Mooi loop, ou Schef Print E-mail
News - Ons Mense
Wednesday, 15 October 2008 22:48
Untitled Document

Schef (Hercules) Scheffer is op Vrydag 19 September in die ouderdom van 44 jaar aan ’n hartaanval oorlede. Hy was vroegoggend in sy werksbakkie op pad Warmbad toe, toe hy skielik die hartaanval gekry het.

Dié bekende en beminde Bronberger se dood laat ’n groot leemte in ’n gemeenskap waar hy bekend was as iemand wat altyd gereed was om ander te help. Soos een vriend dit gestel het: “’n Mens kon dit nie help om sommer net van ou Schef te hou nie.”

Baie mense het Schef leer ken toe hy en Arna ’n onderneming, Langa Voere, in die Zwavelpoort-sentrum bedryf het en ’n kleiner tak in Atterburyweg-verlenging. Hy het die laaste maande voor sy dood vir Blue Spinach Marketing gewerk. Schef was vroeër ’n offisier van 32 Bataljon waar hy met groot toewyding en dapperheid sy troepe in Angola se bosse aangevoer het. Op sy roudiens het twee hoë offisiere van 32 Bataljon hulde aan hom betoon. Schef was so beskeie, dat die geleentheid van sy roudiens die eerste keer was wat baie mense van sy dae as soldaat te hore gekom het.

Dié emosionele roudiens, wat by die Lewende Woord kerk in Brummeria gehou is, is deur ’n groot groep Bronbergers bygewoon wat, na afloop van die diens, vir Schef ’n ‘sinking’ by een van die gebied se gewilde kuierplekke gehou het. Schef laat drie dogters, Eliztene, Alindi en Zelmari, agter.


Die Scheffer gesinsfoto was deel van die Langa Voere-advertensie wat die eerste keer in Maart 2003 in Die Bronberger verskyn het

Schef Scheffer

.
.

 

 
Besoek die Suid-Afrikaanse Departement van Gesondheid se webwerf vir alle amptelike inligting en opdaterings rakende COVID-19 by www.SAcoronavirus.co.za

© 2020 Die/The Bronberger