Katjiepiering is Gardenia se wilde neef PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Friday, 20 March 2015 01:38
Untitled Document

Waar die ‘katjie’ of die ‘piering’ in die bosveldkatjiepiering se naam vandaan kom, weet nugter alleen. Onder bosvelders is dié boom meer bekend as die koedoeklapper omdat koedoes so lief is vir sy peule.

Die bosveldkatjiepiering groei wild teen die hange van die Bronberg, soms reg langs die tuine waar sy neefs en niggies deur ywerige tuiniers Gardenia genoem word.

Gardenia is ‘n genus van ongeveer 250 spesies struike en bome wat in Afrika, suid-Asië en Australasië voorkom. Hulle is almal gewilde tuinplante en een van die bekendstes is Gardenia augusta uit die ooste, wat baie hier gekweek word.


Die houtagtige vrugte is grys-groen

Daar kom egter ook sewe inheemse soorte, wat baie makliker as die uitheemse soort groei en boonop droogtebestand is, in suidelike Afrika voor.

Hulle is Gardenia cornuta, G. lutea, G. imperialis, G. resiniflua, G. ternifolia, G. thunbergia en G. volkensii wat die bosveldkatjiepiering of koedoeklapper is. Die bosveldkatjiepiering is ‘n groot struik of klein boom wat ongeveer agt meter hoog word. Soos die ander Gardenias het hy ook wit blomme wat heerlik ruik, maar hy dra ronde, houtagtige saadpeule waaroor olifante, ape, bobbejane en bokke, veral koedoes, baie lief is.


Die bosveldkatjiepiering se soet-gegeurde wit blomme

Doepa
Die bosveldkatjiepiering is tradisioneel in baie doepas gebruik. Sy wortels en vrugte word as braakmiddel gebruik. As van verbrande wortels word op die bors gesmeer vir longontsteking, ‘n afkooksel word gedrink vir epilepsie, in die oë of ore gedrup vir oog- of oorpyn, of gebruik om ‘n koue kompres vir die voorkop te maak vir hoofpyne.

Die wortels en vrugte word in die behandeling van onvrugbaarheid en siektes soos asma gebruik. Daar word ook geglo dat die bosveldkatjiepiering ‘n mens teen donderweer sal beskerm.


Die blare is drie-drie gerangskik aan die punte van kort, stywe sytakkies

Hout
Dié semi-bladwisselende boom het gewoonlik meer as een stam. Die hout is wit, fyn gegrein en hard.

Die digte kroon bestaan uit stywe takke wat gewoonlik soos besemstokke in allerhande rigtings wys. Die kroon kan ook soms gerond wees.

Die bas van ouer stamme word lig grys en dop later af om ligte bruin en groenerige kleure te onthul. Die hout is hard en swaar en kan vir houtsneewerk gebruik word.

Die blare, wat drie-drie aan die punte van kort sytakkies gerangskik is, is ‘n groot gunsteling onder vee en wild.

Enkele soet-gegeurde wit blomme, wat tot 10 cm in omtrek word, bedek die boom van laat winter to vroeg somer.

Die houtagtige vrugte is grys-groen en gerond met riffels wat in die lengte van die vrug afloop. Hulle word tot 6 cm in omtrek en 5 cm lank. Die vrug bevat saad in ‘n bruin vrugtemoes. Hulle bly vir ‘n lang tyd aan die boom.


Die bosveldkatjiepiering het gewoonlik meer as een stam

Kweek
Die bosveldkatjiepiering groei maklik van saad of stiggies. Die saad moet skoongemaak word en in saailingbakke, wat met ‘n 70/30 riviersand en komposmengsel gevul is, geplant word.

Plaas die saad bo-op die mengsel en bedek dit met ‘n dun lagie sand. Die saad begin na ongeveer twee weke ontkiem.

Die saailinge moet uitgeplant word as hulle die drie-blaar stadium bereik en dit is belangrik dat die groei-medium goed kan dreineer.

Die plantjies groei aanvanklik stadig, maar begin na die derde of vierde jaar vinniger groei. Jong plante moet vir die eerste twee tot drie jaar teen ryp beskerm word. Die bosveldkatjiepiering kan gematigde droogte weerstaan, maar sal beter groei as hy genoeg water kry, veral terwyl hy nog jonk is.
Die boompie sal na omtrent vier jaar begin blom.

Die bosveldkatjiepiering maak ‘n goeie tuinboom omdat hy nie so groot word nie en sy wortelstelsel nie plaveisel of swembaddens laat kraak nie. Hy groei amper orals in goed gedreineerde grond.

 

© 2019 Die/The Bronberger