Maklik om te hoor, moeilik om te sien PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 20 March 2015 01:39
Untitled Document

Ooit gedink dis moontlik om ‘n helderkleurige voël mis te kyk? Die swartkopwielewaal is nogal moeilik om raak te sien omdat sy gekose blyplek in die digte blare van hoë bome en dik bosse is. Kanse is goed dat jy hom sal hoor lank voor jy hom kan sien.

Dié algemene standvoël se gewone roep is ’n helder vloeiende fluit en hy uiter ook ’n skor alarmroep, “tjurr”.


Die swartkopwielewaal
Foto: Wikipedia

Die swartkopwielewaal, Oriolus larvatus, is ‘n geel voël van 25 cm lank wat aan sy swart kop en koraalrooi snawel uitgeken word. Van ver af kan hy met die skaars groenkopwielewaal verwar word, maar hy het ‘n geel, en nie ‘n groen rug nie.

Die geslagte lyk eners en die onvolwassenes is sonder die koraalrooi snawel en die kop is donkerbruin met swart vlekke.

Hierdie voëls kom een-een of in pare voor in klam, goed ontwikkelde bosveld of gemengde bosveld, oewerbos en uitheemse plantasies. Hulle is lawaaierige voëls wat die droë sentrale en westelike streke van Suider-Afrika vermy.

Die swartkopwielewaal vreet ‘n verskeidenheid insekte, vrugte, nektar en sade en voer dikwels saam in ‘n gemengde swerm spesies bo in ‘n boomtop.


Die swartkopwielewaal van agter
Foto: Wikipedia

Nessie
Die nessie is ‘n diep koppie, amper soos ‘n sakkie, wat met spinnerakke, korsmos, oumansbaard, mos, gras en klein takkies gemaak word. Die nessie hang aan die eindpunte van dun takke of in die vurk van ‘n horisontale tak, weg van die hoofstam, omtrent ses tot nege meter op in die boom.

Hulle broeiseisoen is van September tot Februarie, met ‘n piek van September tot Desember. Die wyfie lê twee tot drie eiers wat na 14 tot 16 dae uitbroei.

Die kuikens word met ‘n verskeidenheid kossoorte gevoer, insluitende die verbleikte ringe van duisendpoot-eksoskelet. Hulle verlaat die nes na 14 tot 18 dae.

 

© 2019 Die/The Bronberger