nie”.

Dis toé dat hy my vertel het van die graf op sy grond tussen Petrus Steyn en Heilbron. Ek moet kom kyk, het Jos gesê. Dis iets om te sien. Dis iets wat lankal daar gebeur het, het Jos verduidelik.

Ons het ooreengekom dat hy my sou gaan wys as ek weer in die geweste is. Dis só gemaak toe ek op ‘n dag weer in die geweste is en ek ontmoet vir Jos op ‘n warm Vrystaatse somerdag by die BP garage op Petrus Steyn.

“Die dorp het mos lankal nie meer 'n wit kroeg nie,” het Jos verduidelik. Ons koop ‘n koue rooi koeldrank by die petroljoggie. Jos ry voor met sy bakkie en ek is agterna.

Jos se plaas “waar iets gebeur het”, lê ‘n goeie 25 kilometer die veld in op een van die Vrystaat se ‘S’ paaie. Niemand kon my nog sê waarvoor daardie S voor die nommer op die padbordjies staan nie.

Later vra ek vir Jos en nee, hy weet ook nie presies nie, maar dit moet seker maar ‘S’ vir ‘Stof’ wees, reken hy.

Hoe ook al, die S-pad vat ons met baie draaie en nog meer hekke tot op die plaas. Dis ’n baie besonderse plaas dié van Jos. Die opstalletjie sit teen ’n kliprant. Voor jou strek ’n reuse pan uit – droog, met tekens van groen kweek wat kol-kol daarop uitslaan.

Die pan is vol wildtroppe. Bokke van die spring en bles soort en wildebeeste – blou en swart. ’n Serengeti in die kleine, kan jy maar sê. Doer ver aan die oorkant vorm nog ’n kliprantjie die pan se oosgrens. Dis daar waar die graf lê, sê Jos. Teen die oorkantste rantjie. Dis waar dit gebeur het.

Ons steek die pan met die bakkie van die suidekant af oor. Oral voor ons uit vlug bokke verskillende rigtings in. Ver voor ons uit – oop-en-toe. Jy kan sien hier word gejag op dié plaas. En dan, teen die skuinste die rant uit tot waar die graffie binne in ’n geroeste omtraliegeit lê: ’n Vergete graf in die Vrystaatse vaalgras. En op die verslete grafsteen kan jy nog die inskripsie lees: ‘Susanna Catharina J V Rensburg: 1853 – 1865’. ‘n Blote kind, dink ek. En dan, onder dit, staan daar uit klip gekap: “Vermoord door het k. . . . . .”

“Sien jy nou,” sê ou Jos. “Niks het verander nie.”

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online