Rowers slaan weer toe op Cullinan se plotte PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 15 October 2008 20:55
Untitled Document

Vyf inwoners van ’n hoewe en plaas in die Cullinan-omgewing is die laaste naweek in September vermoedelik deur dieselfde bende rowers oorval, aangerand en beroof.

Die Vrydagnag is Jan en Lizette Kotze van ’n hoewe in Jakkalsdans deur vier rowers in hul bed oorval. Hul het wakker geskrik toe die rowers met ’n flitslig op hul gesigte geskyn het. Jan het met sy aanvallers begin stoei, waarna die rowers hom en sy vrou oorrompel het. Die rowers is weg met ’n 9 mm pistool,’n jaggeweer uit die Kotzes se kluis, ’n skootrekenaar en twee selfone.

Die egpaar het hulself losgewikkel en die polisie ontbied. Die polisie het kort daarna die jaggeweer in die veld op die hoewe gevind. Nog ’n egpaar wat op ’n plaas in De Wagensdrift werk en woon, asook ’n manlike werknemer, is dieselfde naweek deur vier rowers aangerand, vasgebind en beroof. De Wagensdrift grens aan Jakkalsdans.

Die egpaar is oorval terwyl hulle geëet het. Hulle is met vuurwapens teen die kop geslaan en na die plaas se administratiewe gebou gesleep. Langs dié gebou is daar ’n kamertjie waarin nog ’n plaaswerker slaap. Hy is ook deur die rowers aangerand en vasgebind.

Die rowers het by die administrasiegebou ingebreek, die kluis met ’n pik oopgebreek en ’n onbekende bedrag geld gesteel. Blykbaar het hulle aanhou vra waar die ‘baas en die geld’ is.

Een van die werkers het sy werkgewer van sy selfoon gebel, maar die rowers het hom hoor praat en gesê: “As jou baas hier kom, gaan ons hom doodmaak." Die werkgewer het gehoor wat hulle sê en die polisie en sy buurman gebel. Die rowers het ’n voertuig probeer steel. Toe hulle dit nie kon regkry nie, het hulle ’n skoot afgevuur en gevlug.

 

© 2019 Die/The Bronberger