Muishonde baljaar in museum se tuin PDF Print E-mail
News - Artikels
Thursday, 19 March 2015 23:43
Untitled Document

Cullinan se gestreepte muishonde het hulle in die McHardy Huis-museum se tuin tuisgemaak. Dié sosiale diere bly in groepe wat volgens ‘n matriargale stelsel werk en siekes, verswakte oues en onbeholpe jonges beskerm.

As die groep in gevaar is, sal hulle vir ‘n vinnige ontsnappingsroete soek. As dit nie moontlik is nie, vorm hulle ‘n groepie en druk die jongste en swakste muishonde na die middel.


Die muishonde se skuiling is in ‘n pyp onder die museum

Dié diertjies is nomadies en gebruik skuilings dikwels net vir ‘n paar dae voor die groep aanbeweeg. Afhangende van die beskikbaarheid van kos, is ‘n groep se gebied omtrent 80 hektaar groot.

Hulle stapelvoedsel is insekte, maar hulle vang ook soms rotte en muise, slange, akkedisse en voëls, en vreet eiers en wilde vrugte. Kos wat harde doppe het, soos eiers of slakke, word of in die lug op gegooi, of tussen die agterpote deur, teen ’n klip.


Die muishonde by die McHardy Huis-museum
Foto’s: Elsabé Maré

Prooi met giftige stekels, omhulsels of velafskeidings, soos paddas, word in die grond rondgerol tot die stekels of velafskeidings afgevryf is.

Kleintjies kan aan enige wyfie in die groep soog en word deur alle groeplede rondgekarwei. As die groep die skuiling verlaat om te gaan prooi soek, sal een wyfie vir elke agt kleintjies agterbly om na hulle om te sien. Daar bly ook ‘n volwasse mannetjie agter om na die kleintjies en wyfies te kyk.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online