Oop kaarte PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Thursday, 19 March 2015 23:15
Untitled Document

Met hierdie uitgawe is dit die tweede keer wat ‘n geanimeerde kaart van Cullinan oor twee bladsye van die Bronnie verskyn. Die kaart dui sekere ondernemings in die dorp aan en inligting oor dié ondernemings word in die omvouteks gegee.

Dit het aanvanklik nogal kophou en kopkrap gekos om dié projek met sy tientalle deelnemers na wense en betyds gereed te kry, maar ons (en ander) meen dat dit ‘n sukses is en baie kan bydra om te help met die bevordering van toerisme in die gebied.

Een ding wat die kaart reeds in sy kinderskoene vermag het, is om die mense van die omgewing aan die praat te kry.

Ons het baie navrae, komplimente en versoeke van mense gekry wat iets soortgelyk oor hulle bepaalde omgewings geplaas wil hê.

Meestal blyk die gesprekke wat die Cullinan-kaart ontlok het, opbouend en positief te wees, maar dit het ongelukkig weer stof tot strooipraat vir ‘n klein groepie gifsaaiers gegee.

Die stories deur die nydige skinderbekke in ons midde en die saampraters wat met hulle meeloop, maak dit vir ons nodig om sekere feite oor dié advertensie hier duidelik te maak – oop kaarte te speel, kan jy maar sê:

  • Ja, dit is ‘n betaalde advertensie. Elke onderneming wat meedoen aan die projek betaal ‘n sekere bedrag om die koste van ‘n dubbelblad-advertensie te delg.
  • Die voorstel om die advertensie die lig te laat sien, het van ‘n sakemens uit die dorp gekom (baie dankie) en ‘n paar deelnemers het gehelp (baie dankie) om die konsep aan mede sakemense bekend te stel en om mense se inligting te verkry.
  • Nie een van die deelnemers word iets betaal uit die projek nie.
  • Ons het ons uiterste gedoen om almal binne die sakegebied wat deur die kaart gedek word, om deelname te nader en ons glo almal is die kans gegun. Niemand is om sekere duistere redes uitgelaat nie en niemand is onregverdiglik bevoordeel nie, of benadeel nie.
  • Dit word beplan om dié advertensie oor ses uitgawes te laat strek en aan te pas soos wat deelnemers aansluit.

Die skindergeleentheid wat dié advertensiekaart aan die ewig soekende gifsaaiers gegee het, het ook tot baie persoonlike en erg lasterlike bogstories aanleiding gegee. Ons is bewus van hierdie uitlatings en weet wie sekere van die bogstorie-vertellers is.

Dit moet dalk ernstig oorweeg word om die Bronnie se groter lesersgemeenskap ook hiervan bewus te maak.

Dit is nie ‘n vreemde verskynsel vir mense in plattelandse gemeenskappe om oor mekaar en mekaar se dinge te praat (skinder) nie. Maar die gewoonte om ook met mekaar te praat voor wilde gerugte versprei word, sou wenslik wees.
 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online