My voorstelle vir standbeelde Print E-mail
News - Briewe
Friday, 20 March 2015 01:09
Untitled Document

Nilo Botha van Wapadrandlandgoed skryf:
Ek lees dat mnr Blessing Manale, woordvoerder van Tshwane Burgemeester Ramokgopa, in die media sê dat daar standbeelde van prominente persoonlikhede van die hede en verlede by die Pretoriase Stadsaal opgerig word.

Hier is my voorstelle aan die burgemeester vir standbeelde:

  1. Musi – die Ndebele (Nzundza) hoofman wat sedert 1699 by Wonderboompoort gewoon het. Hy het nie ʼn seun Tshwane gehad nie – dis ʼn verdigsel. Sy nasaat Magodongo is deur Mzilikazi vermoor, en die res van die stam het onder leiding van Mabhogo (Mapoch) na Roossenekal gevlug. (Kyk na ‘The Ndebele History’ by http://www.sahistory.org.za/ndebele-history.)
  2. Veldkornet AP van der Walt, wat in 1850 op die walle van die Apiesrivier sy hartbeeshuisie gebou het. Hy het die plase Elandspoort, Groenkloof, Waterkloof, Hartbeespoort en Daspoort geïnspekteer en afgemeet en ʼn kaart ingedien. Hy was ook die geregsbode, balju, markmeester, skutmeester en waterfiskaal, en werwer van arbeiders by Kaptein Seleika in die weste van die ZAR.
  3. AF du Toit, wat die eerste man was wat in 1857 landmetergereedskap na die ZAR gebring het. Daarvoor het hy ʼn Basoetoeponie van die president gekry. Hy het sy tuiste Arcadia gedoop.
  4. Jan Smuts, wat in 1881 op 29 jarige ouderdom staatsprokureur van die ZAR geword het.
  5. JH Pierneef – die grootste skilder wat SA opgelewer het is op 13 Augustus 1886 in Pretoria gebore.
  6. JJ Kirkness, wat sy steenmakery in 1890 begin het en die stene vir die ZAR voorsien het om Kerkplein te bou.
  7. HC Jorrisen – eerste bankbestuurder van Nedbank in Pretoria. Hy stel die Pretoriase munisipaliteit aan wêreld kapitaalmarkte bekend.
  8. Loftus Versveld, wat in 1920 vir rugby ʼn tuiste in Bereapark gevind en die eerste rugbyveld in die Transvaal met kikoejoegras geplant het.
  9. Hendrik van der Bijl – die stigter van Eskom en Yskor.
  10. Dr Basil Schonland – die stigter-president van die WNNR.

Miskien ook ʼn paar legendariese sportmanne soos Naas Botha (Hoërskool Hendrik Verwoerd), Joost van der Westhuizen, gebore in Pretoria en skoolgegaan in FH Odendaal, Roland Schoeman, Olimpiese goue medalje swemmer, en Cameron van der Burgh, Olimpiese swemkampioen.

Alhoewel Andries Pretorius nooit in Pretoria gewoon het nie, maar op Grootplaats by die Hartbeespoortdam, het sy seun MW Pretorius die hoofstad van die ZAR na hom vernoem.

 

© 2020 Die/The Bronberger